top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 22 November 2024

Koos Espach


Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie (2)


God bly altyd getrou


Rom. 3:3-4 – “Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? 4 Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar, soos daar geskrywe staan: ‘U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen u saak wanneer U aangekla word.’”

 

Vergelyk ook Matt. 5:37 – “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die bose.”

 

Paulus stel nou sy tweede kwelvraag aan sy Joodse-gespreksgenoot maar kon netsowel gerig wees aan alle mense. Hy beklemtoon beslissend dat dit nie God is wat ontrou geraak het nie, maar die mens. Israel het die vertroue van God en sy openbaring deur sy Woord verwerp. Hulle het God teleurgestel en daardeur het Israel van sý kant af, die verbond verbreek en die verskil tussen hom en die heidene uitgewis. Hulle redeneer nou met menslike logika dat “hulle ontrou die trou van God sal laat ophou”, dat God sy beloftes sal terugtrek.

 

Dit is asof Paulus sê: “Wag so ‘n bietjie, jy redeneer nou met menslike logika. God se logika werk anders. Dit lyk my jou geheue is maar kort. Die mens se ontrouheid kan nooit die getrouheid van God vernietig nie! “Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar.” Ons ontrou hef nooit God se trou op nie, Hy bly altyd aan Homself getrou. Paulus lê dit vir ‘n jong Timoteus en ons op die hart: “As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Tim. 2:13). Daar is geen einde aan God se trou nie want God is oneindig betroubaar in Sy onmeetlike liefde vir ons.

 

God is onveranderlik en almagtig, “dit staan vas dat God betroubaar is.” Hy is steeds dieselfde God van tweeduisend jaar gelede – die God wat was en wat is en wat sal wees, die God van alles en altyd en ewig – Hy het nie van opinie verander nie. Paulus bevestig dit ook in sy gebed aan die Efesiërs: “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18). God se trou is net soos sy liefde, ‘n werklikheid – “wyd en ver en hoog en diep.” Met ander woorde, sy liefde is alomteenwoordig en allesdeurdringend! Dié liefde het ons nog steeds lief, al breek ons weg! Dis Agapé liefde!

 

Waar laat dit ons? Is Paulus nie ‘n bietjie kras wanneer hy sê dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar.” Ons leef in 'n wêreld waarin betroubaarheid baie skaars geword het – die teenoorgestelde is ongelukkig aan die orde van die dag. Neem byvoorbeeld net in die politieke wêreld het ons só gewoond geraak aan korrupsie en bedrog en leë retoriek in die spel van eie gewin, dat ons nie eers meer aanstoot daaraan neem nie. Huweliksontrou is in baie kringe só algemeen, dat dit amper die norm geword het.

 

“Dit staan vas dat God betroubaar is.” Die waarheid is dat die lewe nie in kompartemente opgedeel kan word nie – ‘n kompartement waar God teenwoordig is en ‘n ander kompartement waar God nie teenwoordig is nie. Daar kan dus nie ‘n sekere standaard of gedrag in die kerk wees en ‘n ander standaard of gedrag by die werk, skool of waar ookal. God kan nie “uitgenooi” word na sekere plekke en nie na ander nie, God is oral! 

 

As Christene het ons ‘n verpligting om in die waarheid te leef, betroubaar te wees. As kinders van God erken ons dat Hy oor ons hele lewensbestaan, heerskappy voer en daarom kan ons geloofskinders se ‘ja, ja’ wees en ons ‘nee, nee’. Toe Jesus die woorde in Matteus 5:37, ons vergelykende teksvers, aan ons voorgehou het, het Hy gepraat oor iets so doodgewoon (en dalk seldsaam) soos geloofwaardigheid. Vir my en jou is dit nie nodig om te sê “ek sweer ...” nie. Nee, sê Jesus, ons moet liefs glad nie sweer nie. Sê bloot: “Omdat ek ‘n Christen is, kan jy my te alle tye op my woord neem.” Dit is hoe Jesus se volgelinge moet wees. Ander mense moet bloot weet hulle kan ons glo en vertrou.

 

“Waarom moet ons dan elke dag van voor af leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister Sy betroubaarheid bewys nie” En eergister? En die dag tevore?” (C.S. Lewis).

 

Gebed: Here, die sonde bring skuld mee en U eis betaling, laat U waarheid my dus lei en onderrig my daarin. Laat my mond en my hart en my gewete dieselfde taal praat. Help my om so te leef dat ek in alle opsigte getrou is aan die mens wat U my gemaak het om te wees. Amen.

Commenti


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page