Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 5 days ago
- 4 min read
Maandag, 14 April 2025
Koos Espach
As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025.
Die reiniging van die tempel
Die liefde vir God se “Huis van Gebed”
Mark. 11:15-17 – “Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 16 En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie. 17 Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: ‘Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”
Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag op ‘n donkie se rug, “het die hele stad in beroering gebring” (Matt. 21:10). Israel het verwag dat die Messias van die Olyfberg af na die stad sou kom en Hom by die tempel aan die volk bekend stel. Jesus en sy dissipels wend hulle dan na die tempel, die belangrikste aanbiddingsplek, die plek waar die priesters, daagliks vir die volk se sondes offers aan God moes bring. In die tempel behoort die Messiasverwagting by die godsdiens-leiers immers tot volwaardige uiting te kom.
Maar wat tref Jesus by die tempel aan? In plaas van priesters in stemmige gebedshouding, loop Jesus Hom vas in 'n onrustige gewerskaf waar paasfeesgangers koorsagtig besig is om geldelike transaksies te beklink. Volgens die Johannes-evangelie, vind Hy “op die tempelplein verkopers van beeste, skape en duiwe (armes se offergawe) en die geldwisselaars wat daar sit” (Joh. 2:14). Hulle het voorgegee dat hulle aan die feesgangers ’n diens lewer deur offerdiere te koop aan te bied, maar in werklikheid het die priesters 'n winsgewende bedryf in die huis van die Here op die been gebring. Hulle was besig om hulleself te verryk ten koste van die feesgangers, en ook om die tempel vir ’n onheilige doel te gebruik. Beide die aktiwiteit van diere verkoop en geld omruil, het in die voorhof van die tempel plaasgevind. In albei transaksies is die pelgrims gruwelik uitgebuit!
Dit is dus begryplik dat daar groot bedrywigheid en heelwat lawaai in die tempel was toe Jesus daar aankom. Die gewyde atmosfeer was ru versteur deur die luidkeelse aanprysing van die koopware. Die tempel is van sy oorspronklike heiligheid gestroop. Johannes skryf “Jesus het met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en beeste” (Joh. 2:15). Markus meld dat Jesus “die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi het.” Daar word egter nie gesê dat Jesus inderdaad die sweep gebruik het nie. Veeleer dien dit as teken van sy gesag, en met daardie simbool van gesag tree Hy op met die gesag van ’n Koning.
Wat het Jesus so ontstel? Jesus maak beswaar omdat die klem verskuif het van God, na geld toe. Vir Jesus gaan dit om die ontheiliging van “die huis van my Vader” (Joh. 2:16). Die Jode wat so gesteld daarop was dat niks wat onheilig is, die tempel mag binnekom nie, sluit hulle oë wanneer dit om geldelike gewin gaan. Die probleem was dat die tempel (kerk) nie meer ‘n ontmoetingsplek met God was nie. In plaas van mense bewus te maak van God en sy teenwoordigheid, word Hy vervang met daaglikse rituele en word Hy onteer.
Jesus verskoon nie alles wat ons doen nie. Ons is sy nuwe 'tempels' en ons moet so optree ook. Maar, wanneer ons deur die “tempel” van ons eie lewe stap, is daar nie soms tye wat ons ander mislei nie? Gaan dit nie soms oor ons eie voordeel nie? Gaan dit nie soms oor jóú geloof in plaas van jou gelóóf nie? Gaan dit nie oor óns sang in plaas van sang tot eer van God nie? Geniet God nog voorrang in ons erediens of het dit ‘n Sondag-ritueel geword? Stap ons nie maklik uit die erediens uit, binne ‘n wêreld in waar ons maar net weer met ons alledaagse sondige lewe voortgaan nie?
Jesus het geen simpatie met diegene wat God vir hulle eie saak wil uitbuit nie, vir Hom gaan dit om die Koninkryk van God. Daarom wil Hy die tempel (kerkgebou) herskep in ‘n plek van aanbidding en ‘n plek waar God beleef en geleef kan word, ‘n plek waar ons tot vandag toe, gewillig na die Woord luister en gaan doen wat die Gees vra.
“Baie mense gebruik Jesus en die kerk soos baie met ‘n bus maak, hulle gebruik dit net wanneer dit in hulle rigting gaan” (Dale Campbell).
Gebed: Heilige Jesus, help my om deur U Gees ontslae te raak van alles wat in my lewe verkeerd is. Help my om my “tempel” te reinig sodat dit nie vir U nodig is om my tot orde te roep nie. Behoed ons van uitbuiting en hou ons kerkmense gehoorsaam aan U roeping vir ons. Amen.
Shalom – Mooi Loop – Koos en Renette Espach namens NG Fochville-Noord Gemeente
Recent Posts
See AllSaterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus Elke dag ‘n getuie van Jesus Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...
Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Comentários