Gedagte vir Vandag
Donderdag, 14 November 2024
Koos Espach
Die Jode en die wet (2)
Raak ontslae van die maskers
Rom. 2:17-18 – “Jy, jy sê jy is ‘n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, 18 jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word.”
Vergelyk ook Jak. 2:8-10 – “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,’ dan doen julle reg. 9 Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10 As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.”
Die Jode, (afkomstig van Judeër), het sedert hulle terugkeer uit die ballingskap, hulle meerderwaardig teenoor ander nasies, die heidene wat volgens hulle, onrein was, beskou. Vir hulle was die naam “Jood” ‘n erenaam as aanduiding van die hele Israel. In plaas daarvan dat Israel hulle onderskeidenheid van ander volke in diepe nederigheid aanvaar het as onverdiende geskenk van God se genade, het hulle egter daarin ‘n grond gevind vir vleeslike roem en selfverheffing bokant ander. Hulle het die heidene selfs beskou as ‘honde’ (Mark. 7:27). Ons kan maar sê, hulle Godgegewe roeping het verander in ‘n stuk menslike trots.
Ons moet ook onthou dat Paulus hierdie Romeine-brief aan die Jode wat in Rome gewoon het, geskryf het. Daar het egter ook nie-Jode gewoon wat daar die Joodse-geloof aangeneem het. Tans fokus hy egter net op die Jode wat hierdie brief lees. Nadat hy die nege ‘medaljes’ waarmee die Jode so gepronk het vir hulle opgenoem het, wil hy verhoed dat hulle bors behoorlik swel van die trots en klink dit vir ons of hy nou meewarig onder hulle inklim. Effens aanvallend wil hy weet: “Jy, jy sê jy is ‘n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is,” doen jy wat jy ander leer om te doen?
Die wet van Moses is eintlik die wet van God, en as ’n eenheid beteken dit om te “struikel ten opsigte van een gebod”, ’n vergryp is teen die hele wet, dit wil sê teen al die gebooie. Liefde byvoorbeeld beteken om vir ander mense lewensruimte te skep, selfs die heiden of jou vyand (Matt. 5:24). Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diegene op ons voorkeurlysie nie. Indien ons ‘n voorkeurlysie van liefde wil toepas, word naasteliefde selektief, word liefde vir ander, minderwaardig. En dan oortree ons die hele wet.
Dit bring ons by die vraag of ons ander mense ook lewensruimte wil gee want die wet is dieselfde wegwyser wat ons naaste ook lewensruimte wil gee. Ons weet mos teen hierdie tyd ons kán die wet nié volkome en in alle opsigte uitvoer nie. ‘n Persoon moet nie aangeneem word volgens sy status of voorkoms nie maar deur nakoming van die koninklike liefdesgebod – om jou naaste lief te hê soos jouself en God bo alles! Deur partydig op te tree is nié nakoming van die wet nie en daarom is dit sonde. Ons moet dus ‘maskerloos’ leef. Dit beteken om in die openbaar tussen mense op te tree soos ons is – om voor en agter mense ek en jy te bly soos ek en jy is! Om ander lief te hê soos ons onsself liefhet.
Ongelukkig is dit nie altyd moontlik om nie soos ‘n verkleurmannetjie te wees nie. Ons is geneig om van kleur te verwissel – Sondag die vroom kerk-gesig en die res van die week ‘n gesig vir elke geleentheid. Gelukkig verander Jesus skynheiliges in heiliges. Elke navolger van Hom laat Jesus toe om in die lig van sy goedheid te leef. Hy maak ons vry van sondige dinge soos selfsug, bitterheid en valsheid. Hy verwyder die maskers sodat ons kan doen wat ons ander leer om te doen. Ons hoef regtig nie iets anders voor te gee nie. Die Here weet mos wat elke oomblik in ons lewe aangaan. Ons kan Hom nie bluf nie. Daarom mors ons nie kosbare tyd om langer ons maskers te probeer opsit nie.
Ons probeer ook nie meer om mense te beïndruk nie, want hulle bepaal regtig nie die waarde van my en jou lewe nie. Al wat nou saak maak, is die Here se goedkeuring – “die God wie ons roem ons God is” – sy glimlag, sy sagte hand op ons skouer. Dis al wat tel! Ek en jy kan die maskers wat ons dalk nog êrens in ons lewe bêre om so nou en dan dalk weer te dra, sommer nou van ontslae raak. Ons kan net onsself wees. Ons hoef nie iemand anders te wees as daardie mens wat die Here ons gemaak het nie. Ons kan eg leef, sonder tierlantyntjies, sonder ‘n opgesmukte geloof – ons kan leef, net vir Jesus!
“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die nasies insluit in die gebod van die naasteliefde” (Prof. Dirkie Smit).
Gebed: Onse Vader, ek wil saam met Paulus ten hemele roep: Dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling (Fil. 1:9). Daarom dank ek U Here Jesus, dat U aan die kruis ook met al my stukkendheid ‘n plan gemaak het en ek daarom in U vergifnis mag lewe. Amen.
Comentários