top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 13 November 2024

Koos Espach


Die Jode en die wet (1)

 

Ewigheidsbeloning kan nie bereken word nie

 

Rom. 2:17-20 – “Jy, jy sê jy is ‘n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, 18 jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. 19 Jy is daarvan oortuig dat jy ‘n gids vir die blindes is, ‘n lig vir dié wat in die duisternis is, 20 ’n leermeester van dié wat onkundig is, ‘n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid.” (1)

 

Paulus het in die vorige sestien verse hom toegespits op die heidene, maar tog ook reeds die Jode in gedagte gehad. Nou fokus hy voluit op die Jode in die gemeente van Rome, wat wesenlik net so skuldig is as die heiden met sy opvallende sondes, en daarom onder dieselfde oordeel van God val. Beide die nie-Jood en die Jood het die wet in hulle harte en gewete gehad, die verskil is dat die Jode dit nog in geskrewe vorm óók gehad het. Dit is egter waar die verskil eindig, albei het nie die wet gedóén nie!

 

En dit is hier waar Paulus die Jood met sy eie vlak van selfvoldaanheid ontmoet. Hy noem hier nege voortreflikhede waarmee die vroom Jood so graag gepronk het. Nege ‘goue medaljes’ waarop die vroom Jood trots om sy nek gehang het: Hy is lid van God se uitverkore volk; hy regverdig homself want hy kan op die wet daarvoor staatmaak; die ware God is sý God; hy ken die wil van God; hy weet wat werklik belangrik is; hy’s ‘n gids vir blindes; lig vir dié in die duister; leermeester vir onkundiges en onderwyser vir diegene wat niks weet nie.

 

Paulus het nooit ontken dat die Jode tog ‘n uitsonderlike posisie te midde van ander volkere beklee het nie. Maar wanneer dit egter lei tot selfverheffing en nie dat dit enkel uit God se genade is, en dat dié genade ‘n mens verplig tot ‘n lewenswandel in ooreenstemming met die genade nie, is alles skeef getrek. As hulle dit besef het, sou hulle dit immers in nederige dankbaarheid ontvang het. Maar nou het hulle gedink hulle goeie werke sou darem ‘n ekstra paar punte in God se hemelse ‘boekhousisteem’ tot hulle krediet gereken word.

 

Sommige van ons Christene loop ook en spog met ons ‘medaljes’. Ons is gou om te sê ons is uit genade gered, maar baie van ons klou nog vas aan die idee dat ons goeie werke tog ‘n paar krediete verdien om ons paadjie hemel toe te teer. Is ons goeie dade dan nie tot eer van Hom en uit genade nie? Ons is in elk geval nie veronderstel om boek te hou van ons goeie dade nie. Dis tog wat Jesus gesê het: “Ons linkerhand moet nie weet wat ons regterhand doen nie, sodat ons goeie daad verborge kan bly. Ons Vader wat sien wat verborge is, sal ons beloon” (Matt. 6:3b-4).

 

Is dit nie dalk kontrasterend met Jesus se opdrag waar Hy vir ons gesê het ons moet “ons lig so voor die mense laat skyn, dat hulle ons goeie werke kan sien …” (Matt. 5:16a). Nou klink dit asof Jesus Homself weerspreek. Die verskil is egter dat die Fariseërs se manier om liefdadigheid toe te pas, gedoen is om iets te verdién by God en deur mense geëer te word, en nié om “ons Vader wat in die hemel is, te verheerlik nie” (Matt. 5:16b). Jesus was dus geensins beïndruk nie. Hy het tot in hulle harte ingekyk en wat Hy daar gesien het, was die “self” wat erkenning gesoek het, en dit het Hom nie opgewonde gemaak nie.

 

Wat Hy daar gesien het was ‘n spul godsdienstiges wat verslaaf was aan mense se erkenning. Die mens wat gedurig bereken hoeveel hy gaan ontvang in ruil vir wat hy aan ander gee en doen, die mens wat God “gebruik” as sy rekenmeester – as ek sóveel doen sal ek sóveel terug ontvang – ‘n balanstaat van debiete en krediete. “God, ek het nou soveel gedoen, dit is nou U beurt om terug te gee!”

 

Wat is ons gelowiges in Christus, se beloning? Doen ek en jy godsdienstige dinge om God én mense te beïndruk, of om Hom te verheerlik? Ons Vader se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie, dit is gevul met ongelooflike seën. Die ewigheidsbeloning kan nie in geld bereken word nie, want God is ook daar. Hy deel Sy goedheid en krag uit aan elkeen wat saam met Hom dit waag en Hy voeg daagliks meer en meer by, sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander.

 

Dit is die moeite werd om ewige beleggings te maak in ‘n hemelse bankrekening. God word dan nie aangewend as my en jou “Rekenmeester” nie, Hy doen dan Sélf die berekeninge want ons het ons lewe by die regte “Bank” belê. Om op Jesus se pad te loop is om tyd en energie te spandeer aan ander, om diens te lewer, betrokke te raak by die Here van die dinge. Bewys aandag, deernis en ontferming aan ander, dis wat Jesus vir ons gedoen het. Deur onsself te gee as dienaar, is die beste belegging by God, by Hom is gewaarborgde ewige wins! “Ons Vader wat sien wat verborge is, sal ons beloon.”

 

“Wie dankbaarheid vir ‘n weldaad opeis, is ‘n handelaar, nie ‘n weldoener nie” (Fliegen Blätter).

 

Gebed: Hemelse Vader, laat my lig só skyn dat mense my goeie werke kan sien. Nie om te sien hoe goed of oulik ek is nie, want dit is nie so nie. Laat dit egter wees om my Christenskap te openbaar en God te verheerlik, want wanneer ek iets goeds doen, is dit vir ‘n gehoor van dié Een, en dis méér as genoeg. Amen.

 

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page