Gedagte vir Vandag
Vrydag, 1 November 2024
Koos Espach
Die regverdige oordeel van God (7)
Die sonde van versuim
Rom. 2:6-8 – “God sal elkeen vergeld volgens sy dade: 7 aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; 8 maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (2)
Vergelyk ook Matt. 25:41 en 46 – “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is … 46 En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”
Ons het Woensdag gewonder of God ons “carte blanche” gee om maar aan te hou om te sondig? Nee, ons het gehoor dat God ons oë oopgemaak en ons pynlik bewus gemaak het van ons eie sondes, en ons deur sy genade ‘n geleentheid gee om te verander, te bekeer. Daarom hou Hy sy toorn nog in en stel Hy die wederkoms nog uit. Ons leef tans in God se genade-tyd.
Jesus se oordeel met sy wederkoms is die klimaks van Sy laaste toespraak waarin Hy sy dissipels en ons gelowiges tot waaksaamheid en getrouheid oproep. Jesus het hier konkreet aangedui waarin die waaksaamheid en getrouheid moet bestaan. Hy het hier ‘n duidelike, ernstige waarskuwing laat hoor teen die sonde van versuim. Diegene wat versuim om goed te doen asof ons dit aan Hom doen, noem Hy “vervloektes”, en dié wat goed doen asof ons dit vir Hom doen, “geseëndes” (Matt. 25:34). Dis veelseggend dat in elkeen van Jesus se gelykenisse van veroordeling, dit die sonde van versuim is wat veroordeel word – gas by bruilofsmaal sonder bruilofskleed (Matt. 22:11); vyf onverstandige meisies sonder olie (Matt. 25:3); man met een muntstuk wat nie daarmee gewoeker het nie (Matt. 25:25).
Goeie dade is dus ‘n dankbare reaksie op God se genade en nie ‘n voorvereiste waarmee God se genade verdien word nie! Dit is daarom duidelik dat Jesus elkeen sal vergeld volgens sy dade – dié wat kwaad doen, sal “weggestuur word as vervloektes na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.” Daarenteen, “dié wat die wil van God gedoen het, ontvang die ewige lewe.” Ons gelowiges weet immers “Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir (ons) voorberei en neem dit as erfenis in besit” (Matt. 25:34). Hierdie beginsel is vir alle mense dieselfde, nie omdat ons die erfenis kan verdien nie want die saligheid is ‘n geskenk, ‘n genadegeskenk, “’n erfenis!” Dit bevestig dat niemand aan die eindoordeel sal ontkom nie.
Die onpopulêre onderwerp van die eindoordeel word in die ganse Skrif, glashelder duidelik gemaak dat absoluut álle mense wat ooit gelewe het, daar sal wees. Dit is juis die grootste verrassing wat op biljoene armsalige misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is 'n soort god en 'n tipe verlosser wat 'n stukkie waarheid beetgehad het – en dat ander opsies ewe goed was. Mense wat gedink het dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is. Die aakligste verrassing wag op hierdie misleide mense wanneer elkeen ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd, die égte en énigste waarheid was – dat Hy wel “die weg, die waarheid en die lewe is!” (Joh. 14:6). God sal oordeel oor wat die mense werklik gedoen het, nie oor wat hulle van hulleself gedink het nie.
‘n Volgeling van Jesus ís anders, dínk anders, lééf anders en dóén anders. Om Jesus te volg verander ons doel in die lewe en dit het ‘n effek op die wêreld. Dit is deel van ons roeping – ons is nie net geroep óm Jesus te volg nie, maar ook om in die proses deel te word van Sy Koninkrykswerk. Ons gelowiges het Sý vrede ontvang om dit aan te gee. Waar ons die lig van Christus in mense se lewens in dra en in die krag van die Gees begin optree, kom die hemel in beweging met vergifnis, met die vrede wat tussen God en mense, tussen mense en mense bring. Elke daad van naasteliefde, is ‘n liefdesdaad aan Jesus self.
“Christus gebruik ons soos ‘n pen om mee te skryf – of nog beter: Hy maak ons een van Sy vingers”
(Charles G. Trumbull).
Gebed: Jesus Christus, dankie dat U woorde ‘n groot troos is vir elke wedergebore gelowige. Baie dankie Vader, dat U “ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Dankie dat U my ‘n kans gee om reg te maak, om die genade wat ek ontvang, uit te dra na ander. Help my o Gees van God, dat ek nie sal uitstel nie. Amen.
Comments