top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 16 Januarie 2025

Koos Espach


God verlos die mens (3)

 

God hou van ons net soos ons is

 

Rom. 3:23-24 – “Almal het gesondig en is ver van God af, 24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (2)

 

Ons het gister gesien dat God ons mense vryspreek ten spyte van die feit dat ons voor die wet skuldig staan. Die Regter het na ons in die beskuldigede bank gekyk waar ons met bloedrooi gesigte van skaamte gestaan het en gesê: “Jy is vry, jy kan maar gaan. Ek bevind jou onskuldig – om Jesus ontwil!” Ons nuwe tyd het nou aangebreek – dis Jesustyd! Dis genadetyd. Dis die tyd van die Heilige Gees. Al die ou dinge het verbygegaan. Niks wat ek en jy ooit in ons lewe doen, kan maak dat God méér van ons hou nie, ook nie maak dat Hy minder van ons hou nie. Dis genade – genade wat beteken dat God ons vat net soos wat ons is.

 

Ek wonder soms of ons altyd genoeg dink oor God se genade. Het dit die dalk so alledaags geraak as deel van ons woordeskat dat ons beswaarlik meer ag slaan daarop nie? God se genade is vir die verkeerde mense bedoel. Hy gee graag genade verniet aan sondaars weg – “Ons word, sonder dat ons dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”

 

Om genade te verstaan beteken om dit te ervaar. Wanneer ek en jy met ons sondaarsklere voor God se hemelse deure opdaag met leë hande en niks het om Hom aan te bied nie, behalwe ‘n kruiwa vol gelaai met sonde, dan ervaar ons genade. God is ‘n ‘spesialis’ daarin om mense soos ons, wat letterlik niks het om Hom aan te bied nie, terug te vat. Vra maar vir Paulus. Hy sê: “Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was my genadig ...” (1 Tim. 1:12-13). 

 

Maar hoe kry ons hierdie genade in die hande? Eintlik is dit maklik, ons kan God net gaan vra. Genade is net ‘n gebed ver. Vat byvoorbeeld die moordenaar wat langs Jesus aan die kruis gehang het. Hy het vir Jesus gevra om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. Net dit. Hy het nie gevra vir vergifnis of ‘n plek in die hemel nie. Nee, hy het net ‘n gedagte geopper, en wat kry hy in plek daarvoor? Hy ontvang die ewigheid (Luk. 23:42-43).

 

God se genade, God se “maar nou”, sou nie aangebreek het as God nie self ingegryp het nie. Hierdie deurmekaar wêreld se mense sou ewig vol grafkele, giflippe en bloedvoete gewees het! (3:13-15). Daar is één heilsweg wat vir almal, sonder onderskeid geld: “Ons word, sonder dat ons dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Ongelukkig is daar menigte mense wat vir die Christendom verlore gaan want hulle voel hulle kán nie aan die eise en standaarde wat Jesus stel, voldoen nie. Gevolglik verwerp hulle die Christen-geloof en mis hulle uit op ‘n persoonlike ervaring met die lewende Christus, asook die ewige lewe!

 

Al wat Jesus vra wanneer Hy ons roep tot oorgawe aan Hom, is om in Hom te glo en volkome te vertrou. Hierdie transformasie is beskikbaar vir elkeen deur die genade van God! God se goedheid is die bron waaruit ons verlossing geskenk word, sonder enige verdienste. Al wat ons moet doen is om ons sondige lewe, aan Hom toe te vertrou. God se eindelose genade is daar om ons eindelose sonde te vergewe en te vergeet, sodat ons in Sy vreugde kan leef. Al is ons sondaars, ons is sondaars wat vergewe is!

 

God se genade hou nooit op nie. Sy genade is ‘n ten-spyte-van-genade. Ten spyte van ons swakheid, ons verraad, ons sonde, ons wát ook al, ons God hou net aan en aan en aan met genade. Ons kan met vrymoedigheid ‘n stukkie genade by Hom bedel. Ons sal meer kry as wat ons gevra het of oor kon droom. Vra Hom net!

 

“God se genade is nie goedkoop in die sin dat Hy geen offer vir die mens se oortredinge eis nie; die verskil is net dat Hy self die offer betaal het in sy Seun” (Martin Luther).

 

Gebed: Dankie Vader, U het ‘n “maar nou” geskep en nou kan elke mens gereed maak om “maar nou” die wonderlike genade van U ontvang. Daar is niks verdiensteliks in wat ek sê of doen nie, maar tog hou U aan om my in U groot genade aan te sien en my deur U krag, van struikeling te bewaar. Heilige Here, dankie dat U my hart en lewe verander het toe ek U as Verlosser en Saligmaker aanvaar het. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page