Gedagte vir Vandag
Maandag, 11 November 2024
Koos Espach
Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie (4)
Reaksie op ons gewete
Rom. 2:15-16 – “Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word. 16 Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (1)
Vergelyk ook Jak. 1:22-25 – “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23 Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: 24 hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”
Die heidene het nie die geskrewe wet van God gehad nie, maar Paulus het gereken dat hulle in ‘n sekere sin, die eise van die wet innerlik in hulle harte gegraveer gehad het. Hulle natuurlike aanvoeling vir reg en verkeerd het veroorsaak dat hulle dade ‘n ooreenkoms getoon het met wat God se wil in Sy wet vir die mens stel. Dus sou die heidene se veroordeling sonder die wet, deur God billik en regverdig wees.
Paulus motiveer sy standpunt, deur te verwys dat die heidene se “gewetens (wat) daarvan getuig wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word”. Hulle natuurlike gewete kon as ‘n sekere “innerlike regter” beskou word wat voortdurend hulleself beoordeel het of hulle reg of verkeerd doen. In ons wêreld van vandag is daar mos ook die “sogenaamde lastige stemmetjie” binne ons wat ons soms wil stilmaak, wil ignoreer. Die gewete wat ‘n mens se inwonende geestelike mentor is volgens John Trapp (Engelse Bybelse Kommentator – 1601-1669).
Ten spyte van God se waarskuwings in Sy woord, is ons keuses soms vrot! Wanneer ons daardie “stemmetjie” dus hoor, moet ons mooi luister, dit is dalk God wat praat want ons besit ‘n Godgegewe gewete. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat Paulus verkondig het,” dieselfde evangelie waarna ons ook elke Sondag luister!
Om die Woord net te hoor is nie genoeg om ons saak met die Here te bevorder nie. Om Sondag na Sondag te luister na die Woord en dit dan nie toepas in ons daaglikse gang van die lewe nie, baat niks. Die Woord moet nie op die kerkbank agtergelaat word nie maar van die “kerkplek” na die “werkplek” toe geneem word. Die inhoud van God se wil is nie net vir ons rekening nie, maar dat ons dit moet leef, vestig en uitdra na ander, anders is ons besig met selfbedrog. “Dit wat ons hoor, word nie gedóén nie; dit wat ons glo, word nie gelééf en gedeel nie” (Prof. Dirkie Smit). Om net te hoor en niks daaraan te doen nie, bring ons nie by die volle potensiaal as gelowige en kind van God uit nie. Ons behoort te luister na daardie “gewete stemmetjie!”
Om werklik in die spieël te kyk soos Jakobus aanbeveel, (en te luister na daardie “gewete stemmetjie”), is om “ons te verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak.” Dit is om ons vooroordele raak te sien, daarvan ontslae te raak en met liefde, vir God en ons medemens raak te sien. Dit is om in die “spieël” van die woord te kyk en ons daarin “verdiep” sodat ons die werklike óns kan raaksien – die gevangene van gewetens, gedagtes en gewoontes wat ons skaam behoort te maak.
Talle mense word dan kwaad en draai eerder weg van die spieël want dit herinner hulle aan die “nou poort en smal pad” (Matt. 7:13-14), wat hulle nie op wil wees nie. Om ons werklik te verdiep in die spieëlbeeld is om die gesig van God se liefde wat ons in Jesus Christus vrymaak en ons tot volmaaktheid wil lei, raak te sien. Dit moet ons laat nadink en te laat onthou. Dit is om die seënuitspraak van “gelukkig wees in wat ons doen” dan te kan ervaar, en met ander te deel.
“Die meeste van ons volg ons gewetes soos ‘n mens agter ‘n kruiwa aanloop. Ons stoot dit voor ons uit in die rigting waarin óns wil gaan” (Billy Graham).
Gebed: Here, daar word gewoonlik baie vrae gevra, selfs gestry en geredekawel omtrent U Woord. Menigte glo dit is net ‘n storieboek. Here, bewaar my van ‘n Jesuslose evangelie! Ek wil nie net ‘n leerder van die evangelie wees nie maar ‘n dissipel – ‘n dissipel wat nie net hoor en glo nie maar U woord dóén en uitleef. Help my om dit reg te kry asseblief. Amen.
Comments