top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 19
  • 4 min read

Donderdag, 20 Maart 2025

Koos Espach



In diens van wat God wil (2)


Ons is nou reeds kinders van God


Rom. 6:17-18 – “Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18 Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.”

 

Vergelyk ook 1 Joh. 3:1a en 2b – “Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak – dit is nou liefde as daar ooit liefde was. 2b Ons is nou reeds kinders van God” (Die Boodskap).

 

Ons het gister gesien dat ons eers slawe van die sonde was voor ons Christene geword het. Daar is egter ‘n baie groot verskil tussen ‘n slaaf van sonde en ‘slaaf’ van God. Die gewone slaaf het geen ander keuse as om sy eienaar se bevele uit te voer nie, terwyl ‘n Christen se gehoorsaamheid aan God, vrywillig is. Ons “wat slawe van die sonde was, het van harte gehoorsaam geword”, terwyl die gewone slaaf nooit van harte gehoorsaam kan word nie, omdat hy altyd na vryheid hunker. Vir die troue gelowige is dit egter nie moeilik nie want die gehoorsaamheid en liefde kom tot openbaring in die gewilligheid, om die wil van die Here te doen.

 

Elke mens besit nog steeds die keuse van wie hy of sy ‘n slaaf wil wees: “As dit die sonde is, beteken dit die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe” (v.16b). Ons as gelowiges in Christus, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as sy kinders nie – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16) - "dit is nou liefde as daar ooit liefde was."

 

God bied Sy liefde in genade aan, deur middel van die Voorspraak, die Vertrooster, vir elke mens, maar dit is nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Hulle verkies eerder om God en die “Gees van die waarheid” (Joh. 14:17), buite rekening te laat wanneer hulle hul lewe organiseer. “As gehoorsame kinders moet ons nie ons lewe inrig volgens die begeertes wat ons vroeër gehad het nie. (1 Pet.1:14), maar “van harte gehoorsaam word aan die leer soos ons dit deur die oorlewering ontvang het,  vrygemaak is van die sonde en slawe van God geword het wat Sy wil doen.”

 

Daar is mense wat glo as God hulle vrygemaak het, is hulle vry om te doen wat hulle wil. Dit werk ongelukkig nie so nie! ‘n Regverdige leefwyse is nie vir ons Christene ‘n keuse nie. Dit is ‘n verpligting, ‘n opdrag vir elke kind van God. Noudat ons vry is om regverdig te lewe, moet ons die Heilige Gees toelaat om in ons ‘n geheiligde lewe voort te bring. Wat beteken dit? In plein Afrikaans: Moenie op die sonde se voorstoep speel nie. Johannes skryf: “Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg” (1 Joh. 3:7 – Die Boodskap).

 

Die wete dat ek en jy nie meer slawe van die sonde is nie, maar kinders van God is, gee aan ons lewe ‘n vaste basis. Ons dien God nie omdat ons bang is vir sy straf nie, of dalk om krediete op te bou wat ons in die toekoms kan gebruik as versekering dat dit met ons goed sal gaan nie. Nee, ons dien God omdat ons lief is vir Hom en omdat ons dankbaar is dat Hy “ons van die sonde vrygemaak” het deur Jesus Christus.

 

Hoe behoort ons dan as kind van God te lewe? Johannes wys daarop dat elkeen wat gedurig agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne dat hy of sy nie weet wie Jesus is nie, hulle het Hom nie gesien nie en ken Hom nie (1 Joh. 3:6). Kwaai woorde dié! Tog realisties né. Ons is kinders van God uit sy genade, maar nou moet ons darem die werklikheid daarvan vertoon. Iemand wat die kleure van ‘n bepaalde span dra, wys vir almal dat hulle ‘n kontrak met die unie van daardie span gesluit het. Dit is ondenkbaar om as kind van God met die kleure van die tradisionele vyand te speel. Ons hoort nie daar nie. As ons egter aanhou sondig, wys ons dat ons God nie regtig ken nie, dat ons nie regtig in sy span tuishoort nie.

 

Mense kan duidelik sien wie kinders van God is en wie kinders van die opposisie is. Hulle lewe wys dit. “Ons is nou reeds kinders van God”, ons gaan dit nie eers eendag word wanneer ons by die hemelpoorte ingaan nie. Kom ons wees dan in die wêreld wat ons reeds is. Kom ons vertoon die spandrag en kentekens van die span waarvan Jesus Christus die Kaptein is. Deur die liefde van God elke dag uit te leef en die stryd teen die sonde met volgehoue toewyding voort te sit, wys ons “dat ons van die sonde vrygemaak is en slawe (kinders) van God geword het wat sy wil doen.” Ek en jy wys dan waar ons lojaliteit tuishoort. Dit bewys ons kindskap van ons lewende Vader. 

 

 “Om ‘n slaaf van God te wees, is beter as enige vryheid” (Chrisostomus).

 

Gebed: Hemel Vader, dankie dat ek my geloofsekerheid kan bou op U genadewerk in my. Help my om te stry teen die sonde. Help my asseblief uit U genade om die tekens te toon dat ek U kind is. “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon” (Ps. 4:9). Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 16 April 2025 Koos Espach GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024   As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Maandag, 14 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025.   Die...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page