top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 5 Desember 2024

Koos Espach


Niemand is regverdig nie (7)

 

Die Bron van Vrede is altyd by ons

 

Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 16 Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 17 Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, 18 ontsag vir God het hulle nie.” (2)

 

Vergelyk ook Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

 

Terwyl ek die teksvers vanoggend weer lees, kon ek nie anders as om te dink dat die wêreld waarin ons leef, ‘n wêreld is vol angs en probleme, haat en onrus. En die ergste is, dit word deur mense veroorsaak waar hulle op mekaar trap en mekaar fynmaal met die mond, net om bo uit te kom. Ons “laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter” en gee net nie om wie almal in die proses seerkry nie. En dit alles omdat ons mense ‘n klomp meedoënlose kompeteerders is wat net die beste, die rykste, die gewildste en die sterkste wil wees. In hierdie wêreld van mense-kompetisie, bly die Jesus-vrede ons ontwyk. In God se koninkryk, moet dinge egter anders wees. Dit sê Jesus self in sy bergpreek: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal ...”

 

Daar is net Één wat vir ons vrede kan gee, en dit is Jesus Christus. Die Hebreërskrywer beaam dit deur ‘n beroep te doen op die mens om hom te beywer om hierdie vrede wat Jesus gebring het, “met alle mense sal hê asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Nou kan ons verstaan hoekom Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36). Omdat die Heilige Gees ons harte verander en nuut maak, het Hy vrede bewerkstellig tussen God en ons, die vrede wat oorgedra moet word tussen mens teenoor mens. Die Prins van Vrede bring ware vrede vir ons en in daardie vrede moet ons geestelik groei, en “ons sal kinders van God genoem word.”

 

Ongelukkig kan niemand vrede uitstraal as hy nie eers vrede gemaak het met homself nie. Vredemaak kan net in ‘n gees van vrede geskied binne ‘n bekeerde, sagmoedige hart. Daarvoor het ons wysheid nodig wat van “Bo” kom, hemelse wysheid wat anders is as aardse wysheid. Dit kom vanuit die goeie Bron van Godheid wat anders is as ons denke. Dit is suiwer, het geen bybedoelings en ook geen verskuilde agendas nie. Dit is vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en is opreg.

 

As ons die Heilige Gees sal toelaat om in ons lewe werksaam te wees, sal ‘n brandende begeerte ons aanspoor om Jesus se vrede te omhels en ander daarvan te oortuig. Ons is as “kinders van God,” sy ambassadeurs op aarde. As Christen gelowiges is ons God se “vredeskorps” wat ander moet oortuig van Christus se vrede wat die engele aangekondig het 2 000 jaar gelede. Dieselfde Christus wat aan die kruis met sy laaste sterwensasem kon sug: “Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dieselfde Christus wat met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het uit die dood en aan sy bang dissipels verskyn en drie maal vir hulle gesê het: “Vrede vir julle”, dít nadat hulle almal weggehardloop het tydens sy gevangeneming en kruisiging.

 

Vandag nog waarborg Christus vir ons gelowiges vrede te midde van al die geweld, korrupsie en onrus. “As kinders van God” kan ek en jy daardie diepe hemelse vrede ervaar. Wanneer ons die Bron van Vrede aanvaar, ontvang ons sy vrede en ontdek ons dat ons vrese word met vrede vervang. Jesus verander ons deur sy Gees en as deel van God se gesin, is níks dan ooit weer dieselfde nie! “Die vrede wat Jesus vir ons nalaat, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27b). Die pad na innerlike vrede, is om onsself totaal aan Christus oor te gee (Matt. 16:25) en ons sal ware lewe vind, omdat ons die Bron van Vrede altyd by ons het. Dít is Jesus se nalatenskap in sy ‘testament’ wat Hy aan ons as gelowiges gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want sy ‘testament’ is bindend!

 

“Dít wat nou ontstel, sal verbygaan want God verander nooit. Hulle wat God ken, kom niks kort nie. Hy alleen vervul ons diep verlange na vrede, en Hy is genoeg” (Teresa van Avila).

 

Gebed: Dankie Here dat U my deel gemaak het van God se gesin. Help my om vrede te bewerkstellig eerder as om vredeswil stil te bly en uit ander se pad uit te bly. Lei my as gelowige, om in vrede met alle mense te lewe. Ek bid dat geregtigheid en vrede die oorheersende kenmerk van ons land en die wêreld sal word – tot U eer, die Bron van Vrede – en U is genoeg! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page