top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 12 Februarie 2025

Koos Espach


Die vrug van die vryspraak (3)

 

Die Koning is steeds tuis

 

Rom. 5:2b – “En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.” (1)

 

Ons het gister gesien ons moenie ophou om vreugde te probeer vind nie. Om onsself te “verheug in die heerlikheid wat God vir ons bestem het”, is om ‘n vreugdevolle kind van God te wees. Dit behoort ‘n magtige getuienis te wees teenoor die wêreld. Dit word vertel van ‘n prinsipaal wat vir ‘n kind gevra het hoe hy dit regkry om elke dag so vrolik te wees. Die seun het opgemerk dat hy elke nag hemel toe gaan. Daar sien hy dat ‘n vlag bokant die hemelse paleis wapper om aan die wêreld te verkondig dat die Koning tuis is. Wanneer die vrede van God in ons harte werk, sien die wêreld iets van sy liefde en begeer hulle om dit ook te besit. Só bring ons eer aan die Here. "Niemand kan ons blydskap van ons af wegneem nie” (Joh. 16:22). Die Koning is tuis!

 

Mense sê gewoonlik dat lede van koninklike families blou bloed in hulle are het. Hulle het heelwat meer voorregte en vreugde as ons gewone mense – hulle bly in mooi paleise en ontvang oral vyfsterbehandeling. Wel, ek en jy wat in Jesus Christus glo, val ook in hierdie kategorie. Ons is ook lede van die Koninklike familie. Ons het Jesus se bloed in ons are. Sy bloed wat vir ons gevloei het, bind ons aan Hom en aan ander gelowiges in Christus. Die goeie nuus is dat ons op grond van Jesus se dood en opstanding, persoonlik deur God uitgekies is om sy seuns en dogters te wees. Die Koning, ons Vader is steeds tuis en ons is in daardie bevoorregte posisie om deur sy genade, elke dag vir Hom Vader te mag noem.

 

Is dit nie genoeg rede om in hierdie ‘moeilike’ tye weer ons vlammetjie van hoop aan te blaas nie? Die doemprofete verlang terug na die goeie ou dae. Maar, vanaf die vroegste tye moes mense egter met probleme saamleef. Daar is feitlik geen nasie wat die verwoesting van rampe, oorloë, droogtes, vloede en talle ontstellende gebeurtenisse soos moord, korrupsie, en noem maar op, vrygespring het nie.

 

In die Bybel lees ons ook hoe ramp op ramp mense getref het. Selfs Paulus het die pyn van spot, gevangenskap en lyding geken. Maar hy was gedurig diep bewus van die heerlike feit dat God keer op keer in sy genade, tot sy hulp en redding gekom en hom uit die verknorsing gered het. God se liefde vir Paulus was só groot dat Hy nooit geaarsel het om hom te hulp te snel nie. Hoekom sal Hy dit dan nou toelaat dat ons, sy kinders wat koninklike bloed in ons are het, in teenspoed leef?

 

In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond, veral in Suid-Afrika waar dit soms voel of ons al oor die afgrond getuimel het, lyk dit naïef om te praat van vreugde. Het ons nog die reg om dit te verwag, of is vreugde maar net ‘n ydele droom? Mense is wanhopig, ontsteld, bekommerd en moedeloos. Mense word afgemaai deur sinlose moorde. Misdaad en korrupsie is aan die orde van die dag. Swak regering is die norm. Hoe kan ons dan steeds vreugdevol wees as die prentjie so donker lyk?

 

As ons kon, sou ons dalk vir Paulus vra: “En hoe verheug ons ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het?” Ek dink hy sou geantwoord het: “Moenie moedeloos of wanhopig word nie. Die Koning is steeds tuis. Hy is nog in beheer! Hy het sy kinders en sy skepping nog net so lief soos in die verlede. Dit is sy wêreld en Hy waak daaroor. Moenie ophou hoop nie. Vertrou op God. Soos altyd in die verlede, sal Hy ons sy vrede gee.” (Joh. 14:27).    

 

Iemand het gesê: “Die pad na vrede en vreugde lê nie in die verandering van ons omstandighede nie, maar in die herskepping van ons gedagtes.” Ja maar, ons moet realisties ook wees! Ons kan verseker nie die chaos rondom ons reg dínk nie! Dan kom Jesus en Hy antwoord: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16:33).

 

Ons is so geneig om maklik handdoek in te gooi en moedeloos te raak. Ons word só maklik oorweldig deur die donker wolke van beproewing en verwarrende omstandighede dat ons vergeet dat die “Lig van die lewe” gesê het: “Hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.” Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. Hierdie dinge mag ons nie ontmoedig en laat uitsak nie! Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat die Here reeds vir ons beplan het nie. Ons ontvang mos genade vir alles – van sterwensgenade tot opstandingsgenade. Ons kan ons lewe inrig met die kennis van, en vertroue in Jesus se oorwinning en sy teenwoordigheid. Hou moed, die Koning is steeds tuis! “Ons kan ons ook verheug in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.”

 

“Ander mense sien net ‘n hooplose einde, maar ons Christene verbly ons in ‘n eindelose hoop”

(Gilbert Brencken).

 

Gebed: Here, ek kom na U toe met my twyfel en wanhoop. Versterk asseblief my geloof en my hoop dat dit nooit sal sterf nie. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page