Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 14 Januarie 2025
Koos Espach
Weens die Internet wat deur weerlig beskadig was, kon ons nie gister dagstukke uitstuur nie. Jammer vir die ongerief.
En dan, vandag is dit vir ons ‘n groot voorreg om deur ons hemelse Vader se genade, die 2 000 ste dagstuk te versend. Januarie 2016 het ons die eerste dagstuk versend na 55 adresse. Vandag stuur ons na 1 020 adresse wêreldwyd. Dankie vir elkeen wat saam met ons reis. Aan God al die eer.
God verlos die mens (1)
Sola Fide: Deur geloof alleen
Rom. 3:21-22 – “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.”
Vergelyk ook Gal. 3:11 – “Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: ‘Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.”
Paulus het aan die einde van die mens, van álle mense, se sondenood gekom en kon seker nie wag om die evangelie, met al sy implikasies aan die gemeente in Rome en aan ons, eintlik aan die hele skepping, te openbaar nie. Dit is amper asof hy ‘n sug van verligting uiter wanneer hy die donker beeld van sonde wat hy tot dusver beskryf het, afsluit. Ek dink hy was nogal verheug toe hy sy laaste woorde van Romeine 3:20 aan Tertius, sy ‘sekretaris’, dikteer het. Paulus wou wegkom van die mens se sondenood. Sy hart het nie by die sondigheid van die mens gelê nie, maar by die evangelie.
Tot dusver het hy ons tot die besef gebring dat ons niks het waarvan ons voor God vrygespreek kán word nie. Geen verskonings, onderhouding van die wet of selfs ‘n afstammeling van een of ander groot gelowige, gaan ons help nie. My en jou kaartjie hemel toe sal nie afhang of ons afstammelinge van gelowige ouers of selfs ‘n vriend van ons predikant was nie.
‘n Nuwe fase van Paulus se argument breek nou aan. “Maar nou”, lui ‘n nuwe wending van sy argument binne: “Die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig” in die Ou Testament, is nou soos ‘n roosknop wat in die Nuwe Testament ten volle oopgaan. God het ingegryp en nou het Hy die vryspraak waarvan die wet en die profete getuig, in werking laat tree, dié vryspraak word nou geopenbaar! Op grond van die soenoffer van Christus het God die sonde klaar vergewe, dit agter sy rug vir ewig weggewerp. Dié vryspraak kan nie verkry word deur die wet te onderhou nie, want dan sou dit verdiend wees, die beloning wat ’n mens vir jou eie goeie lewe ontvang. Buitendien, geen mens kan die wet volkome onderhou nie.
Jesus het baie van sy tyd op aarde op die ‘markplein’ van sondaars deurgebring. Trouens, as gevolg van sy betrokkenheid by die sondaars, het die godsdienstige leiers later na Hom verwys as ‘n “vraat en ‘n wynsuiper; ‘n vriend van tollenaars en sondaars” (Matt. 11:19). Maar Jesus het nie omgegee nie. Dis immers vir sondaars dat Hy aarde toe gekom het, nie vir goeie mense nie, of diegene wat dink hulle is goed nie.
Daar word vertel van ‘n man wat in ‘n Christelike huis grootgeword het maar met verkeerde vriende maats gemaak het – ‘n nuwe lewe van fuif, drank en dwelms. Gelukkig het hy tot verhaal gekom en teruggekeer na sy ouerhuis, die huis waar sy ouers hom geleer het van God se genade en Jesus se omgee. Hy was egter te skaam om in te gaan en het die posbus oopgemaak waar daar altyd ‘n ekstra sleutel weggesteek was. By die sleutel was ‘n geel verbleikte briefie wat aan hom gerig is met die woorde: “Welkom tuis seun. Daar’s ‘n bord kos in die lou oond en jou kamer wag ook op jou. Liefde, Pa en Ma.”
Hy het egter nie die moed gehad om in te gaan nie en tot laat die aand oorkant sy ouerhuis in die parkie gesit. Daar het hy gesien hoe sy pa van die werk af kom en lank by die venster uitkyk. Ook hoe sy ma laatmiddag in die posbus gaan kyk en met hangende skouers terugstap huis toe. Baie later die aand het hy genoeg moed bymekaar geskraap, die sleutel uit die posbus gehaal en saggies die huis binne gegaan. In die oond was die bord kos. Sy kamer was ook gereed. Toe kom sy ouers daar ingestap. Met trane in sy oë val hy op sy knieë: “Ekskuus Pa en Ma, ek het julle harte gebreek ...” Sy ouers het hom opgetel, omhels en snikkend geantwoord: “Moet niks verder sê nie. Jy is weer tuis waar jy hoort.”
Wie is God regtig? Hy’s die Een wat stukkende mense met oop arms terugvat soos wat hierdie jongman beleef het. En Jesus? Sy soektog na sondaars het Hom gedurig laat afdraai na die ‘rejects’ van die samelewing. Hy los ons nie soos Hy ons aantref nie. Nee, Hy tel ons op en verander ons, trek ons nuwe klere aan. En ons stap weg as geestelike miljoenêrs. Dís genade! God gee dit sonder onderskeid aan elkeen wat in Jesus Christus glo!
“Sonde is om die leuen te glo dat jy self-geskape, self-afhanklik en self-onderhoudend is” (Augustinus).
Gebed: Ekskuus Here, met trane in my oë smeek ek U saam met Dawid: Wees my genadig Here! Maak my tog gesond; ek het teen U gesondig (Ps. 41:5). Amen.
Comments