top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 27 November 2024

Koos Espach


Niemand is regverdig nie (1)


Almal staan skuldig voor God

 

Rom. 3:9-12 – “Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10 Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (vgl. Pred. 7:20); 11 daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie (vgl. Ps. 14:2; 53:3). 12 Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (vgl. Ps. 14:3; 53:4).” (1)

 

Paulus bring sy argument oor die sondeskuld van die Jode en heidene in Rome, eintlik van álle mense oor die hele wêreld, tot die konklusie dat “almal in die mag van die sonde is.” Dit is ‘n donker en sombere prentjie maar ongelukkig, natuurlik die waarheid. Om sy punt verder te beklemtoon dat die mensbeeld wat hy aanhaal, nie net sy persepsie is nie, maar dit bevestig is in sy Bybel. Hy haal nie minder as elf keer uit die Ou Testament aan om sy argument te staaf. (Hy was, sonder dat hy besef het, self besig om aan ‘n gedeelte van die toekomstige Nuwe Testament te skryf).

 

Net in die eerste twee verse onderstreep hy letterlik ses keer dat “daar nie een is” wat God se wil doen nie. Soos ‘n string pêrels ryg hy elke negatiewe ‘pêrel’ in en voltooi die string met almal het ontaard.” ‘n Mens voel hoe die protes in jou opstoot terwyl Paulus hierdie sombere prentjie skets. “Paulus, wag ‘n bietjie, ek weet darem nie, die mens is nie werklik só sleg nie! Jy kan nie álmal onder dieselfde kam skeer nie, daar móét goeie mense ook wees.” Wat Paulus egter wil uitlig is die feit dat almal nie ewe siek is nie, maar wel ‘n sonde-siekte het. Almal op aarde het die pad byster geraak. Die mens het die verhouding tussen God en hom vertrap, God se wil met sy eie wil vervang!

 

Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van standaarde ‘n norm geword het – ‘n verlaging van lewensstandaarde, standaarde van eerlikheid, van ywer, pligsgetrouheid, morele en slegste van almal, godsdienstige standaarde. As ons net hier in Suid-Afrika so om ons kyk, blyk dit dat daar geen standaarde meer bestaan nie. Elkeen maak sy eie standaarde volgens sy eie wil. Dit blyk asof God nêrens meer in die wilsbesluite van die mens ingesluit word nie. Stephan Joubert sê Paulus beskryf in Romeine 3 die uitslag van God se ‘godsdienstoets.’ Hy het naamlik alle mense op aarde gemeet en aan Paulus die resultate gegee. God se beslissing is kort en kragtig: “Almal, d.w.s. alle mense, Jode en nie-Jode, is in die mag van die sonde.”

 

Die uitslag van God se ‘godsdienstoets’ is nie rooskleurig nie. Op ‘n skaal van een tot tien dink ek het die mensdom ‘n ronde nul gehaal. Nul uit tien is wat God van ons mense se vroomheid dink! Maar, dankie tog, God het nie net ‘n ‘godsdienstoets’ gehou nie, Hy het ook iets aan die powere situasie gedoen. Hy het self die oplossing voorsien vir hierdie verlore wêreld.

 

Paulus skryf vir ‘n jong Timoteus die volgende: Onthou altyd dat Jesus Christus ... uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig” (2 Tim. 2:8).  Vandag wil Paulus vir my en jou dieselfde op die hart lê om te onthou. Hy smeek ons eintlik om dit nie te vergeet nie. Sonder om die swaar omstandighede mis te kyk of te maak of dit nie daar is nie, sonder om te probeer om pleisters te plak wat te klein is vir al die seer en sonde van die wêreld, wil Paulus voorstel dat ons met alles wat in ons is aan die enigste vaste Rots vasklou: Ons moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak.

 

Ons moet onthou dat God my en jou só liefhet dat Hy bereid was om sy Seun, Jesus op te offer, te laat doodmaak, te laat afgaan in die dal van doodskaduwee. God het dit gedoen. Hy het reeds sy liefde aan ons kom wys, Sy liefde laat grondvat voor ons oë, deur die reddende daad van Jesus wat moes sterf aan ‘n houtkruis. Hoe seer, hoe stukkend, hoe vernederend, hoe alleen moes Jesus en ja, God ook nie gewees het nie. En dit alles vir my en jou – sodat ons nooit hoef te vra: “My God, waarom het U my verlaat?”

 

God is aan ons kant. Weet dit en leef dit. Weet en vertrou en sê dit sommer hardop dat die almagtige God, wat sy Seun uit die dood laat opstaan het, aan ons kant is. Hoe groot is ons sonde-probleem? Dit sal seker nie meer energie van God vra as toe Hy Jesus uit die dood gaan haal het nie? Of hoe? Hier is dus nog ‘n belofte: die Een wat my en jou as sondaars gaan help, is oor en oor bevoegd om dit wel te kan doen! Hy word nie net aangevuur deur ‘n hoop liefde en genade nie, maar Hy het ook al die krag wat nodig is om dit wel te kan doen!

 

“Geen mens is so ver verlore dat Jesus hom nie kan vind en kan red nie” (Andrew Murray).

 

Gebed: Jesus, ek wil nooit vergeet dat U dood was en weer lewend geword het deur die krag van ons Hemelse Vader nie. Deur U krag kan ek ook ’n lewe van oorwinning leef vol seëninge van U. Here, wees U geredde sondaar tog genadig. Dankie, dankie, dankie! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page