Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 28
- 4 min read
Vrydag, 28 Maart 2025
Koos Espach
Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (2)
Beheer deur die Gees
Rom. 7:4-6 – “Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God. 5 Toe ons nog ‘n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. 6 Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”
Vergelyk ook Kol. 3:9-10 – “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10 en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.”
Paulus het gister aan ons die vryheid van die wet, aan die hand van die voorbeeld van ‘n huwelik, (‘n slegte huwelik), verduidelik. In hierdie huwelik is ons gelowiges, die vrou, terwyl die wet, die man is. Voor ons bekering, het ons onder die wet gestaan. Ons het egter saam met Christus aan die kruis gesterf en saam met Hom uit die dood opgestaan as nuwe mense. Ons gelowiges is nou deel van Christus se liggaam. Ons behoort nie meer aan die wet nie, (die slegte man in die huwelik), maar aan “iemand anders”, ‘n nuwe Bruidegom, Jesus Christus!
Hierdie Bruidegom het bewys dat Hy ons volmaak liefhet, Hy het Homself ten volle vir ons gegee, sy álles, sy lewe! Ons belange kom by Hom eerste, ons is ontslae van die “slegte huwelik” want Jesus Christus bied die volmaakte huwelik aan, vol van goeie vrugte. Ons is vry van “die sondige hartstogte wat in elke deel van ons liggame werksaam was en ons vrugte gedra het in diens van die dood.” Soos ‘n mishandelde vrou wat oplaas ware liefde gevind het, kan ons as bruid van Christus, nou vrede vind by God.
Ons opstanding in Jesus is egter nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan ééndag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut van Jesus se opstanding vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord in Kol. 3:9-10. Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan. Ons moet dus elke dag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes ‘begrawe’, en as ‘n nuwe mens soggens opstaan. Christus moet al hoe meer word totdat Hy volkome alles vir ons is.
As bruid van Christus behoort ons nou ‘n vrugbare lewe te lei in diens van God. Ons is nou vry van die “wet” en kan God “dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” Die Gees van God maak dit vir ons nuutgemaakte mense moontlik om God op ‘n heeltemal nuwe manier te dien – ‘n manier wat totaal anders is as toe ons as onverloste mense die letter van die wet probeer nakom het. Dit gaan oor 'n lewende verhouding met Hom as persoon. Ons “bly” immers saam met Hom – “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom” (1 Joh. 4:16).
Mag God ons deur die Heilige Gees begenadig om hierdie onpeilbare geheimenis vurig lief te hê. Wat beteken dit? Die liefde van God vir sy Seun, die liefde van sy Seun vir ons, die liefde waarmee ons die Seun liefhet, is dieselfde onbegryplike liefde wat God wil hê ek en jy moet openbaar aan ander om hulle ook vir God te ‘wen’. Hierdie liefde behoort aan almal wat lede is van die liggaam van Christus. Elke mens wat in hierdie liefde bly, bly in God en God in hom of haar. “Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees.” Sonder die Gees kan ons God nie behaag en ook nie vir ons medemens van waardevolle nut wees nie. Die Gees maak dit nou moontlik vir ons om God en ons naaste te dien op ‘n nuwe manier – ‘n manier wat totaal anders is as toe ons as onverloste mense die letter van die wet probeer nakom het.
“Jou skatkamer is binne-in jou wanneer die Heilige Gees in jou bly. Dit bevat alles wat jy ooit sal nodig hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite jouself te soek” (Onbekend).
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek deur U Gees in U kan bly. Ek bid dat U die vrug van die Gees in my lewe sal laat wortelskiet sodat dit sigbaar kan wees in alles wat ek doen. Amen.
Recent Posts
See AllDonderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Woensdag, 16 April 2025 Koos Espach GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024 As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus...
Maandag, 14 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
コメント