Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 11 Maart 2025
Koos Espach
Leef ‘n opstandings lewe
Rom. 6:7-10 – “Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8 Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9 Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10 Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God.”
Vergelyk ook 1 Joh. 3:9 – “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy ‘n kind van God is.”
As dit waar is dat ons gelowiges saam met Christus op Golgota gesterf het, dan is dit logies dat ons “moet glo dat ons ook saam met Hom sal lewe.” Die sekerheid daarvan is gegrond daarop dat “Christus wat eenmaal uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie, die dood het geen mag meer oor Hom nie.” Ons is nie meer aan die mag van die sonde en die dood onderworpe nie. Aan die regterhand van die Vader lewe Christus ’n onvernietigbare lewe. Uit hierdie finaliteit van die dood van Christus en sy opstanding in heerlikheid, volg volgens Paulus, ook die finaliteit van die breuk wat tussen ons gelowiges en die sonde ontstaan het.
Paulus sê ons “glo dat ons ook saam met Christus sal lewe.” Maar glo ons werklik? Selfs Johannes Calvyn het op ‘n stadium erken dat hy soms twyfel of hy saam met Christus lewe, want sy lewe wys die teendeel. As sondaar mens het hy keer op keer gefaal om soos Jesus te probeer wees. Andrew Murray verduidelik dat hierdie ewige lewe saam met Christus, nie ‘n geskenk van God af is nie, dit is God sélf wat aan ons geskenk word. Aangrypend! Dis ‘n genadedaad van God, die oomblik wanneer ons daardie finale besluit oor die sonde geneem het.
Hoe neem ons daardie besluit om met die sonde vir eens en altyd te breek? Uit onsself sal ons dit nie regkry nie, “maar ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom” (Hand. 1:8). Wanneer ons eers die besluit geneem het om met Hom te identifiseer, word die lewe wat in Jesus was ons s’n, op grond van sy kruis. Dis egter nie altyd maklik om ‘n morele besluit oor die sonde te neem nie.
Op ons eie kan ek en jy nie ons roeping uitleef nie. Ons sal nooit ’n projek kan aanpak en suksesvol aflê as dit nie vir die werk van die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees is as geskenk vir ons gegee om ons by te staan om die lewe reg te leef. Maar meer nog, om ons te help om ons roeping in die wêreld uit te leef. Jesus het belowe dat ons “krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom.” Die Heilige Gees is ons “Vennoot en Helper.” Hy doen waarin Hy goed is en los dit waarin ons goed is, vir ons.
Andrew Murray sê selfs die swakste mens kan die goddelike krag van die Seun van God ervaar, as hy of sy net gewillig is om te “laat los”. Maar dan moet ons nie ons geringe pogings aanwend om dit te probeer doen nie. Ons moet voortdurend die sonde “laat los”, en die Heilige Gees kans gee om daardie terrein van ons lewe oor te neem en binne te dring om ons daarmee te help. Eers dan sal Christus algehele heerskappy oor ons hê en eers dan sal ons “glo dat ons saam met Hom lewe.” Jesus het gekom om ons ‘n eindelose voorraad lewe te gee – en dit is die ewige lewe. Paulus het dit ook vir ons gebid dat “ons sy liefde sal ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en heeltemal vervul sal word met die volheid van God” (Ef. 3:19).
Daar word vertel van ‘n voëltjie wat te midde van ‘n geweldige storm, aan ‘n boomtak kalm en onbevrees vasgeklou het. Terwyl hy die storm trotseer, is dit asof hy aan die storm wou sê: “Skud my maar af, ek het nog altyd vlerke!” Vanweë Christus se dood en opstanding kan elke Christen die dood soos hierdie voëltjie in die oë kyk en met geloofsvertroue sê: “Skud my maar af, ek het nog altyd vlerke, ek lewe nog! Ek het reeds saam met Christus gesterf; daarom glo ek dat ek ook saam met Hom sal lewe.”
Jesus het die dood vir altyd oorwin en daarom ons ook. Nie omdat ons so goed of oulik is nie, maar omdat Jesus om ons ontwil die straf vir sonde, volledig en volkome gedra het. Drie dae later het Jesus volledig uit die dood uitgestap en ons saam met Hom geneem. Sy kruis het ons gelowiges se geskiedenis van hoek tot kant herskryf. Jesus het ons sondige verlede heeltemal uitgewis. Al wat van ons sonde oorgebly het, is ons sonde se graf daar by Golgota. Deur Jesus se dood en opstanding, is ons posisie voor God totaal verander. Ons kan dit waaragtig glo en met dankbare harte aanneem!
“Christus is nie net ‘n goeie pad na die hemel toe nie; Hy is die enigste pad” (Karl Barth).
Gebed: Here Jesus, ek loof U dat U vir my die ewige lewe moontlik gemaak het. Ek dank U vir die feit dat U my posisie voor God verander het en dat ek nou kan lewe. Ek glo dit waaragtig en neem dit met ‘n dankbare hart aan. Amen.
Comments