top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 23 Januarie 2025

Koos Espach


Die voorbeeld van Abraham (1)


Abraham se geloof is die troef   

 

Rom. 4:1-3 – “Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2 As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3 Wat sê die Skrif? ‘Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek.” (1)

 

Paulus is nog nie tevrede dat sy lesers van die gemeente in Rome, oortuig is dat die mens regtig niks het op grond waarvan God hom vryspraak kan gee nie, daarom neem hy Abraham nou as voorbeeld. As Paulus Abraham “ons stamvader” noem, spreek hy vanuit sý Joodse standpunt, want die gemeente in Rome het moontlik nie nét uit Joodse gelowiges bestaan nie. Vir die Griekse- en Roomse gemeentelede sou dit in elk geval nie vreemd gewees het nie, want dit was in daardie tyd algemene gebruik onder hulle om belangrike figure uit die geskiedenis te bestudeer en as rolmodelle te gebruik.

 

Paulus het egter in ag geneem dat die Jode vir Abraham ‘n helde verering gehad het en trots was om afstammelinge van hom te wees. Naas Moses is Abraham dan ook die Ou Testamentiese persoon wat die meeste in die Nuwe Testament genoem word – drie en sewentig keer! Hy was vir die Jode ‘n rolmodel van vroomheid, ten spyte daarvan dat sy vroomheid soms lelike laagtepunte van sonde en ongeloof geken het: Sy leuen aan die farao in Egipte dat Sarai sy suster is (Gen. 12:11-20); sy ongeloof om ‘n kind te kan hê op die hoë ouderdom van honderd (Gen. 17:17). Hierdie oortredinge was by die Jode gerieflikheidshalwe vergete. Vir hulle was Abraham die toonbeeld van volkome gehoorsaamheid aan God, en daarom deur God as genoegsame verdienste beskou is om hom vry te spreek.

 

Paulus betwis dit ten sterkste. Selfs nie Abraham is “op grond van sy dade vrygespreek nie, want dan het hy ‘n rede gehad om te roem.” Voor God word niemand uit sy dade vrygespreek nie, in werklikheid het “Abraham in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek” (Gen. 15:6). Dit dien as ’n bewys daarvan dat die grond van Abraham se vryspraak nie sy eie verdienste was nie, selfs nie eers sy eie geloof nie. Dit was die genadevolle toerekening van God, wat in sy vrye guns aan die gelowige Abraham ’n geregtigheid geskenk het wat hy nie in homself besit het nie. Abraham se vryspraak was ’n onverdiende geskenk. Sedertdien is die geloof in Christus alleen die leë hand waarmee die mens die vryspraak ontvang wat God uit genade gee.

 

Om nakomelinge van Abraham te wees, verander ons nie outomaties in kinders van God nie, Abraham se kindskap van God word nie outomaties aan iemand oorgedra nie. Hierdie parallel word vandag nog deurgetrek deur baie mense wat glo omdat hulle voorgangers, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog is aan God en volgens Sy voorskrifte leef, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg. Geen mens kan op enige ander mens se geloof, in Jesus Christus deel in die saligheid nie! Elke mens moet eerder daardeur inspireer word om hom of haarself te bekeer (Luk. 3:8). As Jesus se Vader my en jou Vader ook is, is ons deel van hierdie eksklusiewe gesin omdat Hy, deur genade, ook ons Here is.

 

Doen wat God vra, dan vloei sy koninklike bloed gedurig deur ons are. Ons hoef nie te presteer vir ons saligheid nie, ons kan God se vryspraak uit genade met dankbaarheid omhels soos Abraham. Ons bevind ons dan in die drie-enige God se magsgebied, en Jesus deel nie sy aardse woning met enige inwonende vyandige magte nie – “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:19-20). “Abraham het in God geglo ...” Dit was ‘n geloof gebou op die ware God! Om ‘n lewe van geloof in die ware God te leef, beteken dat ek en jy nooit weet waarheen ons gelei word nie. Dankie tog, ons weet immers Wié ons lei – ons kén Hom en het Hom lief en ons weet waarheen ons op pad is!   

 

“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook”

(Robert Battles).

 

Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Ek behoort nie meer aan myself nie want U het my duur gekoop en daarom probeer ek immers om ons Vader te verheerlik. Dankie Vader dat U genade uitgestort het in my dorre hart. Dankie o Gees van God dat U vir my die onderskeidingsvermoë gee om tussen die waarheid van Christus en die leuen van die duiwel te onderskei. By U wil ek skuil o Heer, Oorwinnaar oor die bose. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page