top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 17
  • 4 min read

Maandag, 17 Februarie 2025

Koos Espach


Die vrug van die vryspraak (6)

 

Verheug in swaarkry

 

Rom. 5:3-4 – “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.” (2)

 

Vergelyk ook Ps. 34:6 – “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.”

 

Ons het tot dusver gesien dat elkeen wat Christus deur die geloof aanneem, deel in sy vrede wat God bewerk het. Ons is deur die geloof in Christus vrygespreek! Ons verheug ons oor die toekoms want ons “hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het” (v. 2). Ons het nou vrye toegang tot God se genade. Waarom is dit dan nog nodig om te “hoop op God se heerlikheid?” Het ons nie klaar alles nie? In plaas van ‘n antwoord op hierdie vraag, skep Paulus vir ons die teenoorgestelde van die heerlikheid. Hy sê ons gaan swaarkry! En, amper asof hy ons wil paai, voeg hy by dat ek en jy, ons in hierdie swaarkry moet verheug.

 

Paulus, hoe nou? Met respek, lekkerkry of verheug, en swaarkry is twee teenoorgesteldes! Wat is lekker aan swaarkry? As jy dit so in die algemeen stel, klink dit asof ons moet lekkerkry wanneer ons swaarkry. Wanneer ons egter name by swaarkry voeg, raak dit moeilik – vreugde en eensaamheid; vreugde en hartseer; vreugde en kanker; vreugde en verwerping; vreugde en honger; vreugde en sonder werk; vreugde en lyding; vreugde en dood! Paulus, weet jy waarvan jy praat? Swaarkry laat ons so aan onsself oorgelaat voel, sonder God en sonder mense.

 

En Paulus antwoord beskeie: “Ja, ek weet waarvan ek praat. Vyf maal nege en dertig houe gekry; drie maal lyfstraf; een maal met klippe gegooi; drie maal skipbreuk gely; een maal dag en nag binne-in die koue water van die oop see deurgebring; dikwels op reis en in gevaar; gevare van riviere; gevare van rowers; gevare van my volksgenote wat my wil vermoor; gevare van heidene; gevare in die stad; gevare in die veld; gevare op see; gevare onder vals broers; harde werk en swaarkry; dikwels nagte sonder slaap; dikwels honger en dors; dikwels sónder kos, skuiling of bedekking teen die koue” (2 Kor. 11:24-27). Paulus praat dus nie filosofies of teoreties oor swaarkry soos iemand wat hom probeer indink wat swaarkry behels en hoe dit lyk nie, sy swaarkry-ervaring in sy persoonlike lewe, laat ‘n mens se hare rys!

 

Ons hou nie van pyn en lyding nie, ons wil nie swaarkry nie, ons identifiseer nie met diegene wat treur nie. Ons wil nie hoor van dood, verbrokkeling van huwelike, kwaaivriendskap, werksverliese, finansiële probleme en al die dinge wat ons laat treur nie, dis net slegte nuus. Dié wat swaarkry is oral te sien. Die skouers krom getrek, glimlagte wat van gesigte af verdwyn het en die mondhoeke skeefgetrek, afwaarts. Sondae sien ons hulle die kerk inkom, gewone mense, gelowige mense. Elkeen met sy of haar eie verhaal of storie. Solank niemand, veral in die kerk, weet van my stories nie. Dit is te treurig, te sondig, ek moet my front behou, ‘n glimlag probeer aanplak.

 

Maar ... God wéét! God ken my stories. Hy ken die pyn. Hierdie sonde wat die pyn in my losmaak en my laat swaarkry en treurig laat. Daarom kom ek kerk toe want God weet wat om met my pyn te maak, Hy het die regte sonde- en swaarkry medisyne! “God gebruik gebroke dinge: Die grond moet gebreek word om ‘n oes op te lewer; gebroke wolke laat dit reën; gebroke graan voorsien ons van brood; gebroke brood by die nagmaal gee vir ons krag; dit was die gebroke Petrus wat bitterlik geween het, wat tot groter krag as ooit verhef is; waar bevind jy jou met jou gebrokenheid, jou swaarkry?” (Vince Harver).

 

Swaarkry, lyding en sonde kan ‘n mens breek, maar deur God se genade kan dit ons ook bou. Dit kan ons leer uithou, volhard en vasstaan met hoop. In ons swaarkry, kan ons opkyk “na Hom en straal van blydskap, en weet ons word nie teleurgestel in ons verwagting nie.” Wanneer ons gelouter word deur siekte, dood of sonde wat op ons pad kom, is daar vertroosting by Hom. Die kruisprys is vir ons as sondaarmense die grootste troos. Ons is vir ewig van sondeskuld verlos. Daarom kan ons juigend te midde van soveel ellende óm ons daaglikse lewensbestaan, onder die warmte van God met ‘n glimlag leef. God help ons wanneer ons swaarkry en daarby moet ons onthou: God gee nie antwoorde nie, Hy ís die antwoord! “Hy sal ons nie teleurstel in ons verwagting nie.”

 

“Niks kan ons beter troos nie as die helder wete dat ons, midde-in ons ellende, deur die God van liefde vasgehou word” (Johannes Calvyn).

 

Gebed:  Hemelse Vader, U ken my deur en deur. U ken my sit en my opstaan. U ken my daaglikse kom en gaan. U ken my aangeplakte vriendelike houding en gesig. Maar dankie Here dat U egter van beter weet en my swaarkry oomblikke vasvang in U vertroostende hande en weet wat om daarmee te maak. Dit is verblydend om te weet dat U midde-in my ellende, my steeds in liefde vashou. Moet my asseblief nie los nie. Ek klou vas aan U vrede, vreugde en liefde. Amen.

 

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus   Elke dag ‘n getuie van Jesus   Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page