top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 4 November 2024

Koos Espach


Die regverdige oordeel van God (8)

 

God het nie witbroodjies nie

 

Rom. 2:9-11 – “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. 10 Wat verhewe en eervol is, en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. 11 God trek immers niemand voor nie.”

 

Ons het die afgelope paar dae tot die besef gekom dat Paulus ons eintlik waarsku om nie te selfvoldaan en hoogmoedig neer te sien op ons mede-gelowiges nie. Dit is deur God se genade dat ons almal op dieselfde pad is waar Hy ons geplaas het om te wees. Ons is eintlik maar almal sondaars wat in nederigheid moet afsien van die feit dat God gunstelinge het. Die maatstaf by die oordeel volgens ons dade, sal wees of daardie dade uit die geloof gedoen is of nie. Wie deur die geloof aan die genade van God vashou, sal daarvan in sy dade uiting gee. Goeie dade is dus ‘n dankbare reaksie op God se genade en nie ‘n voorvereiste waarmee God se genade verdien word nie!

 

Dit is daarom duidelik dat Jesus self op die laaste dag oor alle mense gaan oordeel. Mense wat reg gelewe het ontvang die ewige lewe en dié wat kwaad gedoen het, ontvang “lyding en benoudheid.” Hierdie beginsel is vir alle mense dieselfde, in die eerste plek die Jood, maar ook mense wat nie Jode is nie. Dit bevestig dat niemand aan die oordeel sal ontkom nie – God het nie witbroodjies nie, Hy oordeel regverdig, “God trek immers niemand voor nie.”

 

Gelukkig, vandag weet ons Christene dat Jesus die weg is na die Vader toe (Joh. 14:6). Deur God se genade kan ons verstaan wat by die kruis en met Christus se opstanding gebeur het, kan ons verstaan wie Jesus Christus is. Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en Sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Daarom kon Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36), en Paulus beklemtoon dat “Jesus die goeie boodskap van vrede gebring het aan almal wat ver van God af was en ook vir dié naby God” (Ef. 2:17).

 

Met Sy kruisdood het Jesus die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen: “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20). Wanneer ons op die laaste dag op grond van ons dade veroordeel gaan word, kan ons weet: Jesus bring ons tuis in God se arms in, ons hoef nie vreesbevange agter geslote deure van ons smart, teleurstellings, verbittering, benoudheid of lyding, weg te kruip nie. Sy bloed is die volkome versoening vir al ons sondes.

 

Paulus bevestig op ‘n paar plekke: “Die Here trek niemand voor nie” (Kol. 3:25b); “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is (ons) almal één” (Gal. 3:28). Ons moet hierdie goeie nuus ook aan ander gaan vertel. Dit maak dus nie saak of jy geleerd of ongeleerd, werkgewer of werknemer, ryk of arm, man of vrou of wie ookal is nie, in Jesus Christus is ons almal wat waarlik glo, broers en susters van mekaar, en is ons gelyk voor God. Ons kan almal deel in die vrede wat Jesus vir ons gegee het. Wees dus lief vir almal en behandel almal met die nodige respek en eerbied omdat ons die Vredevors ken.

 

“Hulle wat God ken, kom niks kort nie. Hy alleen vervul ons diep verlange na vrede. Hy alleen is genoeg” (Teresa van Avila).

 

Gebed: Dankie dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees vir die oordeel nie want Jesus het vir my daardie versekering gegee: “Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom is daar nou vrede tussen God en my en kan ek Hom met vrymoedigheid my Vader noem. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page