Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 26 November 2024
Koos Espach
Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie (4)
Luister en glo
Rom. 3:7-8 – “Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel? 8 Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.”
Vergelyk ook Joh. 5:24 – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Die vraesteller in Paulus se verbeeldingsgesprek probeer sy knaende vrae oor God se regverdigheid, op ‘n ander manier bevestig. As dit dan blyk dat God die sonde van die mens kan gebruik tot sy verheerliking, is die logiese gevolgtrekking nie dat die mens dan maar kan aanhou sondig, omdat dit uiteindelik tot groter verheerliking van God lei nie? God is mos getrou en regverdig en in liefde vergewe Hy tog álle sonde (1 Joh. 1:9), daarom kan ons maar rustig voortgaan om te sondig, lustig God se Woord vertrap en dan tóg gered word – hoe meer ons sondig hoe groter is God se genade dan.
Paulus vind dit egter ’n lasterlike gedagte. “Daar is mense wat hom dit in die mond lê” dat sy leer van die verlossing deur genade daarop neerkom dat ’n mens die verkeerde maar kan doen sodat die goeie daaruit kan voortkom. God is heilig en Hy haat die sonde, die sonde wat skuld meebring en waarvoor God betaling eis. Dit is onaanvaarbaar dat ‘n mens kan dink dat hoe méér hy sondig, hoe méér word God se genade. Ons kán nie God se genade gebruik as ‘n dekmantel vir ons sonde nie! Paulus wys dié voorstelling van sy evangelie-verkondiging op die sterkste moontlike manier van die hand. Mense wat só redeneer, “kry die oordeel wat hulle verdien.”
Ons moet egter onthou dat God oneindig groter is as ons. God se logika skryf ons nie af nie, Hy hou aan om ons lief te hê ten spyte van ... ! God se trou, sy almagtigheid en liefde nooi ons uit om na Hom te kom. God verlekker Hom nie in ons sonde nie. Hy raak ook nie verbitterd en skryf ons sommer net af nie. Hy treur oor ons sonde en oor die seer wat ons oor onsself bring. Daarom het Hy Jesus gestuur om ons sondaars met Hom te versoen en met groot nadruk, spreek Jesus hierdie sentrale waarheid uit in ons vergelykende teksvers van Joh. 5:24. Die weg tot redding van die mens, wat weens die sonde dood is onder die oordeel van God, is nou moontlik deur die eenheid van Vader en Seun.
Vir die redding stel Jesus twee vereistes wat wesenlik op dieselfde neerkom. Die eerste is om te “luister na wat Hy sê ...”. Die gelowige aanvaarding van die blye boodskap van verlossing wat Jesus kom verkondig het, is die eerste tree op die pad na die ewige lewe, en die tweede, is om “... in God te glo wat Hom gestuur het.” Ons gelowiges “glo God” omdat God waaragtig en, geloofwaardig en regverdig is. Wie God op hierdie wyse glo, sal besef dat net onderhouding van die wet, soos die Jode gedoen het, nie voldoende is om die ewige lewe te verkry nie. Daar moet ook geloof wees in die openbaringsdaad van God soos dit volvoer is in die koms van Jesus Christus, sy kruisiging en dan moontlik die belangrikste: Jesus Christus wat uit die dood opgewek is! Dit is die hartklop van die Christendom.
Wanneer ons “luister na wat Jesus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees, verander in liefde. Wanneer ek en jy onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, “gaan ons uit die dood oor tot die lewe.” Ons leef nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Die tydverdrywe en verkeerde dinge wat ek en jy vroeër gekoester het, het nie meer dieselfde aantrekkingskrag nie. Die doelstellings wat ons so naarstigtelik nagejaag het, is nie meer so belangrik nie.
Dit is ‘n sekerheid in hierdie lewe – As ek en jy “luister na wat Jesus sê en in God glo wat Hom gestuur het,” hou God ons vas. Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Ons sal beslis ook nooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, God hou my mos, Hy sal nie los nie. Hoe meer ek sondig, hoe meer word God se genade, ek kan maar aanhou om te sondig.” Nee, ons moet dan ons verhouding versterk deur kerk toe te gaan sodat ons kan “luister na wat Jesus sê” en hoor wie “Hom gestuur het in Wié ons moet glo!”
Watter wonderlike belofte en versekering dat ons, as ons “na die woorde van Jesus luister en in Sy Vader glo,” nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds “uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het.” Só groot is ons God van die Bybel, die God in Wie ek en jy glo. Sy trou, grootheid, regverdigheid en liefde is onmeetbaar. Hy nooi ons opnuut uit om na Hom te kom. As ons Hom in geloof volg, ons verhouding met Jesus Christus versterk deur die Gees wat ons lei, hou Hy ons stewig in sy hande vas, daardie selfde hande wat deur “God wat Hom gestuur” het se genade, deurboor is vir ons sondes! Aanvaar hierdie uitnodiging en koester dit!
“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ...! Ware geloof is om kruis te dra. Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).
Gebed: Dankie Here vir U genade. Dankie Jesus dat U die magte van die dood oorwin het. Dankie dat U deur U sterwe en opstanding vir my die pad na God se wêreld toe oopgemaak het. Hou my vas Here, ek wil nooit laat los nie! Amen.
Kommentare