Gedagte vir Vandag
Vrydag, 7 Februarie 2025
Koos Espach
Wat belowe is, word deur die geloof verkry (5)
Ons is vrygespreek van alle gebroke omstandighede
Rom. 4:25 – “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”
Paulus sluit Abraham se geskiedenis mooi af deur sy geloof op ons van toepassing te maak. Die feit dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het, staan nie net “ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word.” Is dit nie bemoedigende woorde nie? Wat kan ek en jy uit Abraham se voorbeeld wat Paulus hier vir ons voorgehou het, leer?
Miskien kan ons dit só verstaan: dit is uiters belangrik om te glo. Dit is slegs deur ware geloofsvertroue dat ons in die regte verhouding tot God geplaas word en dat slegs God die eer moet ontvang wat Hom toekom. God het Abraham belowe dat hy die vader van baie nasies sal wees (4:17a) en Abraham het dit geglo. Ten spyte van al sy teëspoed en struikelblokke, het Abraham hom nie daardeur laat afsit nie. Hy het hom nie laat afsit deur sy hoë ouderdom, die onvrugbaarheid van Sara of die feit dat God groot offers van hom gevra het nie.
Abraham se bitterste offer en beslis die ergste geloofstoets, was die offer van sy beloftekind Isak. Hulle het dan só lank vir hom gewag, en nou hierdie ontsettende wroeging dat God “nie sy woord hou nie.” Het hulle dalk vir God misverstaan? Die feit dat hy met sy seun die offerberg uit moet stap, is net te veel gevra. Al wat hom deur hierdie krisis gedra het, was sy geloof dat God die mag het “om uit die dood op te wek” (Heb. 11:19). En dit is wat ons ook deur ons krisisse sal dra. Die lewende Skeppergod het Hom magtiger bewys as die “dood” wat Abraham en Sara in hulle hoë ouderdom reeds in hulle liggame gedra het; Hy is ook dieselfde God wat ‘n ontbinde liggaam van Lasarus uit die graf geroep het (Joh. 11).
Hy is die lewende “God wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het” (v. 24). Hierdie Jesus, ons Here wie “vanweë ons oortredings oorgelewer en opgewek is sodat ons vrygespreek kan word.” Hy was die roemrykste Kind wat ooit gebore is, die heilige Kind van Maria, die goddelike Seun van God. Hier op aarde was sy lewe egter van die begin af gekenmerk deur vervolging en gevaar. Hy was nog skaars gebore, of Herodus beveel dat Hy doodgemaak moet word. Sy hele lewe was een van vrywillige vernedering. In Jesaja 53 word ons Verlosser se lyding in sulke fyn besonderhede beskryf dat ons byna kan dink dis ‘n verslag van ‘n ooggetuie, eerder as die voorspelling van die profeet wat 800 jaar vantevore dit geskryf het.
Wat beteken dit vir ons? Wanneer ons na onsself kyk, is daar soms gebroke omstandighede wat ons verhinder om te wees wat ons glo ons moet wees. Hierdie gebroke omstandighede, wat dit ook al mag wees, kan nie opweeg teenoor wat Jesus moes verduur nie. Ek en jy moet onthou, Jesus Christus het vir al hierdie gebroke omstandighede van óns, gestérf – “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer.” Die goeie nuus is dat ons daarvan “vrygespreek is.” Al het hierdie gebroke omstandighede dalk nog ‘n invloed op ons lewe, is ons deur die vryspraak wat Jesus vir ons bewerk het, nie meer ‘n slagoffer daarvan nie! Ons kan dus vandag voluit uit God se beloftes begin leef.
Ons moet besef, geloof hou altyd risiko’s in. Dit vra waagmoed. Dit vra van ons soos vir Abraham, om uit ons gemaksones te beweeg, sonder om te weet waar ons gaan uitkom. Die besluit om jou lewe vir die Here te gee, beteken om op ‘n geloofspad te vertrek sonder om te weet waar dit gaan eindig. Partymaal wonder ek hoekom die geloofspaadjie so steil is, want daar word beslis nie ’n maklike pad gewaarborg vir dié wat vir Jesus volg nie. Inteendeel, dit gaan baie maal so erg dat ek bang is die bootjie val om. Nee, nog erger! Dit voel vir my soms of die bootjie reeds omgeslaan het en ek enige oomblik deur die onstuimige waters ingesuig gaan word.
Swaarkry kom maak al te gereeld sy draai in ons Christene se lewe. Dis hoe die lewe se ratte werk. Die vraag is nie of dit êrens gaan opdaag nie. Die vraag is eerder hoe ons dit gaan hanteer wanneer dit opdaag. Tog, as ons weer dink aan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, weet ons dat Hy ons té liefhet om ons te los. Die lewe is nie maklik nie. Ons almal weet dit. Sommige dae is die druk so hoog dat ons bene onder ons wil invou. Dan moet ons vashou aan die wete dat God ons hoog ag, dat Hy dink ons is van die beste materiaal om in sy koninkryk in te kom. “Hy het Jesus vanweë ons oortredings oorgelewer en opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Ons het soveel waarde. Ons is waardevol … wel, God dink immers so! En dis genoeg!
“Ons lyding is nie eers die naam lyding werd nie. As ek dink aan my kruise, beproewings en swaarkry, skaam ek my as ek dink wat hulle is in vergelyking met die lyding van my Verlosser, Jesus Christus” (Martin Luther).
Gebed: Hemelse Vader, aanvaar my nederige lof en dank vir Jesus wat vir my hoop en redding bring. Dankie Jesus dat U vir my die pad na die hemel aangedui het deur die kruis. In U wat opgewek is, leef ek. Amen.
Comments