Gedagte vir Vandag
Woensdag, 20 November 2024
Koos Espach
Die besnydenis sonder meer het nie waarde nie (3)
Gevra: harte wat besny is sodat ons liggie kan skyn
Rom. 2:28-29 – “Nie hy is ‘n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ‘n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.” (2)
Ons het gister gesien hoe Paulus sy Joodse ‘gespreksgenoot’ heeltemal van al sy merkwaardige ‘medaljes’ ontneem het, selfs van sy liggaamlike kenteken van sy Jood-wees, die uiterlike besnydenis aan sy liggaam. Paulus het dit egter nie gedoen om sy volksgenoot te verneder nie, maar om dieper te kyk, te kyk soos God kyk. Uiterlike handelinge beteken vir God niks as dit nie met ‘n innerlike handeling gepaardgaan nie, dit wil sê ‘n hart wat besny is om die wil van God te gehoorsaam. Reeds in Deuteronomium vra God vir die volk om die “voorhuid van hulle hart te besny ...”; en later belowe God hulle dat “Hy hulle harte sal besny en die harte van hulle nageslag ...” (10:16; 30:6 – 1933 vertaling). Hoekom?
Eers wanneer die mens besef dat hy nie so danig belangrik is as wat hy dink hy is nie, en ophou om homself te bluf met uiterlike vroomheid, sal hy op sy knieë beland en die tollenaarsgebed bid: “O God, wees my, sondaar, genadig” (Luk. 18:13). Vir sulke bedelaarsmense is God se genade bedoel. Dis wanneer ons breek met ons natuurlike neiging tot selfsug en sonde: “Deur ons verbondenheid met Hom is ons ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens” (Kol. 2:11).
Eers wanneer ons besef dat vroomheidshelde met blink medaljes God nie beïndruk nie, kan ons “met ‘n besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees,” God met toewyding dien. Paulus sê “ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie” (Fil. 3:3). Net die Gees kan dit regkry om ons te verander om die tollenaarsgebed te kan bid. Daarom is dit nodig om God in die Gees te aanbid. Hoe doen ons dit?
Andrew Murray, bekende geestelike wat diep spore in Suid-Afrika getrap het, sê “’n besnydenis wat in die hart gedoen is” veroorsaak dat daar niks is wat ons nader aan God bring of ons dieper in sy liefde inlei as voorbidding nie. Mooi né! Wanneer ons tot God nader, vra ons Hom eerstens vir die leiding van die Heilige Gees en dan dank ons Hom vir al die seëninge van ons lewe. God is ook gretig om te luister na ons belydenis van ons liefde vir Hom, ons diepe afhanklikheid, want Hy besef ons eie onvermoë. Hy wil weet ons vertrou volkome op Hom vir sy sorg.
Daarna rig ons ons gebed tot Jesus Christus en vra dat ons in sy genade sal bly. Hy weet dit, maar ons kan Jesus vertel dat Hy steeds ons Beskermer is, ons Weg, Waarheid en Lewe (Joh. 14:6). Ons spreek ons geloof uit in sy grenslose liefde, omdat ons gedurig herinner word aan dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Dit versterk ons liefde en geloof in wat God kan doen – ons bring lof aan Hom want ons “ontvang lof van Hom.” Hy sorg dat die Gees leiding neem in ons lewe.
Die Heilige Gees is die gewer van die krag en die gawes om die regte dinge te doen, die regte paaie te loop en “op Jesus Christus te beroem en nie op uiterlike dinge te vertrou nie.” Iets wat die Heilige Gees nié is nie, is die Persoon met ‘n towerstaffie wat ons lewe skielik in ‘n stukkie paradys verander. Stephan Joubert sê die Gees is ook nie ‘n ‘Versekeringsagent” wat polisse uitdeel waarin Hy ‘n gemaklike pad hemel toe waarborg nie. Daarom kry Christene partykeer swaar en kom daar twyfel in ons geloofslewe. Die Gees is wel daar as hemelse Hulp wanneer ons die planke tref (vgl. Joh. 14:15-26; 16:5-15).
Die Gees is daar wanneer ons val. Hy help ons op en verbind ons wonde sodat ons liggie weer sterk kan skyn. Hy help ons om ons “harte te besny” vir ander, ander wat gebed nodig het. Gebed moet nie net vir onsself wees nie. Ons liggie moet vir ander ook skyn – hulle wat ná aan ons is, diegene wat saam met ons woon; ons vriende en vir almal met wie ons in aanraking kom; vir hulle op ons sieke-lysie; vir hulle wat die Gees op ons harte lê; hulle wat nog nie Jesus Christus as hulle Verlosser ken nie. Jakobus sê ons moet vir mekaar bid (Jak. 5:16). Ek en jy is gered om te dien en is op die aarde met die uitsluitlike doel om God se liefde aan ander bekend te maak – dit is die middel waardeur die Gees in ons harte wat besny is werk!
“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om ons harte aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik” (William Barclay).
Gebed: Drie-enige God, ek dank U dat ek tot U mag nader met al die behoeftes van my hart en lewe. Ek bid dat U deur die werk van u Gees my liggie teenoor ander sal laat skyn en my ‘n getroue voorbidder sal maak. Amen.
Comments