Gedagte vir Vandag
Maandag, 2 Desember 2024
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (4)
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor
Rom. 3:13-14 – “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, 14 hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” (2)
Vergelyk ook Ef. 4:26-27; 29 en 31 – “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel ‘n vatkans gee nie. 29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is ...; 31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie ...”
Paulus is besig om net soos hy voorheen in Romeine 1:18-32, ‘n aantal growwe sondes uit te lig om as voorbeelde van ons mensdom se sondigheid te dien. Wel, dit is duidelik dat die sonde van die woorde wat soms by ons mond uitkom wanneer ons praat of kommunikeer, beslis nie altyd aanneemlik vir die Here is nie. Ons praat so maklik sonder om daaraan te dink dat dit deel uitmaak van ons geestelike lewe. Trouens, hoeveel keer raak ons eers stil voor die Here voordat ons praat?
Ek lees onlangs van die man en vrou wat baklei. Eintlik is dit die vrou wat baklei want die man is doodstil. Sy hou ook nie terug nie. Al haar perdjies is ingespan en sy jaag hulle aan dat die waks wit sit. Ná ‘n rukkie kom sy agter dis net sy wat baklei en toe raak dit éérs wild. Met uitgestrekte arms en gebalde vuiste sis sy die volgende woorde: “Maak oop jou mond dat die fight smaak kan kry!” Wel, baklei vra twee of meer mense. Dalk is dit nodig vir ‘n skeidsregter ook. Én miskien reëls wat sal help om mense daaraan te herinner om volgens die reëls te hou!
Ons weet egter, wanneer dit by baklei kom, bestaan daar nie reëls nie, dan geld ons eie reëls. En dis beslis nie volgens Paulus se wonderlike reëls of riglyne vir doetreffende kommunikasie soos hy dit in ons vergelykende teks uitspel nie. Iemand het dit die four rules for fighting fair genoem. Kom óns noem dit vier Bybelse reëls of riglyne hoe die Here wil hê ons moet kommunikeer: Wees eerlik; moenie opkrop nie; val die saak aan en nie die persoon nie; gaan oor tot aksie.
Oor elkeen van die bogenoemde vier reëls kan ons seker ‘n volledige dagstuk skryf, maar ons gaan dit kortliks saamvat. Om eerlik met mekaar te wees, beteken om die waarheid te praat, nie skimpe rond te gooi of lae houe uit te deel nie. Oneerlikheid maak mekaar asook vir God seer. Dan is daar die ding van opkrop – ons praat nie ‘n ding uit nie en file dit vir ‘n ander dag om weer te kan gebruik. Die Here verwag nie van ons om op te krop nie. Inteendeel, “moenie ‘n dag kwaad afsluit nie”, praat die saak uit. Dan hoef ons nie die opkrop-pakkie saam te dra wat ons depressief en negatief maak en “die duiwel ‘n vatkans gee nie.” Opkrop speel in die hande van die duiwel terwyl uitpraat God se beter keuse vir ons is. Wie wil nou dat die duiwel lekker kry?
Indien ons nie iets goeds van iemand kan sê nie, bly eerder stil. Afbrekende kwetsende taal kan mense afbreek en bou hulle dalk nooit weer op nie. Die saak is al lankal vergete maar die gekweste persoon vergeet en vergewe moeilik. Ons moet ons woorde tel en mag nie sommer net laat waai nie – dis sonde en die mens word eintlik aangeval in plaas van die saak. Goeie kommunikasie werk eers wanneer daar ‘n werkbare oplossing gevind word. En dit gebeur waar God teenwoordig is. Indien ek en jy God se Woord leef, vloek en skel ons nie op mekaar nie en raak ons nie verbitterd nie. Gaan oor tot positiewe aksie en verander van ‘n bitter mens na ‘n beter mens. Dit is hoe God ons geskep het en wat God van ons as sy verteenwoordigers vra om sy beeld in hierdie omgekrapte wêreld uit te dra (Gen. 1:26).
“Waar woorde wapens word, staan mense as vyande teenoor mekaar. Die lewe is veels te kort en die wêreld veels te klein om ‘n slagveld daarvan te maak” (Phil Bosmans).
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir U Woord wat lewendig en kragtig is en elke dag met my kommunikeer. Help tog asseblief dat ek van nou af baie versigtiger met woorde sal omgaan en eers sal dink voor ek praat. Gee dat my woorde vir ander mense sal leer van U liefde vir hulle. Amen.
Comentarios