top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 13 Maart 2025

Koos Espach


Dood vir die sonde, maar lewend vir God (7)

 

Leef voluit vir God

 

Rom. 6:11 – “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.”

 

Paulus sê ons moet “onthou dat ook óns vir die sonde dood is” as gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het. Wow, wat ‘n uitgangspunt vir ons lewe! En Paulus wil dit beklemtoon dat dit nie iets is wat ek en jy maar net kan kies nie. “Ons moet altyd onthou”, ons moet dit die uitgangspunt van ons lewe maak! Terloops, ons moet onthou dat Paulus in 6:4 geskryf het dat ons “deur die doop immers saam met Christus in sy dood begrawe is, sodat, soos Christus ... uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.”

 

Ons was eers slawe van die sonde en was in die “tronk van sonde” toegesluit. Ons hele lewe was deur die tronkowerheid beheer. Ons kon ook nie al hulle wette en reëls nakom nie. Die straf vir wetsoortreding is die dood, daarom het ons gewag op die dag van teregstelling. Gelukkig het Jesus Christus opgedaag en met ons plekke kom ruil. So gebeur dit dat Hy in ons plek tereggestel geword het en ons vry by die tronkdeure van sonde kon uitstap. Selfs die tronkregisters wys dat ons reeds vrygestel is, ons is totaal vry van die sondetronk! Die ‘tronkowerheid’, satan, het geen houvas meer op ons nie.

 

In ons doop gee God ons, by wyse van spreke, wegspringblokke want Hy het dit vermag om Christus uit die dood, en ons saam met Hom, op te wek (6:4). En dis vaste blokke hierdie! Wat ‘n verligting! Ek en jy kan wegspring op ons nuwe lewenspad saam met Christus. Nou kan daar ‘n wonderlike vrede op ons neerdaal, ons is nuwe mense wat vir God kan lewe! Deur die doop verbind God my en jou aan Christus op so ‘n wyse dat ons aan sy lewe kan deelneem. As ons deel is van Christus se lewe, het ons deel aan alles wat Hy tydens sy lewe op aarde ervaar het: sy kruisiging, dood, begrafnis en opstanding. Ons is dus dood vir die sonde en kan voluit vir God lewe – soos Christus, saam met Christus, deur Christus, in Christus!

 

Deur Christus, is ons nou nuwe mense wat vir God kan lewe. Maar ai, ons is steeds geneig om aan die ou ‘Adamsondes’ te dink. Ons is steeds geneig om die mislukkings van die verlede op te roep, daaraan te dink en selfs onsself te verwyt. Paulus het die antwoord: “Ons gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense” (Ef. 4:23-24). Ons moenie toelaat dat selfverwyt oor die verlede ons denke oorheers nie. Dit kan ons geestelike groei belemmer en ons beroof van die blydskap wat God vir ons as nuwe mense bedoel het. Die verlede is geskiedenis; die toekoms is ‘n belofte; die hede is al wat ek en jy werklik het.

 

Ons kan aan die verlede niks verander nie, maar net daaruit leer, het Ena Murray, bekende skryfster gesê. Wat leer ons daaruit? Die foute van die verlede hoef nie ‘n verlammende invloed op ons lewe te hê nie. ‘n Lewende geloof in Christus bring ‘n nuwe benadering tot die lewe. In plaas van altyd te verwag dat die ergste gaan gebeur, moet ons glo dat God vir ons goeie dinge berei het. Dan word vrees vir die verlede en vir die toekoms vervang deur geloof en waagmoed. Maar dan moet ons eers die Heilige Gees toelaat om ons krag te gee om te aanvaar dat ons werklik “een is met Christus” aan die kruis, in sy dood en in sy opstanding. Ons “moet dit onthou” dat ons daardeur dood is vir die sonde.

 

Wanneer ons dit onthou, word ons genees van die verlede se skuldgevoelens. Dít is die ware geloofslewe. Ons kan nou met vrymoedigheid vir God lewe! Wanneer ons in stilte ons afsonder met God, kan ons Hom loof en dank vir genade dat Hy daar is vir ons. Ons kan ook vra vir die leiding van die Gees en bid dat Christus ons sal genees van die pyn van die verlede se sondes. Ons kan ons dan losmaak van al die skuldgevoelens wat agter ons lê. Saam met Paulus kan ek en jy “ons nou losmaak van wat agter is en ons uitstrek na wat voor is” (Fil. 3:13). Ons gees word nie meer beheers deur die mislukkings van die verlede nie, maar deur die Gees van God wat vir ons die wonderlike moontlikhede in en rondom ons wil wys, “óns wat vir die sonde dood is!”

 

“Vertrou die verlede aan God se genade toe, die hede aan sy liefde en die toekoms aan sy voorsienigheid” (Augustinus van Hippo).

 

Gebed: Ons alwetende God, U weet hoe klaaglik ek in die verlede misluk het. Bewaar my asseblief van terneergedruktheid en wanhoop. Help my om nie toe te laat dat my sondige verlede ‘n verlammende invloed op my lewe het nie. Maak my hart oop o Gees, sodat ek sal aanvaar dat daar ‘n nuwe lewe opgesluit is in Christus. Dankie dat ek dood is vir die sonde, maar lewend vir U. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page