Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 26
- 4 min read
Donderdag, 27 Maart 2025
Koos Espach
Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (1)
Nuwe verbintenis
Rom. 7:1-3 – “Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor ‘n mens so lank as hy lewe. 2 Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind solank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. 3 Maar as sy ‘n ander man se vrou word solank as haar man lewe, sal sy as ‘n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie ‘n egbreekster as sy ‘n ander man se vrou word nie.”
Vergelyk ook Gal. 2:19-20 – “Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”
Paulus begin met ‘n beroep op die feit dat alle gelowiges nou onder die heerskappy van Christus staan en beheer word deur die Heilige Gees. Selfs die klein Christen-gemeente in Rome was “op hoogte van die wet”, in hierdie geval die burgerlike wet en sy bepalings oor die huwelik. Met daardie wetskennis het hulle geweet dat die eise van die wet vir die mens, net geld solank as wat hy of sy lewe. Ter illustrasie daarvan, voer Paulus die voorbeeld aan van die huweliksreg. Die implikasie hiervan is dat ‘n mens ná sy dood, nie meer aan enige wet gebind is nie.
Paulus verduidelik dan die mens se vryheid van die wet aan die hand van die voorbeeld van die huwelik. Hy gebruik die getroude vrou as voorbeeld maar kon ewe goed praat wat gebeur, met die dood van die man. In hierdie ‘huwelik’ is ons gelowiges die vrou, terwyl die wet, die man is. Hierdie huwelik is ‘n slegte huwelik. Die man (die wet) domineer die vrou (ons gelowiges) en reël haar hele lewe. Die ‘wet’ erken en waardeer ‘haar’ nie as ‘n lewensmaat nie. Die groot hartseer is dat ‘sy’ nie uit hierdie huwelik kan kom nie. ‘Sy’ kan nie skei nie, want dis teen die wet. Die enigste manier om uit hierdie huwelik vry te kan kom, is deur die dood. Die finaliteit van die dood bring ‘n veranderde situasie mee.
Paulus wil hierdie punt na vore haal om dit van toepassing te kan maak op ons Christene wat saam met Christus gesterf het en daarom vry is van die binding aan die wet. Ons kan nou ‘n nuwe verhouding met Christus aangaan. Die een wat deur die dood vry geword het van die wet, (die persoon wat saam met Christus gesterf het), kan ’n nuwe verbintenis met iemand anders, (die opgestane Christus), aangaan.
Wanneer ons ‘n nuwe verbintenis met die opgestane Christus aangaan, vind daar ‘n wederkerige verbondenheid plaas – “dit is nou nie meer ek en jy wat lewe nie, maar Christus wat in ons lewe.” Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy al God se kinders, vir my en jou ook, in daardie dood met Hom vereenselwig. Dan is dit logies dat ons nou in Christus vir die sonde dood is want die krag van Christus se dood werk in ons sodat ons vir God kan lewe. Die krag van sy dood en lewe werk in ons!
Paulus se gedagte dat hy “deur die wet, vir die wet dood is en nou nie meer hy is wat lewe nie, maar Christus wat in hom lewe”, herinner ons aan Romeine 6:11. Hy sê ons moet altyd onthou. Wat? Ons moet altyd onthou dat ook ons vir die sonde dood is, omdat ons een is met Jesus Christus. Die wet geld net vir ‘n mens solank hy lewe, nie meer as hy dood is nie. Ons is dus dood vir die sonde en vir die wet. Ons is nou vry in Christus en solank ons in Hom bly, het die sonde geen mag oor ons nie.
Christus leef nou in ons en daarom het die wet nou geen gesag meer oor ons nie. Dit is Paulus se ‘geheim’ vir ‘n ware geloofslewe. Die feit dat Christus sy lewe vir ons afgelê het, behoort ons geloof te versterk met die versekering dat Hy ons liefhet. Andrew Murray stel dit baie mooi: “Christus leef in ons, Hy en ons is ewig en onskeibaar een!”
Dit is byna te groot om te begryp of te glo, en tog is dit die waarheid van God. As kinders van God kan ons maar net met dankbaarheid elke dag in ons gebedslewe sug: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is U oordele en onnaspeurlik U weë. O diepte van die liefde van God in Christus.” Ons is vry van die wet omdat ons een is met Christus. Omdat ek en jy aan sy lewe deelneem, hoef ons nie op eie krag staat te maak nie. Ons ‘draf’ net saam. Maar draf dan!
“Om een te wees met Christus is geen wiegelied nie. Dis ‘n bloedoortapping vir ‘n oorwinnende lewe”
(Paul Harvey).
Gebed: Jesus, om in U te bly, is die regte plek vir my! Ek dank U Here vir hierdie onuitspreeklike gawe. Amen.
Recent Posts
See AllDonderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Woensdag, 16 April 2025 Koos Espach GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024 As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus...
Maandag, 14 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Commentaires