Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 19 November 2024
Koos Espach
Die besnydenis sonder meer het nie waarde nie (2)
Innerlike besnydenis van die hart
Rom. 2:28-29 – “Nie hy is ‘n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ‘n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.” (1)
Vergelyk ook Matt. 6:22-23a – “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou liggaam lig hê. 23 Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees.”
Paulus redeneer verder dat sy mede-Jood wat besny is en hulle op hulle besnydenis beroem, maar nie die wet hou nie, se besnydenis eintlik ‘ongeldig’ is. Dat hulle besnydenis sy waarde verloor en hulle so goed soos onbesnede is. Sjoe Paulus, wat bedoel jy? Paulus wil hiermee nie sy mede-Jode verneder nie. Hy skryf hier nie oor wat die betekenis van die besnydenis is vir Jode of die heidene wat in Jesus glo, hy skryf oor die Jode van die Ou Testament vóór die koms van Jesus. Net dié Jode se besnydenis het regtig waarde gehad – “hulle wat innerlik ‘n Jood is, net dié wie se harte deur die Gees besny was.”
Paulus wil sy volksgenote help om met God se oë te kyk en met God se maatstaf te meet – om hulleself in die spieël te sien soos hulle werklik is. Waar te neem dat hulle geestelike bankrot sondaars is wat hulleself gebluf het met uiterlike vroomheid. En dis ‘n lyn wat dwarsdeur die eeue loop – die mens sien aan wat voor oë is, maar God sien die hart aan: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (1 Sam. 16:7b). Die ware Jood is hy wat God vrees, dan alleenlik het die besnydenis betekenis, want dit is die uiterlike teken en seël van ’n innerlike werklikheid.
Is ons innerlik besny en só ‘n hartsverandering ondergaan? Is ons harte só verander dat ons God se wil kan gehoorsaam? Het die lig in ons hart aangegaan? Kyk ons met God se oë sodat “die lamp van ons liggaam” die regte seine deurstuur na ons hart toe? Die oog word beskou as die “venster of lamp” van die liggaam waar lig ingelaat word. Die toestand van die ‘venster’ bepaal hoeveel lig deurgelaat word sodat die hart kan verander. Indien die venster skoon, kleurloos, nie skeef en geen skerm (gordyn of blindings) het nie, sal die lig onbeperk inskyn en die hele vertrek verlig – die harde hart in ‘n vleishart verander: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee” (Eseg. 36:27).
Jesus wil vir ons vra hoe ons dinge sien? Hoe neem ons waar? Is ons harte gesteld op sy stelling dat “ons lig vir die wêreld is?” (Matt. 5:14). Beskik die lig wat deur die “lamp van die liggaam” oor enige geestelike waardes sodat ons ‘n hartsverandering ondergaan, of is ons visie só dubbel omdat die ‘venster’ vuil is? Is ons oog op geestelike waardes of materiële waardes ingestel of het ons miskien dubbelvisie deur die geestelike waardes vir Sondag te bêre en die materiële vir die oorblywende dae van die week? Dit is eintlik retoriese vrae, want daar is net een waarheid: die uiterlike van my en jou of wie ook al, maak geen verskil aan wie ons by God is nie!
Jesus verwys hier in ons vergelykende teksvers na die goeie en slegte. Die goeie oog sien nie altyd net die donker en slegte nie, maar neem die mooi dinge van ander in ag en die mens word verlig met liefde – ‘n besnede hart! Die lelike en slegte dinge word dan vervang met naasteliefde wat aansteeklik is, wat omgee, wat die goeie in ander waarneem ten spyte van ...! “En dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie.” Ons is dan ligte wat skyn in ‘n donker wêreld want ons “venster” laat suiwer lig deur – ons harte is besny om God se wil te gehoorsaam!
Die slegte oog neem net inhaligheid en afguns waar want daardie oog is op aardse skatte gefokus. Dit veroorsaak jaloesie teenoor ander. Die ‘venster’ is gesluit vir ander se nood, hulle haat dit om ander gelukkig te sien, hulle is vir almal kwaad en is gedurig in konflik met almal. Hulle wéét die beste, ís die beste en niemand sal hulle kan verander nie. Die gevolg is dat dit onmoontlik raak om met hulleself saam te leef, onmoontlik om met ander saam te leef en onmoontlik om met God saam te leef. Andrew Murray het die volgende stelling gemaak: “Die oog is ‘goed’ as dit raaksien dat die enigste lig van Christus kom en te sorg om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart en in my lewe te kry, sodat ek ander raaksien!” God trek immers niemand voor nie!
“There can be no fellowship between the God whose heart is afire with love, and the man whose heart is frozen with meanness” (William Barclay).
Gebed: Ons Vader, daar is so baie donkerte in die wêreld van vandag. Baie roep in wanhoop uit: “Waar is God, wys Hom vir ons? As Hy bestaan sal die wêreld nie so lyk soos nou nie.” Daarom Here, help my deur u Gees om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart en in my lewe te kry. Laat ek met alles binne in my, ‘n beelddraer van U wees. Amen.
Comentarios