Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 4 min read
Vrydag, 25 Maart 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (2)
Die wet ontmasker die sonde
Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, 10 en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. 11 Die sonde wat deur die gebod ‘n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. 12 Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.”
Vergelyk ook Jak. 2:10 – “As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.”
Andrew Murray hou aan ons voor dat “God se wet soos Hy dit aan Moses gegee het, nooit verander het nie, en ook nooit sal verander nie. Dit is voortdurend en vir ewig dieselfde. Die wet soos deur God ingestel, sal nooit vir die mens se swakheid verskoning maak nie. Dit is absoluut – vir tyd en ewigheid!” En wanneer ons dít eers besef, word ons lewe eintlik ‘n tragedie. Die oomblik wanneer ons dít besef, oortuig die Heilige Gees vir ons soos vir Paulus, van sonde: “Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, en ek het gesterwe.”
Die storie word vertel van een van Spanje se briljantse matadors, wat tydens ‘n stiergeveg ‘n tragiese fout gemaak het toe hy sy laaste swaard in die sterwende bul ingedruk het. Die bul het inmekaargesak en José het gedink die bul is dood. Hy het omgedraai na die skare om hulle applous te geniet. Die bul het egter opgestaan, gestorm en sy horing in ‘n niksvermoedende José se rug ingeboor en José noodlottig beseer. Net wanneer ons dink dat ons dit oorwin het, staan sondige begeertes weer op, kry ‘n vastrapplek en deurboor ons van agter af. Dit is fataal om te dink dat ons sondige natuur dood is en daarom moet ons tot op ons sterfdag, waak en bid daarteen.
Wanneer die Heilige Gees ons van sonde oortuig, bring dit altyd ‘n veroordelende gevoel van die wet mee. Soos vir Paulus, behoort dit vir ons ook te voel asof die sonde begin lewe, en ons sterf. Dit is onmoontlik dat ons in hierdie lewe reeds ten volle verlos kan word van alle bose begeertes. Niemand van ons is in staat om God perfek te gehoorsaam nie. Dit is die erfsmet van Adam wat ons aankleef. Dit is egter ook verkeerd om te redeneer dat God ons perfek wil maak. In ons gebroke wêreld sal dit nie gebeur nie. Nee, daar is maar net een manier hoe ons met God kan regmaak, en dit is deur Jesus Christus. Ons verlede is wel saam met Christus gekruisig en lê daarom agter ons, vergete vir God deur Jesus Christus.
Paulus kom tot die gevolgtrekking dat die fout dus nie by die wet lê nie. Hy reken “die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.” Jakobus voeg by dat die wet van God ’n eenheid is en om te “struikel ten opsigte van een gebod” is ’n vergryp teen die hele wet, dit wil sê teen al die gebooie. Dit is geen wonder dat die laaste van die Tien Gebooie wat Paulus as voorbeeld gebruik, begeerte verbied. Die slegte begeertes van die mens se hart staan teenoor die liefde tot God en die liefde tot die naaste wat die bedoeling van die hele wet van God is.
Slegte begeertes wat afgodery is (Kol. 3:5), is ‘n wantroue in God se voorsienigheid. Wie iets ánders begeer as wat God beskik, ontken dat God in sy of haar behoeftes kán en sál voorsien. Alle begeertes is egter nie slegte begeertes of sonde nie. Daar is ook goeie begeertes: “Ek dors na God, na die lewende God ...” (Ps. 42: 3). In Psalm 27:4 begeer Dawid om al “sy dae van sy hele lewe te mag woon in die huis van die Here om Sy goedheid te mag belewe.” Selfs Jesus het ‘n begeerte gehad om saam met sy dissipels die paasmaaltyd te vier (Luk. 22:15). Goeie begeertes is dié wat aan God se wet beantwoord en langs ‘n geoorloofde weg vervul word. Dit is byvoorbeeld om ‘n begeerte te hê na vervulling van ons daaglikse behoeftes; na liefdevolle gemeenskap met God en ons naaste, en dan dit te bely en daarvoor te bid.
Wanneer ek en jy doelbewus kies om God te gehoorsaam, sal Hy na die uiterstes van die aarde gaan om ons tegemoet te kom met sy almagtige krag. God se doel is nie om ons perfek te maak nie. Hy bring ons tot by die plek waar Hy ons kan gebruik, en met ons dan doen soos Hy wil. Laat ons dan saam met Dawid getuig: “Om U wil te doen, my God, is my een begeerte ...” (Ps. 40:9).
“Die loon van die sonde is die dood. Goddank dat Jesus my bevry het voor betaaldag aanbreek”
(Reamer Loomis).
Gebed: Here, soos Dawid is my begeerte om uit dankbaarheid, elke gebod na te leef want ek was al met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (Ps. 51:7). Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Ps. 51:12). Laat U Gees my gedrag bepaal want ek behoort aan U. Dankie dat U my sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes, saam met U gekruisig het (Gal. 5:24-25). Amen.
Recent Posts
See AllDonderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Comentarios