top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 15 November 2024

Koos Espach


Die Jode en die wet (3)

 

Dra Jesus se Naam getrou

 

Rom. 2:21-24 – “Jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy nie? 22 Jy wat sê ‘n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat ‘n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie? 23 Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? 24 Inderdaad, soos daar geskrywe staan, ‘as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”

 

Vergelyk ook Matt. 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”

 

Paulus het pas die nege ‘medaljes’ wat die vrome Jode om hulle nekke gehang het, hulle sogenaamde voortreflikhede wat hulle volgens die wet van God van jongs af ontvang, beskryf. Terwyl hulle trots hierna geluister het in die brief wat hy geskryf het, het hulle besitreg van God se wet as ‘n vanselfsprekende feit onder mekaar bevestig. Maar, Paulus peper hulle dan met ‘n aantal vrae wat die kloof tussen pretensie van die Jood, en die werklikheid van sy lewe aan die lig bring. In wese doen Paulus se mede-Jood, presies wat die heidene doen en daarom “doen hy God oneer aan.” Die Jood wat veronderstel was om deur sy voorbeeld en roeping, heidennasies na God toe moes trek, veroorsaak nou dat God se “Naam deur hulle belaster word.”

 

Daar is ‘n nugtere onderskeiding ter wille van die evangelie van God se koninkryk, wat heilig en kosbaar is soos pêrels. God is die God van liefde maar Sy liefde is nie goedkoop nie en Hy laat nie hierdie duur liefde vertrap nie! Die wet is die uitdrukking van God se heilige wil en die verkragting en vertrapping van God se wil, is ‘n aantasting van God se eer! Dít wat heilig is, en die boodskap van God wat liefde is, het ‘n duur prys gekos aan die kruis.

 

Die vromes, die godsdienstiges en die ordentlikes wat dink dat hulle self kan regkom en dat hulle net die regte medisyne het vir hul sondepyne, reken mos hulle het niemand anders nodig om hulle die regte pad te wys na God toe nie. Dit is juis hulle wat Jesus gekruisig het, vroom en godsdienstige mense met ‘n vaste sisteem van reg en verkeerd, goeie kerkmense. Die probleem egter is dat dit mense is wat nie in ‘n verhouding met God gestaan het nie. Hulle wat ander mense wat nie die wet van God gehad het nie, moes leer, het die eer van God verwerp!

 

Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees “vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef ook nie almal te ken nie – Gód ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie op iemand anders af te dwing nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by húlle eis – God sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns staatmaak, Hy sal ons krag gee.

 

Maar, as gelowiges in Jesus Christus het ons natuurlik ‘n naam aangeneem wat ons ten sterkste moet beskerm. Deurdat ons “Christene” genoem word, het ek en jy die verantwoordelikheid om die “Naam van God” te beskerm en sorg dat mense hierdie kosbare Naam nie “belaster” nie. Ek en jy moet die Naam van Jesus Christus met eer en waardigheid dra. Christen beteken immers “hulle wat aan Christus behoort.” Ons name is reeds met ons doop aan die Naam van die drie-enige God vasgemaak – dis ‘n Naam wat respek afdwing!

 

Mense moet uit ons optrede agterkom dat ons niks sal doen wat ‘n reflekse op Christus se Naam werp nie. Paulus moedig ons ook aan om alles in die Naam van Jesus Christus te doen: “Wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol. 3:17). Jesus het ons sy Naam gegee, ons moet dit getrou eer en dra. Ons moet belowe ons sal niks doen wat sy Naam seermaak nie. Ons sal niks doen wat maak dat ander sleg dink van Jesus nie. Ons optrede sal maak dat mense sy Naam eer en respekteer, aanbid en heilig. “That’s a tall order!” Nie as ons besef Jesus Christus wil ons help onthou: “Dis my Naam daardie – moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie – wees versigtig daarmee!”

  

“It is always possible to show men Christ; and the weakness of the church lies not in lack of Christian arguments, but in lack of Christian lives.” (William Barclay).

 

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, help my dat ek nooit moeg sal word om die lig van U liefde en vrede aan ander te wys nie. Help my om eervol as U kind op te tree en in u Naam so te lewe dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ek in U Naam was. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page