Gedagte vir Vandag
Woensdag, 4 Desember 2024
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (6)
Vind vrede by die Bron van Vrede
Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 16 Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 17 Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, 18 ontsag vir God het hulle nie.” (1)
Paulus verskuif die klem nou van die onbeheerde mond, keel en tong, na die rusteloosheid van die mens se lewenswandel. Iets dryf die mens om kwaad te doen! Kom ons noem dit ‘n tiran, die sonde-tiran. Ons het in die vorige dagstukkies gesien en gehoor hoe die ‘onderdane’ van hierdie tiran praat en bedrieg met die tong en mense ‘vermoor’ met die woorde wat uit hulle kele kom. Nou wys Paulus vir ons hoe hierdie onderdane wat onder die greep van die sonde-tiran is loop, en ‘n pad van verwoesting en ellende agterlaat.
Hulle verontagsaam goeie menslike verhoudings en hardloop weg wanneer hulle “verwoesting en ellende” in ander se harte en lewens aangerig het. Hierdie tipe mense “se hart is in opstand teen God – die goddelose wat geen vrees, geen ontsag het vir God nie” (Ps. 36:2). Jesaja het eeue gelede hulle al geïdentifiseer as die sonde-tiranne wat “nie so iets soos ‘n pad van vrede ken nie. Waar hulle loop, is daar geen reg nie; hulle loop krom paaie, wie hulle volg, sal nie vrede ken nie” (Jes. 59:8). Daarenteen is die vredepad van Jesus, die pad van liefde en vergifnis en eie sekuriteit, ’n manier van lewe wat daarop gestel is om vrede te stig en te bewaar, selfs in die lewe van vrede en harmonie met ander mense ook.
Wat en waar is die oorsprong van hierdie vredepad – die vredepad wat ons weglei van die pad van die sonde-tiran? Ongeveer 700 jaar voor Christus se geboorte, het Jesaja al profeteer dat ‘n “Seun gebore sal word, ‘n Vredevors wie se heerskappy sal uitbrei en vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes. 9:5-6). Met Jesus se geboorte het ‘n menigte engele aan skaapwagters verskyn en God geprys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk. 2:14). Voor Christus se geboorte het Johannes die Doper se pa, Sagaria, voorspel dat die “Kindjie ons voetstappe sal rig op die pad van vrede” (Luk. 1:79b).
Later het Jesus oor Jerusalem gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is!” (Luk. 19:42). Vir Sy dissipels het Jesus met Sy hemelvaart, ‘n nalatenskap van vrede belowe: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Jesus se erflating van vrede is van ’n ander gehalte as die vrede wat die wêreld gee. Wanneer ons as Christene se saak met Jesus Christus reg is, verdryf sy vrede in die mees ontwrigte omstandighede, alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees.
Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ’n afwesigheid van stryd, oorlog of ook onenigheid. Dis ‘n vrede wat kortstondig en onseker is, gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie. Maar Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie. As gelowiges kry ons ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk want as kind van God kyk ons deur die oë van God. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir my en jou nie maar eerder hoe ons verhouding met God daar uitsien: Pas ons by God aan of verwag ons God moet by my en jou aanpas?
Mense is broos en seer en alleen en onvrede pak ons toe. Die sonde-tiran dreig om ons lewe te verwoes. Ons bene bewe van die swaar laste wat ons moet dra. Tog het Jesus ons sy vrede nagelaat en is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Ja, ons word nou oorspoel met God se goedheid en genade. Hoe het ons dit nie elke dag nodig nie? Hier waar ons gekonfronteer word met slegte goeters wat daagliks om elke hoek en draai gebeur. Ons hele wese smag na die Here se vrede. Mag dit ’n realiteit word in elkeen van ons se lewe.
Maar meer nog – mag God se vrede, daardie vrede wat heeltemal te veel is vir ons om te verstaan, ons hele wese beset. Mag dit die onvrede wat tog so gedurig sy opwagting maak, verdryf. Mag God ons help om die slegte goeters in ons lewe uit te vee en ons op die pad wat die Vredevors oopgemaak, daargestel en uitgeplavei het, slegs saam met Hom te loop. Is jy ook op hierdie pad?
“Wat is dit wat julle vrede ontneem? Armoede? Verwaarlosing? Korrupte mense? Is God se hande te klein om ook dít vas te hou? (Francois Fénélon).
Gebed: Here, ek het U goedheid so nodig. Ek het U vrede nodig – in oormaat. Ek smag daarna met elke asemteug. Laat dit tog elke dag in my lewe waar word. Amen.
Comments