Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 12 November 2024
Koos Espach
Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie (5)
Ons gewete is bevry
Rom. 2:15-16 – “Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word. 16 Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (2)
Twee dinge verhinder ons om God voluit te dien. Die eerste is ons sonde. Ons soek graag ons eie belang, probeer self godjie speel oor ons lewe en laat ons maar erken, dikwels maak ons ‘n verskriklike gemors daarvan. Ons kan die skuld op die duiwel pak, want dit is mos hy wat ons ‘blindweg’ verlei. Toe nie so nie, dit is ons eie selfverhewe sondige behoeftes wat ons tot “die dade van die dood lei” (Heb. 9:14).
Met ons gelowiges in Christus, het die duiwel dit nie maklik nie. Die Heilige Gees leer ons wat God van ons verwag. Wanneer ons “dade doen wat tot die dood lei,” maak die Gees ons pynlik bewus daarvan. Iemand het gesê ons gelowiges is mense met ‘n gewete wat wakker gemaak is deur God. Die probleem egter is dat die duiwel wéét hoe om dit uit te buit.
Hoe kry die duiwel dit reg om ons gewete uit te buit? Dit werk só: Ons doen iets verkeerd en die Gees maak ons bewus daarvan – daardie ‘stemmetjie’ wat binne ons ‘praat’ – en ons gewete begin die las van die sonde te dra. En dit is op hierdie punt waar die duiwel ingryp. Hy vertel ons dat ons eintlik te sleg is om God te dien; ons kan maar hierdie hele ou-kind-van-God storie los; ons bluf niemand nie, net onsself. Ons reaksie is gewoonlik dan om verder te sondig. As ons immers ‘n nikswerd is, kan ons maar netsowel ‘n ordentlike job daarvan maak en behoorlik opmors!
En voor ons besef waar ons onsself bevind, het ons selfveragting ons lewe diep in die rooi in die hemelse boeke geplaas – ons is diep in die moeilikheid by God. Die duiwel het sy voet in die deur gekry en beur hom verder oop. Hy kom klop telkens by ons aan om ons so ver te kry om dinge te doen waarvan die Here niks hou nie. Hy vertel ons dit is heerlik om vry te wees om self oor ons lewe te besluit. Ons kan sê wat ons wil, doen wat ons wil en dink net wat ons wil. Invloede van buite, soos die opinies van ander mense, groepsdruk, en om ‘in te wees by die pelle’, vorm ons lewe in ‘n patroon wat dikwels nie ons ware sélf, na buite vertoon nie. Ons word deel van die populêre opinie en deel van die ‘almal-doen-dit-tog’ sindroom.
God se antwoord is egter eenvoudig vir elke mens wat bogenoemde ‘vryheid’ beleef. Hierdie vryheid is ‘n illusie, ‘n nare droom. Vandat die sonde die wêreld getref het destyds in die ‘tuin van Eden’, is niemand regtig vry nie. Slegs wanneer Jesus ons vry maak, is ons regtig vry: “Eers as die Seun (ons) vry maak, sal (ons) werklik vry wees,” sê Jesus (Joh. 8:36). Hy sny ons ou, sondige natuur weg en maak ons nuut. Die duiwel is nie langer in beheer in ons gelowiges se lewe nie: “God het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer” (Kol. 2:15).
Ons sondes is klaar gestraf. God het die mag van die sonde in sy kinders se lewe gebreek sodat ons nie meer slawe daarvan is nie (Kol. 2:10-11). Hy het al ons sondeskuld afgeskryf omdat ons in Jesus glo. Ons gewete is nou skoon voor God, en ons kan weer opkyk, en Hom dien met ‘n oop gemoed. Dit laat ons met die vraag: watter rol speel ons gewete in ons lewe? Is ons gewete deur die Heilige Gees geslyp sodat ons na die waarheid van die evangelie luister, eerder as om die leuens van die duiwel aan te hang? Ek en jy mag nie daardie ‘stemmetjie’ ignoreer nie, want God gebruik dit om met ons te praat! Ons wat in Jesus glo, deel in sy magtige oorwinning oor die Bose. Ons staan nou onder volle bestuur van Jesus Christus. Dankie tog!
“’n Goeie gewete slaap rustig in die storm. ‘n Slegte gewete voel nêrens veilig nie” (Thomas Fuller).
Gebed: Dankie vir die sekerheid wat ek in my hart het dat U in beheer van my lewe is, o Gees van God. Hou my asseblief op die pad wat na oorwinning sal lei. Ek is bly oor U, Here, want U regeer, ook al lyk dit asof die duiwel los is, weet ek my toekoms behoort aan U. Amen.
Comments