Gedagte vir Vandag
Vrydag, 29 November 2024
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (3)
Die mag van die tong
Rom. 3:13-14 – “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, 14 hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” (1)
Vergelyk ook Jak. 3:5-6 – “So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. 6 Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”
Paulus gaan verder en skilder die sonde van die goddelose mensheid deur spesifiek die groot kwaad wat met die mond en tong gedoen kan word, by te voeg. Jakobus se beskrywing daarvan in ons vergelykende teks, is nog erger. Soos ‘n wildedier met sy geopende bek op sy prooi afkom, so word die haat van die mens teenoor mens, geopenbaar. Die mens se keel is soos ‘n “oop graf, sy woorde van vervloeking en bitterheid so giftig soos slange.” Sjoe Paulus, Jakobus, is dit regtig só erg?
Die mens is “baie goed geskep” (Gen. 1:17), wonderlik, slim en feitlik in staat om enigiets te kan beheer maar “ons struikel almal in baie opsigte” (Jak. 3:2). Die gevaarlikste slaggat en dilemma wat meeste mense het, is om te “struikel in wat hy sê” (Jak. 3:2b). Ons kan dit weg redeneer as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Maar dan weet ons, dit is veel erger, want God het ons nie só geskep nie. God maak nie foute nie, Hy het ons geskep as sy verteenwoordiger, sy beeld, ons is geheilig vir sy diens. Hy het alle gelowiges in Christus afgesonder as sy kinders (Joh. 1:12b).
Jakobus sluit aan by Paulus en gebruik in sy brief, sterk woorde om die tong se verwoestende mag aan te dui. Hy sê “die tong is ook ‘n vuur”, sy mag het verreikende gevolge. ‘n Skinderstorie byvoorbeeld, kan vir duisende kilometers versprei word en hoe meer dit oorvertel word, hoe meer stertjies word aangelas en hoe groter word die “vuur” wat die ander persoon op ‘n afstand verteer as gevolg van “hulle mond wat vol is van vervloeking en bitterheid”.
Die mens en die menslike samelewing word met ander woorde, voortdurend en in elke stadium van ons lewe geteister deur die misbruik van die tong – “dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand.” Die skokkende ervaring is natuurlik dat hierdie vuur uit die hel geïnspireer word. Dit is egter nie die duiwel se skuld nie, hy is slegs die “brandstigter” wat die vuur uit “die hel aan die brand steek” – die mens versprei die brand! Die tragiese daarvan is dat dit Christengelowiges insluit wat die veldbrand van “vervloeking en bitterheid”, boosheid, nydigheid, woede, afguns, twis, vyandskap, leuens, vernedering, teleurstelling, skinder en selfs versuim, deur die mensewêreld laat versprei en sodoende word ons eie, en ander se lewens, verander in hel.
Jakobus gaan verder en reken “geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif” (Jak. 3:8). Ons woorde verander in messteke, dit maak seer en breek jarelange vriendskappe op. Selfs huwelike word verwoes deur fatale woorde wat uitgeglip het. Dit is deesdae aan die orde van die dag dat veral politici moet betoog dat hulle “buite konteks” en foutiewelik aangehaal is. Verskeie mense het al hul loopbane verwoes deur ‘n onbesonne uitspraak of ‘n gewraakte woord te uiter teenoor ander bevolkingsgroepe. In die tong setel ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif.” Hy besit ‘n soort onbestendige boosheid wat onvoorspelbaar is en vyandskap aanblaas.
Jakobus stel dit dat “geen mens die tong kan tem nie.” Maar ... God kán! Dít is die verskil! God wil nie dat die mens wat Hy net laer as die hemelwesens geskep het, mekaar ‘vermoor’ met die tong nie. Ons is almal broers en susters van mekaar want ons is God se kinders. God wil deur Sy Gees ons uit hierdie gemors waarin ons in ons huwelike, verhoudings en selfs die kerk verval het as gevolg van ons tonge, verlos. God wil ons daaraan herinner dat Hy op Pinksterdag almal met die Heilige Gees vervul het en dié Gees het ons verskillende tale gegee (Hand. 2:4), sodat ons wêreldwyd met die tong, sy getuies moet wees, en nie mekaar verskeur nie!
“Die tong is maar 80 millimeter lank maar kan ‘n man van 2 meter doodmaak” (Japanse spreekwoord).
Gebed: Here, help my asseblief om met my tong ‘n lewende getuie vir U te wees. Saam met Dawid wil ek vir U vra: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Ps. 141:3). Laat my woorde kosbaar wees aan ander. Amen.
Yorumlar