Gedagte vir Vandag
Vrydag, 10 Januarie 2025
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (10)
Soek in afhanklikheid God se lof
Rom. 3:19-20 – “Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20 Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (2)
Die argument van Paulus dat niemand regverdig is nie, dat niemand wat die wet van God het, hom of haar sal kan verweer nie en daarom strafwaardig is voor God, is ‘n feit soos ‘n koei. Ons kan nie anders as om skuldig te pleit voor God nie. Elke mond moet voor God swyg in die erkenning van skuld, óók dié van die Jood. Die Jode het die wet by Sinai ontvang (Eks. 20). Hulle ken die wet en kan dus die gesag daarvan erken.
Elkeen wat vandag ‘n Bybel het, hét die wet en kan niemand dus sonder verweer voor God staan nie. Geen mens kan op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie. Saam met ‘n Dawid kan ons maar net in diepe afhanklikheid vra: “Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking ...! Moet tog nie ‘n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef is voor U onskuldig nie” (Ps. 143:1a en 2).
God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die ‘padkaart’ wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as sy verbondskinders is. Daarom sal ons lewenswandel op aarde, (praat, dink, doen en nie doen nie), volgens die wet beoordeel word. Die oordeel gaan oor die wet wat ons lewensruimte wil gee en of ons optree volgens God se wil. Die probleem is egter dat ons nie tydens ons aardse lewe die wet ten volle kán onderhou nie, niémand kan nie: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh. 1:8).
Om getrou te bly aan die wet is nie so maklik nie! Ons worstel telkens opnuut om in geloof na al die gebooie van God te leef. Maar God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl. As ons die wet as spieël voor ons hou sal ons ál ons ellende waarneem en na God toe vlug: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” (Matt. 5:3).
Die wet is nie meer ‘n aanklaer nie maar ‘n ‘herder’ wat ons lei op ‘n pad van liefde. Dit beteken om ‘n afhanklike “bedelaar” te wees as gevolg van algehele geestelike bankrotskap, om afskeid te neem van selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede. Sondige gewoontetjies is soos om op ‘n afdraande van ‘n heuwel te stap – elke tree verder afwaarts maak dit moeiliker om terug te draai sodat die kruin weer bereik kan word. Om ‘n onafhanklike lewenswyse weg van God af te probeer handhaaf, is ‘n moeilike eksperiment.
Wat ons ook al is en wat ons besit, is God se wil. Daarom sal ons gelukkiger wees as ons in nederige en afhanklike gesindheid God bedank vir al sy gawes. Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat troontjies van hoogmoed na totale afhanklikheid van God. Afhanklikheid van God is deel daarvan om beter te voel wanneer ons die kerk uitstap as toe ons dit binne gestap het. Ons gedagtes is gereinig deur die musiek en aanbidding. Ons stem saam met die heilige waarhede van die evangelie soos dit deur die leraar gelees en uitgespreek is.
Ons soek God se lof as diens ná die erediens. Ons soek God se lof as lewe in die gebed ná die kerkgebede. Ons soek God se lof as lied in praktyk ná die lied in die kerk. Ons soek God in ons alledaagse bestaan – dit is dáár waar ons Hom sal vind! Daar waar Jesus vir ons ‘n versekering bied – ‘n lewenspolis: “ ... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3b). Intussen kan ons God loof deur Hom te dien en te eer volgens sy wet. Dis ‘n lewe van geloof, ‘n lewe van liefde, ‘n lewe van vreugde, van hoop. Dis ‘n omvattende lewe wat die eer van God soek, ‘n Christelike lewe waarvan Christus die middelpunt vorm! Leef dit dan nou!
“Totdat die mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie.” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. Ek behoort anders te wees, maar Here, ek staan skuldig voor U. Ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Here, ek het U nodig in my hele menswees. Ek kan U niks aanbied nie behalwe my sondige self. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en afhanklik van U te mag wees. Amen.
Comentários