top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 6 November 2024

Koos Espach


Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie (1)

 

Dóén die wet

 

Rom. 2:12-13 – “Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word. 13 Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.”

 

Paulus verander skielik sy argument van die mens wat geskep is om goeie dade te doen deur God en sy naaste te dien, na wat God van ons verwag deur die wet toe te pas. In die volgende drie verse beklemtoon hy nie minder as elf keer dat God van ons verwag om gehoorsaam aan die wet te wees. God is die ewige Regter. Hy sal oordeel oor die vraag of sy wet gehoorsaam is of nie. Die Jode was werklik dié wat die wet hoor. Elke Sabbat is dit in die sinagoges gelees. In hulle huise het dit ’n ereplek ontvang.

 

Een van die belangrikste maniere waarop die Jode probeer het om vir God aanvaarbaar te wees, was deur die wet wat Moses van God ontvang het (Eks. 20). Die wet was een van die Jode se belangrikste besittings. Hulle het gedink dat die besit van die wet aan hulle ‘n spesiale voorsprong gee teenoor alle ander nasies, die nie-Jode. (Ons het egter reeds gehoor God trek niemand voor nie – 2:11). Paulus beklemtoon verder dit gaan by God as Regter, nie oor die besit en hoor van die wet as sodanig nie, maar die onderhouding daarvan, die dóén daarvan: “Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.”

 

Dit is duidelik hier dat God nie net ore wil hê wat feitlik elke Sondag die wet hoor nie, maar lewens wat die wet ge-hoor-saam! Dit is mense wat baie vroom en godsdienstig voorkom, maar nie Goddelik in hul optrede is nie. “They talk the talk but don’t walk the walk.” Daar is dus geen werklike persoonlike verhouding met Jesus nie. Die werklike verhouding tussen Jesus en ons is een van geloof, vertroue en ge-hoor-saamheid. Dit help nie om groot geloofswoorde te praat wat uit ‘n leë hart kom nie. Dit gaan oor liefde vir God en liefde vir ons naaste.

 

Ons word nie gered deur ons goeie werke nie maar word gered om te werk – dit is die gevolg van ‘n saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde.  Jesus het ons verlos van die sonde “sodat ons die lewende God kan dien” (Heb. 9:14).

 

Jesus stuur ons nie uit om ons redding deur ons werke of dade te gaan verdien nie, Hy stuur ons uit om ons redding te gaan bewys: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons werk vir die Here is nie vir ‘n beloning nie – ons het dit klaar ontvang. Ons dade is nie sodat ons verlos kan word en hemel toe kan gaan nie, ons dade is omdat ons uit dankbaarheid dit doen, vir dit wat Christus reeds vir ons aan die kruis vermag het!

 

Ons het dit al gesê, maar wil dit graag weer herhaal: diens is nie vir Christene opsioneel en iets wat ons in ons skedules kan inpas as ons tyd het nie, diens is die hart van die Christen-lewe. Jesus het gekom om te ‘dien’ en te ‘gee’, daarom behoort hierdie twee werkwoorde ook ons motto te wees. Ons is nie so ‘hoog en verhewe’ soos sommige mense graag opgee nie. Wie nie vir God dien nie, dien dalk hulle eie begeertes, of ‘n ander mens, of dalk menslike instellings. Iewers gee elke mens sy of haar hoogste lojaliteit. Die vraag is net: as ons ons hoogste lojaliteit op die vlak van die menslike hou, mik ons dan nie juis te laag nie? Lê ons redding nie daarin dat ons hoogste lojaliteit moet gaan aan die Allerhoogste, aan God nie? Daarom is redding en diens aan God eintlik onafskeidbaar.

 

Ons word oral gesoek. Nie soos op ‘n ‘WANTED’-plakkaat nie, maar deur ander mense om te doen waarvoor die Here ons geroep het. Dit beteken dat daar ‘n klomp mense ons nodig het, klein en groot, ons ouers, vriende, kollegas, almal wat ons pad kruis. Hoekom? As ons ernstig oor God is, sal ons daar wil wees waar God ons wil hê! Niemand anders kan doen wat die Here wil hê dat ek en jy moet doen nie. Die Here soek by ons ‘n gewillige hart om te dien. Hy wil hê ons moet uit die geloof lewe. “Ons geloof is ‘n offer in diens van God” (Fil. 2:17a). Kom ons neem ons geloof en verlossing buite die bladsye van die Bybel en buite die deure van die kerkgebou, en sit ons geloof in aksie. Elkeen van ons gelowiges weet mos waarvoor die Here ons geroep het. Doen dit!

 

“Daar is geen suiwerder godsdiens as diens aan jou medemens nie. Om uit liefde vir God te werk vir die gemeenskap se welsyn, is die sterkste geloofsbelydenis” (Albert Schweitzer).

 

Gebed: Here, laat U liefde in my wees om my te dring tot wederliefde en diens aan ander. Ek kan seker probeer om verskonings uit te dink en te wag dat iemand na my toe uitreik, maar ek wil nie. Help my om tot U beskikking te wees. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page