Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 18
- 4 min read
Dinsdag, 18 Maart 2025
Koos Espach
Dood vir die sonde, maar lewend vir God (10)
Betoon eer aan God met elke deel van ons liggaam
Rom. 6:13 – “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”
Paulus wys in vandag se teks dat ons as Christene nie eintlik ‘n keuse het om nié ons liggame in diens van die sonde te stel nie. In ons stryd teen die sonde, mag ons nooit gaan lê nie, want satan is magtig. Indien God nou Eienaarskap van ons geneem het, staan net die laaste opsie oop. Hoe kan ek en jy ons “liggame in diens van God as werktuig stel om sodoende aan God eer te betoon?”
Daar is baie maniere om eer aan God te bring, maar wat is “God se wil”? Rick Warren sê ons bring eer tot God deur Hom te aanbid. Aanbidding is veel meer as prys, sang en gebede tot God. God wil hê ons aanbidding moet deur liefde, danksegging en vreugde gemotiveer word, nie omdat ons voel dit is ons plig nie. Ons aanbidding moet ‘n lewenstyl van liefde vir God wees, een waar ons “elke deel van ons liggame in diens van God as werktuig stel om te doen wat God wil.”
Nog ‘n manier om ons liggaam in diens van God te stel is om ons mede-gelowiges lief te hê. Jesus het gesê: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh. 13:34). William Barclay het die volgende waarheid omtrent Jesus se liefde nagelaat as erfenis vir alle gelowiges: “Jesus had lived with his disciples day in and day out for three years and knew all that was to be known about them – and He still loved them. Sometimes we say that love is blind. That is not so, for the love that is blind can end in nothing but bleak and utter disillusionment. Real love is open-eyed. It loves, not what it imagines a man to be, but what he is. The heart of Jesus is big enough to love us as we are.” Dit is ons verantwoordelikheid om te leer om lief te hê soos God. God is liefde en dit is tot sy eer!
Paulus het tot dusver dit duidelik gemaak ons is nou nuwe mense. Ons is nou deel van God se familie en daarom is dit nodig om geestelik volwasse te word. Wanneer ons geestelik volwasse word, bring ons aan God die eer. Hoe lyk geestelike volwassenheid? Die slim mense sê ons moet soos Christus word. Sjoe, is dit moontlik? Is dit moontlik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree? Nog erger, lief te hê soos Hy liefhet? Wel, toe ons Christus aanvaar het, het God eintlik vir ons ‘n nuwe lewe gegee wat ons karakter verander het. Paulus sê “ons sal deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer” (Fil. 1:11). Ons kan nie ons Christenskap wegwens nie, ons moet probeer om soos Christus te wees.
Ons bring ook eer aan God deur mekaar met ons gawes te dien. God het elkeen van ons gawes gegee om te gebruik soos Hy wil. Ons elkeen is uniek geskep met talente, gawes, vaardighede en vermoëns om mekaar te kan help. Die Bybel sê: “As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien ... So moet julle God in alles verheerlik ...” (1 Pet. 4:10-11). Ek glo nie God het ons gawes gegee om selfsugtige redes nie.
Iemand het gesê “God se heerlikheid is ‘n mens wat ten volle lewe!” Deel van hierdie ‘ten volle lewe’ is seker om vir ander te vertel waar dit vandaan kom. Uit ons eie kan ons nie ten volle lewe nie, dis deur God se genade aan ons geskenk. Ek dink nie God wou gehad het sy liefde en doelwitte vir ons as mense moet ‘n geheim bly nie. Ons ken mos die Weg en die Waarheid en die Lewe (Joh. 14:6), daarom moet ons vir ander ook van Jesus vertel. Paulus sê “ons doen dit ... sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer” (2 Kor. 4:15).
Vir wie gaan ek en jy leef, onsself of vir God? Die enigste manier om te leef is ter verheerliking van God. Enigiets anders is maar blote bestaan. Ek dink dis eers nodig om te glo dat God ons vir ‘n doel geskep het. Ek glo ons is gemaak om vir altyd te lewe. Ek glo God het ons uitgekies om ‘n verhouding met Jesus te hê wat vir ons aan die kruis gesterf het. Glo dus God het ons vergewe, al het ons ook al wát gedoen. Glo eers, dan kan ons Jesus in ons lewe ontvang as ons Here en Verlosser. Dan kan ons besef ons was “mense wat dood was maar lewend gemaak is.” Dan kan ons seker wees sy Gees sal ons die krag gee om ons lewensdoel te vervul. Ons lewensdoel om “elke deel van ons liggame in diens van God as werktuig te stel om te doen wat God wil.”
“Die werklike probleem van die Christelike lewe is nie dat ons nie weet wat God se wil is nie, maar dat ons dit nie wil doen nie” (Ray Stedman).
Gebed: Here, u Woord sê “wie in die Seun glo, het die ewige lewe (Joh. 3:36). Jesus, ek glo in U en ek ontvang U. Help my asseblief o Gees om “elke deel van my liggaam in diens van God as werktuig te stel om te doen wat God wil.” Amen.
Recent Posts
See AllDonderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Woensdag, 16 April 2025 Koos Espach GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024 As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus...
Maandag, 14 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Comments