top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 5 November 2024

Koos Espach


Die regverdige oordeel van God (9)

 

God het almal ewe lief

 

Rom. 2:11 – “God trek immers niemand voor nie.”

 

Vergelyk ook Hand. 10:34-35 – “Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: ‘Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35 maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”

 

Ons sit met die dilemma om goeie dade te doen want dit is onmisbaar as ons die straf van God wil vryspring. Paulus beklemtoon dat “Hy lyding en benoudheid bring oor die lewe van elke mens wat kwaad doen” (Rom. 2:9), en as ons heeltemal eerlik is, slaag ons nie daarin om altyd goeie dade te doen nie, al probeer ons ook hóé. In selfs ons beste werke is daar nog te min liefde, te veel eie belang, baie foute en ongehoorsaamheid. Baie gelowiges is steeds meer entoesiasties oor die nakoming van die “liefde vir God” -gebod as oor die “liefde vir die naaste” -gebod wat daarmee gelykstaan. Die Here kyk egter anders na mense as ons – “Hy trek immers niemand voor nie” – Hy maak geen onderskeid nie. Vir ons gelowiges is natuurlik die enigste geldige manier om na mense te kyk, die Here se manier. Maar o wee ...!

 

Ons blaai ‘n bietjie terug na “Handelinge” en ondervind saam met die apostel Petrus wat dalk soos ons gedink het, maar nie rekening gehou het dat “God die wêreld so liefgehad het ...” (Joh. 3:16). Petrus se verwondering oor God se dade ken geen perke nie. Dit is dan ook merkwaardig dat hy hier aan nie-Jode, aan heidene, die evangelie verkondig en sodoende ’n nuwe grens oorsteek. In Sy vrye verkiesing strek God sy hand uit na wie Hy wil. Petrus begin met ’n aanhaling uit Deuteronomium 10:17: “ … die Here is die groot God wat vir niemand partydig is nie …” en beklemtoon in die eerste deel van sy boodskap dat “God geen onderskeid maak tussen mense nie.”

 

Ryk of arm, nasionaliteit, etnisiteit, kerkverband, groot of klein maak nie saak nie. God kyk nie na die uiterlike nie, vir God is alle mense aanvaarbaar. God skenk nie voorkeur aan besondere mense nie, almal is welkom by Hom. Dit is die les wat God deur Paulus en Petrus vandag vir ons wil leer. God ondersoek mense se hart. God sien my en jou raak waar ek en jy onsself in gebed en in diens aan Hom wy. God sien ons raak waar ons van Hom afhanklik lewe. Hy sien raak waar ons in ontsag vir Hom lewe. Hy sien raak waar ons doen wat reg is. God het nie witbroodjies nie – “God trek niemand voor nie.”

 

Ons sien ook ons mense se sosiale waardes is buitendien nie gelykstaande aan God se waardes nie. God het nie sy son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit nog deur al die eeue, net soos Hy die mens onderhou as deel van sy skepping. Dit sluit die slegte mense ook in. “Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:45b). God was bereid om selfs sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar veral vir die slegtes, want onthou, “Hy trek immers niemand voor nie.” Dwarsdeur die Bybel word die onpartydigheid van God beklemtoon – ‘n les vir diegene wat hulle bokant andere verhef en oor hulle oordeel, te laat verstaan dat God ook hulle na waarheid sal beoordeel.

 

As ons aandag werklik op Hóm gevestig is, val al die selfvoldane en hoogmoedige onderskeid ten opsigte van menslike glorie, gewoon weg en word armes en rykes, geringes en aansienlikes, magteloses en magtiges, álmal, gelykgestel op die vlak van ons gelowiges. By God is daar nuwe beginsels, splinternuwe lewe, en dit begin alles op ons knieë. Wanneer ek en jy klein voor God is, sien Hy ons daar op ons knieë raak. Dan steek Hy sy hand na my en jou uit en tel Hy ons uit genade op. Wanneer ons voor God buig, nader Hy tot ons. Hy stel nie belang in ons status, afkoms, beroep, gewildheid, of wat nog alles nie. Al wat vir Hom saak maak, is dat ons in Jesus se Naam voor Hom verskyn met ‘n nederige hart en in opregtheid, “Hom vereer en doen wat reg is.” Hy wil ons harte hê. Hy wil alle mense hê. Hy wil my en jou hê!

 

“Plastiese mense kraak maklik. Regtige mense wat omgee, help om ander se krake reg te maak”

(James Dobson).

 

Gebed: Jesus Christus my Here, laat my asseblief altyd besef dat my geloof in U, die aard en kwaliteit van my verhouding teenoor ander bepaal. U sien dwarsdeur my en weet my voorkeure laat toe dat sommige mense wat nie op my keurlysie is, afgekeur word. Dit maak my skaam want materiële waardes en kultuur speel nog ‘n rol in my gradering van mense, dit terwyl U geen onderskeid tussen mense maak nie. Help my om op U manier na mense te kyk. Ek smeek dit in U Naam, Jesus Christus, ons Here. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page