Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 24
- 4 min read
Maandag, 24 Maart 2025
Koos Espach
In diens van wat God wil (3)
Ware heiligheid
Rom. 6:19-20 – “Weens julle beperkte begrip gebruik ek ‘n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20 Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie.”
Paulus begin die Romeinse Christene tot orde roep deur te verwys na ‘n terugflits in hulle ‘vorige’ lewe. Dit blyk dat hulle voorheen losbandig geleef het deur “elke deel van hulle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid te stel.” Hy doen dan ‘n beroep op hulle om met dieselfde entoesiasme, elke vermoë tot hulle beskikking gebruik om hulle lewe in diens van God te stel. Met dieselfde ywer moet hulle elke deel van hulle liggame totaal in diens van God stel en heilig lewe. Hulle moet diensknegte van God word wat netso totaal aan sy wil oorgegee is, as wat hulle vroeër die sonde gedoen het.
Paulus se beroep op die Christene van destyds, is eintlik steeds van toepassing op ons ook. Hy praat nie met ‘n groep Christene wat bykans 2000 jaar gelede geleef het nie, hy praat met ons! Hy wys vir ons daarop dat “God ons nie geroep het om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe”, heilig soos God heilig is. En dit beteken dat ons elke liewe dag bewustelik daaraan moet werk om die sonde in ons lewens af te lê, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
Baie mense dink om heilig te lewe beteken om die sprankel van die lewe te verloor en elke vorm van lewensblyheid vaarwel toe te roep, om met lang en verstrakte gesigte rond te loop en jouself toe te vou in ‘n monniks- of nonnekleed. Dit is egter verrassend wanneer ons begin verstaan hoe die wese van God werk – “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). Om dus heilig te lewe beteken die Heilige Gees is besig om ons te maak en te verander, sodat ons al meer lyk soos die beeld van Christus.
Om “elke deel van ons liggame in diens van God te stel om heilig te lewe” is maklik om te ignoreer in 'n wêreld wat volgens ander standaarde leef. Ons vergelyk ons lewens dikwels met dié van mense in ons gemeenskap en besluit dan dat ons darem nie te sleg is nie. Ons kan onsself maklik wysmaak dat ons sonde darem nie so erg is nie. Ons hoef nie soos die wêreld te wees om op die wêreld 'n indruk te maak nie. Ons hoef ook nie tot hulle vlak te daal of hulle tot ons vlak te verhef nie. Ons hoef ook nie eienaardig te wees nie want heiligheid probeer nie om buitengewoon te wees nie. Heiligheid, inteendeel, probeer om soos God te wees.
Om “elke deel van ons liggame in diens van God te stel om heilig te lewe” is nie net beperk tot Sondae binne die kerkgebou of gereserveer vir die een of ander verhewe situasie nie. Inteendeel, heiligheid verafsku skynheiligheid, dit kan helder skyn wanneer jy enige plek betree, die haarsalon, supermark, skool, oral waar die karakter van God, in ons gesindheid geopenbaar word. Heiligheid skyn helder wanneer ons geduld beproef word in spitsverkeer; elke keer wanneer ek en jy luister na ‘n gebroke mens; elke keer langs of op die sportveld. Ja, óral kan die heiligheid van God in my en jou, geopenbaar word!
Niemand wat heiligheid of heiligmaking nastreef, sal ooit die lewe eentonig vind nie. Die oninteressante word vervang met opwindende uitdagings om volgens God se standaarde te probeer leef. Om erns te maak met ons roeping om heilig te leef, sal ons só besig hou dat daar nie tyd is vir terneergedruktheid nie. En hoe meer ons na heiligmaking streef, hoe groter word die invloed van die Gees in ons lewe. Dit is immers waarvoor God ons uitverkies het: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Ef. 1:4).
“Daar is net twee soorte mense: sondaars wat dink hulle is heiliges en heiliges wat weet hulle is sondaars” (Anoniem).
Gebed: Heilige Gees, skenk my die vermoë om heilig te lewe en skenk aan my die krag om dit tot God se eer te doen. Here, dis nie wat ék doen nie, maar wat U déúr my doen. Heilig asseblief elke daad en gedagte. Dankie Here, dat U my denke oopgemaak het sodat ek tot eer en verheerliking van U kan lewe in ‘n gebroke wêreld. Amen.
Recent Posts
See AllDonderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Woensdag, 16 April 2025 Koos Espach GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024 As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus...
Maandag, 14 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Comments