top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 29 Oktober 2024

Koos Espach


Die regverdige oordeel van God (4)

 

Gebruik Jesus se oogsalf

 

Rom. 2:2-3 – “Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. 3 Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?” (3)

 

Vergelyk ook Matt. 7:3-5 – “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”

 

Ons kuier vandag vir oulaas by hierdie belangrike gedeelte oor menslike-oordeel. Ek dink dit is noodsaaklik om te onthou, danksy hoe Paulus dit stel: “om te weet”, dat ek en jy as Jesusvolgelinge tog nie ons as allerheiliges moet voordoen en dan ons monde oor ander se foute en tekortkominge uitspoel nie. Niemand, juis nie God nie, het ons aangestel om ander te oordeel of te beoordeel nie.

 

Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan die meeste mense skuld aan het. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien ...”, of “moet nou nie dink ek kritiseer nie, maar het jy gehoor ...”, is seker van die bekendste uitdrukkings wat gewoonlik ge-uiter word. Dit verskaf sommiges innerlike vreugde om slegte dinge van ander te sê en te hoor. Dissipels daarenteen, is volgelinge van Jesus in God se koninkryk. Wanneer ons as regters wil optree, mis ons die doel van dissipelskap. Ons moet onthou dat ons ook begenadigde sondaars is!

 

Jesus noem mense wat ander wil aanspreek oor hulle tekortkominge terwyl hulleself ernstige gebreke het, “huigelaars”. ‘n Sterk woord uit die mond van Jesus vir die skynheiliges wat ‘n gebrek aan insig het oor hulle eie foute. Al benader hulle ander met baie goeie bedoelings, kan hulle nie vir ander tot hulp wees nie, hulle diskwalifiseer eenvoudig hulleself. Wanneer die balk egter uit ons eie oog is, kyk ons nie uit die hoogte na ‘n ander se foute nie maar dan is dit sondaar teenoor mede sondaar, wie beide genade ontvang van dieselfde God wat albei geskep het!

 

Jesus gebruik hierdie voorbeeld van die balk en splinter, om aan te dui dat ek en jy met die balk, onsself eers moet evalueer, nie voorgee wat ons nie is nie en dan die stukkie van die balk wat afgebreek het, die splinter, uit ‘n ander se oog wil verwyder. Om ‘n verskil te maak, om ander in God se Koninkryk te dien, kan ons nie met vergrootglase laat rondloop om ander se sondetjies uit te snuffel terwyl ek en jy ons eie sondes wegsteek onder al die “balke” nie.

 

Beteken dit nou ons moet onsself blind hou vir ander se foute? Nee, inteendeel, Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie, maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Ons is nie aangestel om ons Koning se regters te wees nie. Wanneer ons deur die oë van ons Koning kyk, kan ek en jy ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons. ‘n Slim mens het eendag gesê niemand van ons beskik oor die regte kwalifikasies vir die pos as opsigter oor ons Christen-broers of susters nie.

 

Om in opregtheid ons eie foute raak te sien, is om die balk daaruit te verwyder. Dit beteken nie dat ons glad nie die verkeerde optrede van ons naaste mag beoordeel nie. Jesus sê immers dat as ons die “balk uit ons eie oog gehaal het, ons beter sal kan sien om die splinter uit my broer se oog te haal.” Die feit dat ons ‘n balk in die oog het, beteken nie ons moet nou maar die splinters uitlos nie. As ons balk uit is, moet die splinter by ‘n ander, ook uit! En ons moet ons “broers en susters” daarmee help. Maar, in plaas daarvan om ander te vermaan, swyg ons eerder oor hulle verkeerde doen en late want dit gaan ons nie aan nie, dit raak ons nie, ons het niks daarmee te make nie. Ons naaste is nie ons verantwoordelikheid nie, laat Gods water maar oor Gods akker ...! So ‘n siening kom daarop neer dat ek en jy onsself versoen met die sonde.

 

Paulus bevestig ons Christene se verantwoordelikheid om nie die splinter daar te laat nie: “Broers en susters, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp” (Gal. 6:1). Ek en jy as ‘balkmense’, weet tog ons leef slegs van genade en dat die Here ons oorvloediger genade moet skenk sodat ons van die balk ontslae kan raak. En wanneer ons daardie balk uitgesukkel het, vol deernis kan oorbuk om sagkens te help om die splintertjie uit ons naaste se oog te kry. Dan kan ons almal weer behoorlik sien.

 

“As ons gedurig besig is om mense openlik of in ons gedagtes te veroordeel, het ons nie tyd of enige voorneme om hulle lief te hê nie. En ons weet watter een van die twee gesindhede Jesus veroordeel het” (Albert Woods).

 

Gebed: Here, ek staan skuldig voor U. Die obsessie met ‘hulle’ en hul tekortkominge laat my ongenaakbaar optree teenoor my naaste, en dan vergeet ek gerieflikheidshalwe dat die balk in my oë die stoffies in hul oë bedek. Here, hoe kan ek verwag dat U my sonde nie moet beoordeel nie terwyl ek reeds my mede-sondaar gestenig het? Here, maak my oë oop vir liefde en aanvaarding. Verlos my van die aanklag in my oë. Maak hulle skoon en helder, en sag. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page