top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 15 minutes ago
  • 5 min read

Sondag, 20 April 2025

Koos Espach


Jesus se pad na glorie

 

Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag


Joh. 20:1-2 – “Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2 Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: ‘Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie. 3 Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan... (Lees Joh. 20:1-18).”

 

Volgens die ander Evangelies het drie of vier vroue daardie Sondagoggend na die graf gegaan (Matt. 28:1; Mark. 16:1; Luk. 24:10), waaronder ook Maria Magdalena. Johannes vertel net van Maria Magdalena, waarskynlik omdat Jesus eerste aan haar verskyn het. “Die Sondagmôre vroeg kom sy (hulle) by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is.” Sy vind geen lyk in die nuwe graf nie. Sy kon nie ‘n fout maak nie, want net Jesus se lyk was in daardie graf. Daardie Sondagmôre is die betekenisvolste ontdekking in menseheugenis gemaak: Jesus se graf, daar waar Josef van Arimatea en Nikodemus Hom Vrydagaand weggelê het, was leeg!

 

Maria Magdalena se uitasem-boodskap aan Petrus en Johannes het algehele verwarring tot gevolg. Sy het gedink iemand “het die Here uit die graf weggevat ...!" Hulle hardloop na die graf, Johannes vinniger as Petrus omdat hy jonger was, en die “geliefde dissipel” word die eerste getuie van die opgestane Here! Hy loer by die graf in en sien die doeke daar lê, en Johannes besef dat daar iets ongewoons gebeur het. Die Persoon vir wie die doeke bedoel was, het dit nie meer nodig gehad nie.

 

Getrou aan sy geaardheid, steur Petrus hom nie daaraan dat grafte as onrein plekke beskou is nie. Hy huiwer nie om die graf binne te gaan en noukeurig rond te kyk nie. Die graf is leeg, maar die grafdoeke is nog daar, nie in wanorde nie maar netjies bymekaar. Die doek wat om Jesus se kop was, lê eenkant opgerol. Iemand wat die lyk sou wegvat of steel, sal nie moeite doen om die doeke netjies te laat nie. Aangespoor deur Petrus se voorbeeld, gaan Johannes ook die graf binne en sien alles wat Petrus sien, "en hy het geglo" (Joh. 20:8b).

 

Johannes vertel vir ons hier in Johannes 1:1-18, dat sewe keer, iemand iets “gesien” het by die graf van Jesus: Maria Magdalena “sien die klip is weggerol” (v. 1); Johannes kom daar en “sien die doeke lê” (v. 5); Petrus gaan die graf binne en “sien die doeke ...” (v. 6); Johannes gaan ook in en het “gesien en geglo” (v. 8); Maria “sien twee engele ...” (v.12); sy draai om en “sien Jesus staan” (v. 14) en sy vertel uitbundig aan die dissipels: “Ek het die Here gesien!” (v.18). Elke keer “sien” iemand iets, maar elkeen se “sien” verskil – hulle “sien” maar verstaan nie juis elke keer nie! 

 

Soos die vrou(e) en dissipels het ons ook in die leë graf ingekyk, "iets gesien", en die verlatenheid daarvan, gee ons hoop. Ons leef met die wete dat Jesus Christus waarlik opgestaan het en dat sterflikheid saam met Hom opgestaan het. Die dood kon Hom nie vashou nie – die leë graf bevestig ons Verlosser lééf! Dit beteken Jesus Christus moet dus êrens leef, en dit kan nie anders wees as ín óns, wat in Hom glo nie. Die krag van Jesus se opstanding is dieselfde krag wat ons van God ontvang om in sy opstanding te glo en dit te bely, en so vorm ons die kerk. Ons gelowiges maak só saam die koninkryk van God sigbaar, ten spyte van ons verskille, ten spyte van die feit dat ons ook nie altyd verstaan nie.

 

Die krag van Jesus se opstanding is die krag van ons gelowiges se weergeboorte! Paastyd is opstandingstyd, vernuwingstyd. “As Christus nie opgewek is nie, is (ons) geloof waardeloos en is (ons) nog gevange in (ons) sondes” (1 Kor. 15:17). Die krag van Jesus se opstanding is dieselfde krag wat ons vrees soos die soldate wat die graf bewaak het (Matt. 28:4), en ons ontnugtering, soos die vrou(e) en dissipels, wegneem. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net die dood en satan oorwin nie, maar al ons lyding, swaarkry, dinge wat die lewe vir ons ondraaglik maak, oorwin en daar by Sy graf gelos!

 

Sewe keer het Maria Magdalena en die dissipels daar by die graf iets “gesien!” Hoe sien ek en jy vir Jesus? Sien ons werklik ons redding in die lydensgebeure en opstanding van Jesus ráák, of “sien” ons sonder om regtig ráák te sien? Ons belydenis dat Jesus opgestaan het, moet sigbare dade word, dat Jesus in ons leef, dat ons anders as die wêreld is omdat ons saam met Christus opgestaan het en nou nuwe mense is. Dat ons saam met Paulus sal “sien” én verstaan: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:17-18).

 

As ons dus aan die ou mens met ál sy sondes bly vasklou, laat ons Jesus Christus steeds aan die kruis hang, los ons Hom steeds in die graf en maak ons Sy opstanding, iets wat nooit gebeur het nie! En glo ons saam met miljoene ander dat daar nie ‘n nuwe lewe anderkant die graf is nie! Klou jy aan Hom vas wat die dood oorwin het?

 

“Christus het alles wat toe was, oopgemaak ... Ook die donker van hierdie wêreld se deur sodat ons ‘n toekoms kan hê. Ons lewe eindig nie meer met ‘n Vrydag, of met ‘n Saterdag in ‘n kerkhoftuin, maar met ‘n Sondag, met die opstanding uit die dood” (Murray Janson).

 

Gebed: Jesus Christus, ek juig vandag oor U onsterflikheid. Ek juig omdat U die dood gedood het. Dankie opgestane Heiland dat U opstanding my weergeboorte moontlik gemaak het. As nuwe mens maak ek die deur van my hart oop vir U want ek weet U sal my vertroos en versterk en my deur die donker dieptes van hierdie lewe lei. Vergewe my wanneer ek bang word, soms magteloos voel, want dit is dan dat ek dink ek is alleen en verlate in hierdie harde wêreld. Dit is wanneer ek die stryd met my eie krag wil aandurf. Here, lei my dan net weer na U leë graf en maak my ontvanklik vir U belofte: “Ek is met jou al die dae ...!” Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus   Elke dag ‘n getuie van Jesus   Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page