Gedagte vir Vandag
Maandag, 18 November 2024
Koos Espach
Die besnydenis sonder meer het nie waarde nie (1)
Ongemaklike waarheid van neersien op ander
Rom. 2:25-27 – “Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie. 26 As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie? 27 Ja, iemand wat kragtens sy afkoms ‘n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree.”
Náás die besit van die wet, was die besnydenis vir die Jood die één groot kenmerk van andersheid en verhewenheid bo alle ander volke. Hulle het dit selfs as een van die hoekstene van hulle geloof beskou. Die besnydenis was hulle trots. Hulle het hulself op die besnydenis beroem, want dit was die teken van God se verbond met hulle en hulle sodoende ‘afgesonder’ van ander nasies. Eintlik was hulle van mening dat iemand wat besny is, nie verlore kan gaan nie. Alhoewel Paulus nie ontkennend is teenoor die betekenis en waarde van die besnydenis nie, kom spoil hy egter nou hulle selfversekerdheid en ruk sy ‘Joodse-gespreksgenoot’ se vroomheidsmasker nog verder af.
Dit moes vir die vrome Jood in hierdie Romeinse gemeente ‘n verskriklike skok gewees het met hulle mede Joodse-burger se uitspraak. Hulle sou beslis hewig ontkennend geantwoord het op Paulus se volgende irriterende vraag: “As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie?” Want sien, vir die vrome Jood was dit hééltemal onmoontlik dat ‘n onbesnede heiden, God se gebooie sou kon onderhou!
Paulus wou hulle egter laat verstaan dat dit nie die uiterlike besnedenheid of onbesnedenheid is wat op sigself van belang is nie, dat dit nie die besit van die wetsvoorskrifte is nie, maar die dóén daarvan wat deurslaggewend is. Dit is moontlik dat Paulus hier gedink het aan die vrome Fariseër se uiterlike voorkoms teenoor die tollenaar se nederige sondaarsbestaan in die bekende gelykenis van Jesus oor die Fariseër en tollenaar (Luk. 18:9-14).
Wanneer ons die gelykenis lees, is die aanvanklike gedagte dat ons presies weet waaroor dit gaan – die hoogmoedige Fariseër teenoor die nederige tollenaar – die besnedene teenoor die onbesnedene. Die Fariseër en die tollenaar verteenwoordig die twee uiterste groepe in die Joodse volkslewe: dié wat in hulle eie oë godsdienstig onberispelik was en wie se hoofdoel was om die wet van Moses te handhaaf; teenoor dié wat in almal se oë, ook in hulle eie, godsdienstig die uitgeworpenes was – die slegte en skelm tollenaars wat sosiaal nie aanvaarbaar was nie. Beide het egter ‘n gemeenskaplike doel gehad: om na die tempel te gaan op die gereelde gebedstyd en daar ’n gebed te doen.
Ons ken almal die verskillende gebede van die twee. Maar wat is die storie agter die storie? Waarom het Jesus die uitspraak gemaak dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is? Die geheim van Jesus se storie lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel …”
Die Fariseër se fout was dat hy homself nie voor God gesien het nie maar langs die tollenaar en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God eintlik net oor alles wat hy het én die mooi eienskappe wat hy besit. Hy gee homself punte vir sy godsdiens en geloof en in sy oë is hy ‘n ‘groot gelowige.’ Volgens sy godsdienstige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk en net so terloops as ‘n kantlyn aantekening, dank hy God daarvoor. Daarenteen kon die armsalige tollenaar, die groot sondaar, geen boksies aftiek nie!
Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos hierdie Fariseër of die sogenaamde besnedenes nie? Het ons nie al onsself gemeet aan die lewe van ánder mense nie? En so bepaal ons ons eie waardes – deur te let op die waardeloosheid van ander. My kerkbesoek in vergelyking met my buurman s’n is werklik indrukwekkend – o ja, dis net genade. Maar die bors swel terselfdertyd van trots. Neem nou maar my getrouheid – ek is altyd teenwoordig en ek bring mý kant. Wanneer ons onsself ondersoek, maar meet met ander se swakhede, eindig ons dalk net met selftevredenheid en uiteindelik met selfverheffing en hoogmoed! Maar dit kom tot ‘n val: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word” (Luk. 18:14b). Is die besnydenis van die hart nie dalk baie beter nie?
“Mense wat hul eie voortreflikhede besing, is meestal soliste” (Onbekend).
Gebed: Hemel Vader, terwyl ek U dank vir U genade dat U my so ‘n modelmens gemaak het, moet ek nie vergeet van my eie misvormdheid, onvergeeflikheid en misgrype in die lewe nie. Weerhou my om my tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U ewigheidswaardes te koppel. Amen.
Comments