top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 28 November 2024

Koos Espach


Niemand is regverdig nie (2)


Skuldig! Maar tog ...

 

Rom. 3:9-12 – “Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10 Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie; 11 daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 12 Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (2)

 

Vergelyk ook Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

 

Paulus gaan haal die sonde van die mens van ver in die Ou Testament om aan te toon hóé universeel ons sonde is. Hy kon eintlik verder teruggegaan het tot by die Tuin van Eden waar Adam en Eva daarmee begin het. Die apostel ryg die sondes van die hele mensdom uit en eindig dat “almal afgedwaal het.” En dan moet ons mense van die een en twintigste eeu die harde werklikheid van sy uitspraak bely: Die sonde is in die mens se DNS! Ons het ons verhouding met God opgemors. Ons is skuldig! Maar ..., en dit laat ons sprakeloos. Deur God se genade, kom ontmoet Hy ons berouvolle sondaars en wil ons gebruik om sy taak op aarde te verrig – ons is vir God se doel gebore.

 

Tydens Jesus se eerste openbare optrede langs die See van Galilea, gee Hy in sy bekende Bergpreek aan sy volgelinge ‘n kompliment wat ewigheidswaarde het! Jesus dui aan hoe ons as sy volgelinge, die verrotte “wêreld” moet beïnvloed. Hy stel dit feitlik dat ons “die sout van die aarde ís!” En hier bedoel Jesus nie dat dit van toepassing is op  doodgoeie mense wat eintlik ‘n bietjie “eenvoudig” is nie. Trouens, Jesus gee ons hierdie deug as ‘n dringende oproep om te wees wat ons as volgelinge van Hom is. Dit is nie ‘n deug wat aangeleer word nie, dit is ‘n eienskap wat deel van elke Jesusvolgeling se DNS is!

 

Om vir iemand te sê jy ís die sout vir die aarde, is ‘n kompliment want daardie persoon se nuttigheid word beklemtoon, dit is ‘n voorbeeld van suiwerheid, ‘n voorbeeld van reinheid. Waar ons ons ookal bevind, moet ons lewensstyl van só aard wees dat dit ‘n verskil maak, die verrotting van die omgewing moet gesuiwer word en bederf moet teengewerk word deur ons wat die “sout is.”

 

Die vraag is hoe ons as sout bruikbaar kan wees in ‘n verrotte wêreld? Die Christen is die voorbeeld van suiwerheid en reinheid – suiwer van spraak, gedrag en selfs gedagte. Geen Christen kan sy standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie: “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.” (Gen. 6:11-12). Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie, maar ons kan wel alles in die stryd werp “om na God se wil te vra.” Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie.

 

As Christen is ons die ‘antiseptiese sout’ wat ook as skoonmaakmiddel dien in enige geselskap waar ons ons bevind. Ons is nie ‘n toneelspeler of skynheilige wat God dien net wanneer dit ons pas nie. Ons dien die Here volspoed selfs wanneer niemand anders ons sien nie. Ek en jy is die persoon wat selfs net met ons teenwoordigheid dit makliker maak vir ander om reg op te tree. Wanneer die dissipel se voorbeeld sy Christen-boodskap weerspreek, raak ander mense deurmekaar.

 

Óns is die sout van die aarde, sê Jesus. As ons stukkie aarde dus verrot het, het die sout verslaan en het ons nutteloos geword. In plaas daarvan om sout te wees sodat verrotting voorkom word, raak ons self verrot. In plaas van verandering om ander te bring sodat hulle deel van God se huisgesin word, verander ons soos die wêreld, gevolglik word ons wêreldgelykvormig in plaas van Christusgelykvormig. Nee, dit werk nie so nie. Ons Christen DNS bepaal dat ons nie skaam is vir ons andersheid nie. “Ons ís sout vir die aarde” en getuig van goeie smaak! Ek en jy moet ons omgewing ‘verryk’  – “Wat (ons) sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en (ons) moet weet hoe (ons) elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6).

 

“The saltless salt or the non-Christian Christian will not only be thrown out as useless trash in God’s sight, but will also be trampled underfoot by men” (Brian Schwertley).

 

Gebed: Here, my mensheid het beperkinge maar ek roem in U krag. Ek is eintlik ‘n korreltjie niks wat deur U ‘n korreltjie sout gemaak is. Wanneer ek as sout vir hierdie aarde nutteloos  word, maak my asseblief weer bruikbaar. Ek vra dit in afhanklikheid tot U eer. Here, help asseblief. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page