Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 3 Desember 2024
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (5)
Die mag van die positiewe tong
Rom. 3:13-14 – “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, 14 hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” (3)
Vergelyk ook Kol. 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”
Die tong is darem nie altyd net ‘n slegte deel van die menslike liggaam, soos wat Paulus ons Vrydag probeer wysmaak het nie. Alle mense se “kele is darem ook nie ‘n oop graf” nie Paulus. Ons kan beslis nie stom deur die lewe gaan en eerder stilbly as om te praat, omdat ons bang is ons sê dalk iets verkeerd nie. Daar is tye wat ons nie mág stilbly nie en móét praat want die sonde van versuim kan nét sulke vernietigende gevolge hê. ‘n Dissiplinerende antwoord of woord van vermaning, is nie dubbelhartigheid nie, maar eerder die korrekte optrede van dink voor jy doen of sê. As ons die tong kan beheer, is ons in beheer van baie dinge.
Dit is belangrik om op die regte wyse die tong te gebruik sodat dit “van goeie smaak getuig” – om te seën eerder as te vervloek – “Geseënd is die sagmoediges; vredemakers”... (Matt. 3:5). Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet beheer wees tussen wat ons sê en hoe ons is, en doen. ‘n Vuil grap tipeer ‘n mens, skinder vertel iets van ons karakter. Ons woorde vertel of ons ‘n Christen is of nie. Om God te loof is om ons naaste ook te loof, dit kan dalk net die ander persoon se afstootlikheid of onaangenaamheid, verander. Ons geloof in Christus moet ons tonge aanraak en die aard en inhoud van ons woorde verander! As Christene moet ons onthou dat ons verteenwoordig nie net onsself nie, maar ook vir Christus!
Daar is baie terreine om onsself in bedwang te hou en dit is trouens, dikwels die begin en die oorsaak daarvan dat ’n mens in ander opsigte, beheer oor onsself sou verloor. Dit is nie ‘n skande om die woorde “askuus” en “ek is jammer” as deel van my en jou woordeskat te gebruik nie. Wanneer ons mekaar as beelddraers van God erken en eerbiedig, maak ons mekaar net mooier. Dit begin egter by onsself en indien ons getroud is, in ons huwelike, in ons gesinne. Dan vergemaklik dit die situasie soveel meer daarbuite. Wanneer ons iemand “a piece of our mind” wil gee, maak dit aan Bybelse beginsels vas.
Kom ons spandeer enkele oomblikke in die Woord en ontdek die positiewe aanwending van die tong:
· Spr. 15:1-2 – “’n Sagte antwoord laat woede bedaar ...; Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks.”
· Spr. 15:4 – “Kalmerende woorde bring lewe ...”
· Spr. 15:23 – “’n Mens vind vreugde daarin as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?”
· Spr. 16:23-24 – “’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.”
· Spr. 10:32 – “Die regverdige weet om die gepaste ding te sê.”
· Spr. 21:23 – “Wie sy mond en tong in toom hou, hou hom uit gevaar.”
· Ps. 35:28 – “My tong sal nie stil word oor U trou nie, dag vir dag sal ek U loof.”
· Ps. 89:2 – “Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.”
· Ps. 92:2-3 – “Dit is goed om die Here te loof, om U Naam te besing, om elke môre van U liefde te getuig, en elke aand van U trou, Allerhoogste.”
· Hoogl. 1:15-16 – “Jy is mooi my liefling ... Jy is mooi, man wat ek liefhet ...”
· Hoogl. 4:9 – “Jy het my hart gesteel my beminde bruid ...”
Ons tonge moet dus op die ritme van die natuur, die eenheid van die lof aan God en liefde vir ons naaste verkondig. “’n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Matt. 12:33b). Ons geloof kan ons tonge aanraak en die aard en inhoud van ons woorde verander. Indien dit nie so was nie sou God ons sonder tonge geskep het: “Kom laat ons jubel (met die tong) tot eer van die Here, laat ons juig (met die tong) oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof (deur ons tonge), laat ons Hom toejuig (met ons tonge) met lofsange” (Ps. 95:1-2). Wat dink mense van die God wat ek en jy aanbid as hulle ons hoor praat?
“To speak your mind, is sometimes not to say anything” (Onbekend).
Gebed: Vader in die hemel, saam met Paulus wil ek vandag vra dat “wat ek sê, altyd vriendelik sal wees en van goeie smaak getuig.” Verander asseblief my opstandige hart sodat my woorde U liefde, vrede en vreugde kan uitdra en ek as U lig helder kan skyn in hierdie donker wêreld. Amen.
Comentarios