top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 22 Januarie 2025

Koos Espach


God verlos die mens (7)

 

Roem in Jesus Christus, die Verlosser en Voleinder van ons geloof

 

Rom. 3:27-31 – “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28 Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29 Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30 want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31 Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.”

 

Ons het gister gesien ons kan nie op ons eie verlos word nie. Ons kan verlossing nie verdien nie, nie daarvoor werk en as beloning ontvang nie, nie koop nie, nie steel nie, nie eens by iemand erf nie. Ons kan nie eers opklim of onsself ophef na God toe nie, nie deur die wet nie; nie deur goeie werke, of godsdienstigheid, ‘n sekere kerkverband of selfs vroomheid nie. Al hoe ons verlos kan word as sondaarmense, is deur ons geloof in Jesus Christus, ons Here. Ons het dus niks om oor te roem nie. “Voor God het geen mens dus iets om oor te roem nie,” sê Paulus in 1 Korintiërs 1:29.

 

Maar, gelukkig weer vir ‘n maar, “daar is net een God, dieselfde God van die Jode en ook van die heidennasies”; dieselfde God ook van my en jou en elkeen wat in Hom as die lewende, Almagtige God glo! “Aan Hom is dit te danke dat ons met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Daarom, dié wat wil roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:30-31). God het ons verhouding met Hom deur Jesus kom herstel. Álle mense het gesondig (3:23). Die vryspraak word sonder onderskeid aan almal wat glo, gegee (3:30). God is die God van alle nasies (3:29), daarom het Hy Jesus aarde toe gestuur vir almal. Vir almal het God dieselfde prys betaal: sy eie Seun! Ons het dus niks om oor te roem nie.   

 

Johannes beklemtoon dieselfde feit in sy evangelie: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid, en veral aan ons as Christene, meegedeel. Dit is voorwaar die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring wat aan ons bekend gemaak is! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kon gesien en gehoor word en ons kon sy heerlikheid deur sy aardse optrede sien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!

 

Die Woord pak die verste rit aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af was, naamlik God (Joh. 1:1). Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat te groot is vir ons menslike brein. Ons kan nie eens dink om dit te probeer verklaar nie. Ons kan net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank, vir die weg wat Hy vir ons as sondaars geopen het sodat ons kinders van God kan word (Joh. 1:12).

 

Die inhoud van Jesus se heerlikheid is vol genade en waarheid. Hy bly uniek. Hy het nie sommer maar net mens kom word nie. Dit kom tot openbaring in ’n volheid van “genade en waarheid.” Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat in waarheid en betroubaar, aan ons geopenbaar is.

 

My en jou geloof is ‘n erkenning dat Christus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring” (Joh. 19:30). Ons mag nie méér waarde heg aan uiterlike dinge soos byvoorbeeld ‘n kerkgebou, ‘n bepaalde plek of posisie in die kerk, ‘n bepaalde Bybelvertaling, kerklike kleredrag, musiekinstrumente of die afwesigheid daarvan, sekere kerkliedere in ‘n sekere taal, kerklike bedieningsvorms, gebruike en tradisies nie. Hierdie dinge het wel waarde, solank dit nie ons persoonlike ontmoeting en verhouding met God belemmer nie.

 

Om te glo is om met ons ongeloof te vlug na Jesus en God te dank dat Christus se versoening ook voldoende is vir my en jou ongeloof. Geloofsekerheid is nie sekerheid van my geloof nie, maar sekerheid van Jesus Christus wat dit volbring het, “die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2a). “Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd” (Heb. 10:9-10). Jesus het nie halwe werk gedoen nie, dit is volbring, dit is afgehandel, en dit is genoeg. Genoeg is genoeg, eens en vir alle ewigheid!

 

“In his perfect manhood He offered the perfect sacrifice of the perfect obedience” (William Barclay).

 

Gebed: Dankie Jesus, dat U volkome aan God se eise voldoen het, dit volbring het, afgehandel het in alle ewigheid en ek daardeur my beloning by U kon ontvang by die kruis. Alles wat ek is, wat ek het, alles wat ek doen, is te danke aan U. Daarom is my lewe een groot danksegging aan U, Verlosser en Voleinder van my geloof. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page