Gedagte vir Vandag
Donderdag, 7 November 2024
Koos Espach
Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie (2)
Geskep vir aktiewe diens
Rom. 2:13 – “Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.”
Vergelyk ook Hand. 13:36 – “En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan.”
Aanvanklik het ek vinnig oor vandag se teksvers gelees soos ons gewoonlik doen, amper soos ‘n skoenlapper wat net so oor ‘n blom “vee”, want Paulus se preek in Handelinge 13:36 gaan eintlik oor Jesus, en nie juis oor Dawid nie. En toe tref die paar woorde my soos ‘n hamer tussen die oë: “Dawid het die mense van sy tyd gedien ...!” Is dit nie dalk hoekom God vir Dawid ‘n man na Sy hart genoem het nie? (v. 22). Dit is immers God se doel met ons as mens op aarde – om Hom en ons naaste te dien. En die sondaar Dawid het sy lewe daaraan gewy om God se doel op aarde te vervul.
Daardie paar woorde is seker een van die beste omskrywings van ‘n lewe wat volgens God se wens, deeglik geleef is. Sal dit nie ‘n unieke grafskrif uitmaak nie? “Hy (sy) het die mense van sy (haar) tyd gedien.” God soek vandag steeds mense wat Hy kan gebruik om sy werk op aarde voort te sit. As gelowiges word ons eintlik geroep om te dien. Die Bybel sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hul hele hart op Hom vertrou” (2 Kron. 16:9). Vertrou ek en jy God genoeg om sy hande en voete op aarde te wees, iemand te wees wat Hy vir sy doeleindes kan gebruik? Ek en jy moet besef dat God ons nie uit genade gered het vir ‘n passiewe bestaan in Sy koninkryk nie, maar eerder vir aktiewe diens. Dit gaan nie oor ons wat God moet vertrou nie, inteendeel, Hy vertrou ons wel ten volle om ons tot aktiewe diens op te roep.
Hier word ons elkeen gekonfronteer met die vraag: Hoe dien ek God? Hoe dien ek my medemens? Die boodskap is eenvoudig: As ek ’n kind van God is en sy waarhede verstaan, volg ek die voetspore van Jesus, dan verander ek in ’n dienaar. Dan gaan ek prakties oor in die dien van God en my medemens en begin ek iets dóén. Uit my optrede en dade in die wêreld sal mense dan outomaties kan raaksien dat ek ’n doener en dienaar van Christus is. Ons moet probeer om só te lewe dat daar eendag tussen die lyne van ons CV gelees kan word dat ek en jy ons bes probeer het om Jesus se verteenwoordiger te wees. Dat mense ons mooi hart tussen al ons foute en skeeftrek sou kon raaksien en ervaar.
En nee, ons hoef nie ’n graad in teologie of sielkunde te hê nie. God wil ons gebruik, net soos ons is, met al ons foute, al ons flaws! Dis nodig om op te staan en nog vandag die regte ding te doen. Kom ons gaan maak ’n verskil in ander se lewens deur beskikbaar te wees vir God. Al is ek en jy ’n krom stok, Hy sal ’n reguit hou met ons slaan. Ons moet weet dat elkeen van ons ’n plig teenoor ons mede-Christene het. Ons moet mekaar moed inpraat. Ons moet mekaar help met ons geloof. Ons moet geduldig wees, want dalk is ons die een wat die laaste kans het om iemand anders te help. Ons is dalk nét die een wat God in iemand anders se lewe wil gebruik.
Soms maak ek te vinnig verskoning as ’n stem vir my sê ek moet iets doen waarvoor ek nie lus is nie. Ek het gewoonlik goeie redes wat ek aanvoer om myself te regverdig. Soms is ek te besig, soms te onseker, soms te moeg, soms te, uhm … ja, net eenvoudig nie lus nie. Onthou, ons hoef dit nie op ons eie te doen nie. God soek net getroue, gehoorsame en gewillige kinders. Hy sal ons self die krag gee (Hand. 1:8). Hy sal vir ons wysheid gee. Hy sal ons hand neem en ons help om die regte dinge te doen. En indien nodig, sal Hy die regte woorde in ons monde ook lê.
Hy is die Een wat ons toerus met alles wat nodig is sodat ons verskonings nie in die pad sal staan van ons gehoorsaamheid nie. Ons moet net bereid wees om ons verskonings weg te pak en eerlik te wees oor waar ons ’n impak in die lewe kan gaan maak. Ja, dis nie maklik nie, want ons beur die heeltyd soos Jona na die teenoorgestelde kant. Ons sal moet hande vat met God se Gees, want op ons eie is ons nie in staat om hierdie eenvoudige opdrag uit te leef nie. Of wat is ons verskoning ...? Onthou, dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.”
“Ek is maar net een, maar darem een! Ek kan nie alles doen nie, maar darem iets doen. En omdat ek nie alles kan doen nie, sal ek nie weier om die iets te doen wat ek wel kán doen nie” (Edward Everett Hale).
Gebed: Vader, ek moet erken dat ek ’n redelike groot arsenaal van verskonings het om nie te doen wat U van my verwag nie. Help my, Here, want ek wil graag my roeping gaan uitleef daar buite. Dankie dat ek op verskeie maniere in U diens kan staan. Daar is so baie mense wat U liefde nodig het. Amen.
Comments