top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 10 Februarie 2025

Koos Espach


Die vrug van die vryspraak (1)

 

Uiteindelik vry!

 

Rom. 5:1 – “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”

 

Vergelyk ook Heb. 10:19-20 – “Broers (en susters), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.”   

 

Tot dusver, het Paulus in sy brief aan die Christene van die gemeente in Rome, verduidelik dat alle mense voor God skuldig is en dat God se genade noodsaaklik is vir ons (Rom. 1:18-3:20). Daarna het hy die inhoud van die genade beskryf en die evangelie-waarheid bekendgemaak: Élkeen wat glo, word uit genade vrygespreek (Rom. 3:21-4:25). Hy gaan nou verder en verduidelik wat hierdie vryspraak vir ons beteken, wat die gevolge van God se vryspraak in ons lewe behels. Hoe lyk vrygespreekte mense van naderby? Hoe leef hulle? Hoe lyk en leef ons met ander woorde, ons wie se saak by God reggemaak is?

 

Hy beklemtoon ook die ‘gemeenskap van gelowiges’ want Paulus praat nie meer van ‘julle’ nie, maar van ‘ons.’ Ons bevind ons nou midde-in die kerk van Jesus Christus. Ons staan spreekwoordelik tussen die gemeentelede van die destydse Romeinse-gemeente en luister wat Paulus vir ons geskryf het. Die vryspraak is ’n voldonge feit wat deur ons gelowiges aanvaar is en waaroor daar in dankbaarheid gejubel kan word, ons is deur die geloof geregverdig. Ons is nuwe mense, ons het “deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.” Ons is skatryk!

 

Waar ons eers onsself in die middel van die see van sonde bevind het, bevind ons onsself nou midde in die kerk van Jesus Christus. Ons kan jubel want ons het die versekering dat ons rééds deel is van die verlossing en “daar nou vrede is tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Ons ervaar die vrede van God want ons staan nou in ‘n nuwe verhouding met Hom wat tot stand gekom het deur die versoening wat Jesus Christus bewerk het. Die gebroke verhoudinge is herstel, die vyandskap tussen God en sy toorn oor die sonde van ons sondaars, het tot ’n einde gekom. Elkeen wat Christus deur die geloof aanneem, deel in hierdie vrede wat Hy bewerk het, ons is deur die geloof vrygespreek! Ons hoef nóóit weer te twyfel aan God se vryspraak nie!

 

Ons kan nou absolute “vrede” hê dat God se genade ons eiendom is en bly. Vrede by God is die soete berusting wat ons deur Christus gevind het aan die kruis. Reeds vóór sy kruisiging het Jesus in sy afskeidsgesprekke met sy dissipels, vir hulle gesê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Jesus se erflating van vrede is van ’n ander gehalte as die vrede wat die wêreld gee. Die vrede wat die wêreld gee, is ‘n vrede wat kortstondig en onseker is; gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie. Jesus se vrede is in sy Testament geskryf – dis Bybels – dis blywend!

 

“God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo” sê Paulus. Ons verhouding met God is nou in orde. Ons kan nou innerlike geluk en vrede beleef en dis moontlik gemaak deur Jesus Christus wat aan die kruis, God se toorn en straf volledig vir ons gedra het! Die vraag is nou hoe leef mense wat deur Christus vrygemaak is? Hoe leef ek en jy? Paulus sê ons lewe word deur ander “simptome” gekenmerk. Hy noem dit die vrug van die Gees wat daardie vrede in ons hart en lewe skep: “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal. 5:22-23).

 

Die Gees verander ons hele ingesteldheid. Hy haal ons van ons troontjie af en staan dit aan God af. Hy kom rig dan ons dade en denke op Hom. Ons verantwoordelikheid is nou om Hom toe te laat om ons te verander sodat ons saam met Hom kan werk. Die Gees maak ons lewe tot ‘n sieraad vir God – dit is sy werk. Hy maak ons vry om God met oorgawe te dien. Ons lewe staan nou onder nuwe bestuur van die Heilige Gees. As sieraad van God is daar dan nou “vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Dít is Jesus se nalatenskap in sy testament wat Hy aan ons as gelowiges gegee het. Niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want sy testament is bindend!

 

“Die hart van die mens soek na ewigdurende vrede en geluk – U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U” (Augustinus).

 

Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here, daarom bid ek dat U vir ons vrede gee in ons mooi land sodat ons opnuut u liefde, kalmte en vrede sal ervaar. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page