top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 9 Januarie 2025

Koos Espach


Niemand is regverdig nie (9)

 

Skuldig!

 

Rom. 3:19-20 – “Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20 Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (1)

 

Vergelyk ook Matt. 5:17 en 20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ... . 20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

 

Paulus rond sy argument oor die sondes van die hele mensdom, sy “klagstaat” nou af en sê: “Ons weet mos ...”. Die getuienis teen die ganse mensdom is verdoemend. Die Regter kan net één uitspraak lewer: “Ek vind jou skuldig!” Niémand kan hom of haar verweer nie. Elke mond moet voor God swyg in die erkenning van skuld – “Geen mens kan op grond van wetsonderhouding, hom of haar regverdig of onskuldig verklaar, en deur God vrygespreek word nie.” Inteendeel, “deur die wet leer ’n mens wat sonde is.” Die wet ‘ontdek’ as’t ware die sonde en lê dit bloot. As ons ons lewe meet aan die wet van God, besef ek en jy ons tekortkominge, ons oortredinge, ons skuld en helaas, ons verlorenheid!

 

Vir die Jode van daardie tyd was hierdie uitspraak oor die wet seker ‘n groot skok want geen mens kan op grond van sy eie voortreflike lewe voor God se regbank onskuldig pleit nie. Vir hulle was die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) wat die tien gebooie ingesluit het, en die uitsprake van die profete, dié mees belangrikste van hulle godsdiens. Die skrifgeleerdes was verantwoordelik vir die opstel van al die reëls en regulasies, en het verder gegaan en by die Tien Gebooie, nog meer as ses honderd reëls bygevoeg. Die Fariseërs het hulle afgesonder van gewone daaglikse aktiwiteite, om hierdie reëls en regulasies toe te pas en te verseker dat dit deur die volk toegepas word. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts.

 

Die Joodse skrifgeleerdes en Fariseërs, het één beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en sy volgelinge, moet hulle hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Hulle keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het, was om die wil van God tussen hulle magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.

 

Wat is dan die regte beginsel? Is die wet van Moses – die wet van God, nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Vind ons nie reeds ons saligheid in Christus nie? Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Wat ‘n heerlike troos vir ons gelowiges in Christus: ons weet dat ons met liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan ons getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort. Hy het immers met sy dierbare bloed vir ons sondes ten volle betaal en ons so van die heerskappy van die sonde-tiran, verlos!

 

Om egter hierdie troos deelagtig te word, moet ons weet hoe groot ons ellende is, hoe ons daarvan verlos kan word en hoe ons God vir sodanige verlossing deur ons hele lewe daarvoor dankbaar kan wees. Daarom kan die Tien Gebooie as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig word: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers; vir lewe; vir eiendom; vir ander mense; vir die waarheid; vir onsself sodat verkeerde begeertes nie beheer van ons neem nie en ons sondebesef, ons in God se arms indryf. Hiérdie eerbied en respek het Jesus kom vervul. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde – liefde vir God en liefde vir ons naaste.

 

Ek en jy kom tot kennis van ons ellendige toestand deur “die wet wat ons leer wat sonde is.” Iemand het gesê God se wet is ‘n reël vir ons dankbaarheidslewe! As dankbare mense weet ek en jy dat alles wat ons is en het, ons ontvang en gekry het. Ons hele menslike bestaan is eintlik ‘n gawe van God. Dit wat ons as persoon is, ons lewe, denke, gevoel, of ons praat of ons bemin, het ons ontvang. As gelowiges kan ons met vrymoedigheid sê: dankie Here, ons het dit van U ontvang – “Ek is soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie ... ; my behae is in die wet (woord) van die Here, en ek oordink dit dag en nag” (Ps. 1:1-3 – 1933 vertaling). As verloste mens, is die onfeilbare wet van God, ‘n reël vir my dankbaarheidslewe! En vir jou? Vra elke dag dat die Here jou ‘n dankbare mens maak!

 

“Al kry ons nie alles wat ons wil hê nie, kan ons steeds dankbaar wees dat ons nie alles kry wat ons verdien nie” (C.S. Lewis).

 

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir al die dinge wat U elke dag vir my gee: gesondheid, lewenskrag, kos en klere, lewensvreugde, mense om lief te hê, vreugdes, die wisselende seisoene, ja, selfs die verskriklike hitte. Dankie dat ek kan lag en sing en liefhê. Juis deur my dankbaarheid wil ek my afhanklikheid van U erken. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page