Gedagte vir Vandag
Maandag, 25 November 2024
Koos Espach
Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie (3)
God se logika van genade
Rom. 3:5-6 – “Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie? 6 Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel?”
Paulus se derde vraag gaan basies oor dieselfde probleem en God se regverdigheid. Paulus stel dit aan ons dat “ons verkeerde dade God nie anders oor die wêreld sal laat oordeel nie.” Hoe moet God Sy afkeer aan die sonde anders tot uitdrukking bring as om nie kwaad te word daaroor nie? God kan nie doodluiters maar toelaat dat ons maak soos ons wil nie. Sonder ‘n lang betoog, wys Paulus hierdie vraag feitlik onmiddellik af met ‘n teenvraag: “Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel?” Daarom is God se oordeel, sy tugtiging van ons sondaars, billik en regverdig en “nie onregverdig as Hy ons straf nie.”
God se almagtigheid stel Hom ook steeds in staat om alles te doen wat Hy beloof het. Sy betroubaarheid in alles wat Hy beloof het, is nie onhaalbaar of bokant sy vuurmaakplek nie – “Ons ontrou sal nie die trou van God laat ophou nie” (v. 3b). Die Hebreërskrywer bevestig dit: “En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat Sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. 18 Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19 Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is” (Heb. 6:17-19).
Dit bring ons weer terug by die vraag of God regverdig is? Die Bybel leer ons dat ons Vader in die hemel ‘n liefdevolle God is en dat Hy op geen ander manier teenoor ons optree as vanuit sy oneindige liefde nie. Dit is nie ons wat soek na God nie, maar God wat in sy groot liefde afbuig na ons toe. Hy soek my en jou en wil ons tot die besef bring dat ons ‘n rol het om te speel in hierdie wêreld. Ons hou egter daarvan om te dink dat ons weet wat vir onsself goed is en dat ons dit wat goed is kan toepas op ons eie manier. Ons het nie regtig iemand nodig nie. Ons kan onsself help.
Maar dan kom die realiteit dat dit nie so eenvoudig is nie. Dan kom die woorde van die Bybel dat elkeen van ons, sonder uitsondering, sonde doen en tot niks goeds in staat is nie. En die oomblik as ons dit hoor, dan gebeur iets in ‘n mens. Dit is asof ons wil sê: “Maar ek is darem ook nou nie so sleg (soos die tollenaar hier langs my nie). Ek probeer darem die regte dinge doen en ek probeer die regte keuses maak. Dit is nou nie nodig om altyd so klem te lê op ‘n mens se negatiewe punte nie – daar is darem baie positiewe aspekte ook. Nie alle mense is darem so sleg nie. Ja, daar is slegte ouens, maar dan is daar darem ook ouens wat beter is. God moet dit ook in gedagte hou.
As God regverdig is, kan Hy tog nie vir my en die korrupte staatsamptenaar of politikus wat verantwoordelik was vir staatskaping, oor dieselfde kam skeer nie. Hy kan ons wat gereeld kerk bywoon nie eers in dieselfde asem noem as die plaasmoordenaar, of kinderverkragter nie. Dit is nie regverdig om mense deur die bank oor dieselfde kam te skeer nie. Ek leen nie my ore aan slegte mense uit nie; ek hardloop nie agter die sonde aan nie; ek is nie bevriend met mense wat met God spot nie; ek geniet God se Woord en lees dit sonder om moeg te word (Psalm 1). En as God op dieselfde manier na alle mense kyk; ons almal oor dieselfde kam skeer, dan kan God mos nie regverdig wees nie.
Maar voor ons te krities raak, kom ons vra die vraag vir Jesus Christus: “Here Jesus, is God regverdig? Vir ons klink dit nie billik om ons wat werklik hard probeer en iemand wat nie ‘n saak met God het nie, oor dieselfde kam te skeer nie. Dit is darem nie regverdig nie. Is God werklik regverdig in die manier hoe Hy na mense, na ons kyk?” En Jesus antwoord ons: “Sit bietjie rustig en luister na die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Matt. 20:1-16). Julle vra My of God regverdig is? Volgens julle menslike maatstawwe, nee, en dank die Vader daarvoor! As Hy was, was julle verlore.”
“Dink julle dan God is onregverdig? Nee, nooit vir een oomblik nie. Maar sy hart vol liefde laat Hom verby dit kyk wat julle dink julle verdien of wat julle nie verdien nie. God beloon almal wat in Hom glo, op presies dieselfde wyse. Hy trek niemand voor nie. Hy oorlaai julle met volheid en liefde, en dit is nie iets wat julle kan verdien nie. Dit is God se logika van genade: maak nie saak wat jy verdien nie, God wil genade gee.”
Elkeen van ons wat dus dink dat beloning afhang van dit wat ek en jy doen, verstaan nie hoe God werk nie, verstaan nie God se hart nie. En die blote feit dat dit vir ons nie lekker is om te hoor hoe daar dalk genade aan ander minder goeie mense bewys word, wys vir ons hoe selfgesentreerd ons lewe en hoe selfgerig ons geloof soms is. En dit alleen wys vir ons hoe nodig ons God se genade het.
“Waar dit gaan oor die regverdigheid van God teenoor ons sondaars, moet ons heeltemal vergeet van die wet óf van ons goeie werke, en enkel en alleen op God se genade vertrou” (Johannes Calvyn).
Gebed: Dankie Heer, dat by U nie belangrike en onbelangrike Christene bestaan nie. Ek besef weereens, U het regtig nie witbroodjies nie. U regverdige genade is vir my genoeg! Dankie dat U my net so hoog ag as al die ander Christene en my beloon met die ewige lewe. Amen.
Comentarios