Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 11 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (2)
Die Christen se vreugde
Rom. 5:2 – “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.”
Wanneer God ons sý mense laat word het, los Hy ons nie net daar en skeep ons af met nuttelose oorskiet nie. Nee, Hy maak ons skatryk mense. Ons het nou vrede by Hom soos ons gister gesien het. Ons staan vas in God se genade. Ek en jy kan nou seker wees dat God se genade, ons vaste fondament is waarop ek en jy ons nou bevind. Hoekom kan ons seker wees? “God self het ons op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang” (2 Kor. 1:21-22).
Ons Christene kan met sekerheid hieraan vashou: ons is spreekwoordelik ‘vasgemessel’ op die Christus-fondament! Hierdie sekerheid word op God se genade-aambeeld steeds sterker gesmee. Ons moet nie wonder daaroor nie, maar in verwondering dankbaar wees daaroor! God se genade en sy vergifnis is nie beperkend op énige spesifieke sondes nie, maar selfs daardie sondes waarvan ons nie eers bewus was nie. Ons kan dit met vreugde aanvaar, ons hoef nie eers in ons verlede te gaan delf en wonder of daar enige sondes is wat nog nie bely is nie. God weet buitendien van álles. Hy doen nie halwe werk nie, ál ons sondes is vergewe, ons hoef nie aan ons vryspraak te twyfel nie!
Ek en jy as Christene kan nou bly wees oor die toekoms. “Ons kan ons verheug in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.” Deur ons sonde is hierdie ‘heerlikheid’ verduister, maar omdat ons deur God se genade op Christus se fondament gevestig is, begin hierdie ‘heerlikheid’ weer na vore tree. Paulus sê “ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier (van sonde) is van ons gesig weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word” (2 Kor. 3:18).
Hoe ek en jy uitdrukking gee aan hierdie blydskap, is nie belangrik nie. Daar is vreugde wanneer ons na die verlede kyk – die goeie ou dae; daar is vreugde in die hede wanneer ons na die teenswoordige kyk; daar is vreugde wanneer ons na die toekoms kyk. Daar kan egter geen werklike vreugde sónder God wees nie. Hy is die Bron van vreugde. Ons kan maar net na die natuur om ons kyk en God raaksien in die helder kleure van blomme; Hom voel in die wind in ons hare; Hom hoor in die vrolike lag van ‘n kind. Daar is vreugde van herinneringe, vreugde van liefde, vreugde van hoop, vreugde van ‘n dankbare hart, vreugde van ... (voltooi self verder).
Blydskap is ‘n liefdegawe van God aan ons, sy gelowige kinders. Daardie soort vreugde is nie altyd gekoppel aan ons uiterlike omstandighede nie. Dit het gemaak dat Paulus en Silas lofliedere in die tronk kon sing (Hand. 16:25). Dit het ook gemaak dat Dawid te midde van swaarkry vir die Here lofpsalms kon skryf. Daardie vreugde kan ook myne en joune wees.
Wanneer ons “ons verheug in die heerlikheid wat God vir ons bestem het”, kan ons nie anders as om saam met Dawid vir God ‘n loflied te sing nie: “Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is” (Ps. 16:9, 11). God se vreugde is ware vreugde en is aansteeklik. Dit is egter nie om heeldag met ‘n glimlag op ons gesig rond te loop nie. Dit is baie meer. Dit is om warmte na ander uit te straal. Ons kan God se blydskap laat weerklank vind deur iemand anders ook bly te maak.
“Die moeilikste van ‘n Christelike lewe is om te leer hoe om voortdurend die heerlikheid van die Here met vreugde te weerspieël” (Oswald Chambers).
Gebed: Here, dankie dat ek bly mag wees, dat ek vreugde mag ervaar wat aan U behoort. Dankie vir só baie dinge wat my bly maak, maar veral U, want sonder U kan daar nie ware vreugde wees nie. Dankie dat hierdie blydskap wat van U kom nie afhanklik is van my omstandighede nie, maar omdat Uself die bron van my blydskap is. Amen.
Commentaires