Gedagte vir Vandag
Vrydag, 17 Januarie 2025
Koos Espach
God verlos die mens (4)
Wonderlike ruiling
Rom. 3:25-26 – “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”
Paulus gaan verder en verduidelik wat die ingryping van God teenoor die sonde van die mens, behels. Ons was as gevolg van ons sonde, in ‘n hoek gedryf en ons verkeerde verhouding met God is tot op die been oopgevlek. Ons kan beslis nie deur onsself hierdie verkeerde verhouding verander nie, maar alleen op God vertrou dat Hý die verhouding herstel. Dit beteken nie dat God al ons sondes onder die mat invee en met ‘n gerusstellende, “toemaar, dit is nie so erg nie,” en dan daarvan vergeet nie. Nee! God is heilig en regverdig, Hy het werk gemaak van die sonde: “God het Jesus gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.”
Maar hoe hanteer ek en jy ons skuld en sondes by God? Ons kan dit nie ontken of probeer vergeet nie, want ons gewete pla ons hopelik dan. Dit help dalk om erger sondes by ander te soek, dan voel ék en jy immers beter. Dit neem egter nog nie óns sondes weg nie. Dalk kan ons dit afbetaal, soos skuld op ‘n kredietkaart. Dit gaan egter nie werk nie want ons weet nie wat ons skuld behels nie. Buitendien, hoe bepaal mens die kostes van sonde?
Paulus het gelukkig die antwoord: “Ek en jy word, sonder dat ons dit verdien, op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (v. 24), wie God gegee as offer wat deur sy bloed, versoening bewerk het vir dié wat glo.” So eenvoudig is dit – ek en jy moet net glo in Jesus Christus en aanvaar dat Sy verlossing deur louter genade van God, verniet is! Ons kan nie self ons skuld vereffen nie, dit kos te duur – dit het Jesus se lewe gekos!
God het nie die sonde geïgnoreer of ongestraf laat bly, en só sy geregtigheid prysgegee nie, Hy het, soos Martin Luther gesê het, ‘n wonderlike ruil gemaak en élke sonde van élke mens, op sy onskuldige Seun, Jesus Christus, geplaas en Hóm ‘gestraf’ daarvoor. En Jesus neem ons sonde in ruil vir sy onskuld. In ruil vir Jesus se vernedering, ontvang ons God se heerlikheid; in ruil vir sy sterwe, ontvang ons die ewige lewe – verruklik! Hierdie ruil vind plaas as God die genade vir ons skenk om dit te glo. “In sy verdraagsaamheid, het God die sonde tydelik ongestraf laat bly”, tot by die kruis van Christus, tot in die teenwoordige tyd van vandag, sodat God self regverdig kan wees en regverdig kan maak!
Die implikasie is dat dit wat die mens nie kon doen deur die wet nie, God nou namens ons doen in Christus op grond van sy soenverdienste! God het self alles gedoen om ons in ’n regte, volmaak geheiligde verhouding met Homself te stel en daarom kan ons rus in ’n nuwe identiteit in Christus. Ons hoef dus nooit in ons verhouding met God te presteer vir God se aanvaarding of God se guns op ons lewe nie: “Ons moet sorg dat ons nie van die genade van God afvallig word nie” (Heb. 12:15a). Dit is reeds ten volle ons deel in Christus, ons leef nie ná vervulling nie, maar úit vervulling.
Ons moet onsself elke dag hieraan herinner en doelbewus vanuit hierdie posisie van volkome geregtigheid in Christus lewe! Dit is trouens die enigste manier hoe ons die Christelike lewe kán lewe. As ons nie ons posisie van geregtigheid in Christus verstaan en omhels nie, gaan ons altyd terugval op ons eie prestasie, ons eie verdienste, ons eie ‘godsdienstigheid’ en gevolglik, dan nie lewe om God te behaag en toelaat dat God sy plan vir ons kan verwesenlik nie. Om God te behaag word ons posisie van geregtigheid dan verander in volkome vervulling en vreugde in Jesus. Wat ‘n genadige voorreg!
“O wonderbaarlike ruiling! O ondeurgrondelike werk van God! O seëninge wat alle verwagtings oortref! Die sondigheid van baie word deur die regverdige EEN verberg, terwyl die regverdigheid van EEN talle wat sondaars is, vryspreek” (Vader Klemens uit die tweede eeu).
Gebed: Here, en ek self, wat kan ek doen om my sonde te versoen? Sou my hart met ywer gloei, my trane ewig vloei – nóg gebede, nóg geween kan my red, Heer; U alleen. Leeg, net met my sondelas, hou ek aan U verdienste vas, omhels ek U, neem ek U aan, vertrou ek op U, glo ek in U, kies ek U as my Redder. Amen.
Comments