Gedagte vir Vandag
Donderdag, 31 Oktober 2024
Koos Espach
Die regverdige oordeel van God (6)
Wees mens vir ander mense
Rom. 2:6-8 – “God sal elkeen vergeld volgens sy dade: 7 aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; 8 maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (1)
Paulus is wel hier in verskeie verbeeldingsgesprekke met ’n Joodse gespreksgenoot, maar dit is steeds relevant vandag en kan net sowel met ons wees. Hier wys God deur Paulus vir ons hoe belangrik dit is om beginselvas en volgens die waarheid, in gehoorsaamheid aan God te lewe. Ons karakter en ons optrede bepaal hóé ons lewe. God se karakter daarenteen, getuig oor sy volmaaktheid, sy geregtigheid en regverdigheid, daarom oordeel God die mens regverdig volgens hulle verdienste. God sal met ander woorde toesien dat elke mens uiteindelik sal ontvang wat hy of sy verdien – indien nie nou nie, dan wel in die hiernamaals.
Die lewe hier en nou bepaal die hiernamaals want “God sal elkeen vergeld volgens sy dade.” Wat ek en jy nou doen of nie doen nie; hoe ons glo of nalaat om te glo, is maniere waarop ons ons voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik myne en joune. Geen ander persoon kan namens ons besluit hóé ons moet lewe nie. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus! Wees verseker, daar kom ‘n eindoordeel, waar elkeen, sonder uitsondering, voor die hemelse Regter sal móét verskyn. Dáár sal die finale skeiding plaasvind. “Die Seun van die mens sal in Sy heerlikheid kom ... om die mense te skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei” (Matt. 25:31–46).
Die oordeel van God gaan verrassend anders wees as wat die meeste van ons dink, sê Stephan Joubert. By die finale oordeel sal daar gelet word op ons dade – nie noodwendig wat ons as goeie dade beskou, soos bid, Bybel lees, getuig; terwyl ons slegte dade dobbel, steel, korrupsie en so meer, insluit nie. Jesus het nie oor een van die twee gepraat nie. Ook nie oor hoeveel sondes ons gesystap het of hoeveel ure ons aan gebed en Bybellees bestee het nie, maar wat ons kan aflei uit Jesus se gelykenis van Matt. 25:31-46 – of ons ‘n barmhartige hart vir ander mense in nood gehad het.
Dit is een ding om te weet dat ons gereed moet wees om die Here te ontmoet, maar hoe doen ons dit? As die hemelse Koning onverwags, ontydig en sonder ’n voorspelbare patroon kom, is daar dan enigsins ’n manier hoe ek en jy onsself kan voorberei sodat ons gereed kan wees? Op hierdie vrae wil Jesus vir ons die antwoord bied. Dit gaan hier oor die manier waarop ons voorbereid moet wees. Die komende Koning Jesus ontmoet ons nou reeds hier, in die hede op verskillende maniere. Op Sy koninklike troon ontmoet Hy ons in die basiese nood en behoeftes van ons medemens. Ons dade, is van beslissende erns vir ons en antwoord of ons aktief besig is deur getrou God en ons medemens in liefde te dien.
Ons goeie dade moet egter nie verstaan word as ’n manier om ons saligheid te verdien nie. Ons saligheid kan nie verdien word nie. Dit ontvang ons as genadegeskenk deur geloof en op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Koninkrykskinders is elke dag in Jesus, ‘n mens vir ander mense. As ons Redder en Koning, vra Hy dat ons as Sy volgelinge, Sy voorbeeld sal volg en sal antwoord op Sy liefde, en mens vir ander te wees met liefde en genade oor alle politieke, ekonomiese, nasionale en kerklike grense heen.
Ons goeie dade is ook nie moeilik uitvoerbaar nie. Die dinge wat Jesus uitkies is maklik om te doen – honger mens kos gee; iemand wat dors is iets te drinke gee; gasvry wees teenoor vreemdelinge; ‘n sieke opbeur; ‘n gevangene in die tronk besoek …! Alles dinge wat enigeen kan doen vir mense wat ons pad daagliks kruis. In die hemel gaan ons God vir ewig dien. Ons kan nou al op daardie ewige diens voorberei deur op aarde te oefen. “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider … wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie …” (2 Tim. 2:15). Die maatstaf is ‘n leefstyl van genadig wees en wat soos Jesus, werk om die wêreld ‘n beter plek te maak vir almal om in te leef. Ons doen dit nie om iets te verdien nie maar uit dankbaarheid vir die eie genade reeds aan ons bewys.
Natuurlik word opoffering vereis in terme van ons tyd en beskikbaarheid, maar verder niks wat buite my en jou vermoë is nie. Liefde, belangstelling, omgee en sorg kan almal gee. Om iemand se dag op te helder met ‘n gebaar van vriendelikheid en welwillendheid by ons werkplek of waar ook al, kan ‘n groot impak maak in ons dade van voed, klee, besoek ...! Ons liefdesdade teenoor ons behoeftige medemens dra krag. Dit dra nie reddingskrag om ons saligheid by God te verdien nie, maar dit gaan wel om die finale dinge van die lewe – dinge wat “gedoen is aan die geringstes” – oor skape en bokke, oor links of regs van Jesus by die eindoordeel!
“Dis nie ‘n Christen se plig om jammer te wees vir noodlydendes nie. Om hulle te hélp natuurlik wel”
(Moeder Theresa).
Gebed: Here, dankie vir al die dinge wat U deur genade elke dag vir my gee: gesondheid, lewenskrag, kos en klere, lewensvreugde en om lief te wees vir mense. Dankie dat ek kan sien, kan hoor en lag en kan deel wees van al die mooi van die lewe. Here, U is so goed vir my dat ek nie anders kan as om U met my dankies te oorweldig nie. Maar Here, dan dink ek met hartseer aan hulle wat nie so gelukkig is nie. Help my om juis deur my dankbaarheid, ‘n mens vir ander mense te wees, U voorbeeld te volg en getrou my medemens te dien, sonder om enige verdienstelikheid daarin te sien. Amen.
Comments