Gedagte vir Vandag
Vrydag, 25 Oktober 2024
Koos Espach
Die regverdige oordeel van God (2)
Ons weet mos ...
Rom. 2:2-3 – “Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. 3 Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?” (1)
Paulus kom waarsku ons dat nie een van ons hedendaagse gelowiges dit kan bekostig om ons oë na ander mense se doen en late te laat dwaal nie. Ons gelowiges weet mos ons is die laaste wat ons monde oor ander durf uit te spoel. “Ons weet”, sê Paulus, ons weet mos dit sal dwaas wees van ons mense wat self die dinge doen waaroor ons ander veroordeel, om ons te verbeel dat ons aan die “oordeel van God sal ontkom.” Ons weet tog ons kan nie, of mag nie, op ‘n sluwe wyse onsself daarop instel om ander se tekortkominge aan die lig te bring nie. Die wyse waarop ek en jy betaal, is die wyse waarop die lewe ons sal betaal!
Ons het geen reg om te oordeel nie. Waarom sou Jesus reeds in sy heel eerste optrede op aarde in sy bekende Bergpreek al, (Matt. 5-7), ‘n beroep op ons doen om nie ‘n ander te oordeel nie? Jesus het gesê: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle ander meet, sal vir julle gemeet word” (Matt. 7:1-2).
Eerstens ken ons nie al die feite van ‘n ander se lewensomstandighede nie en is dit nodig om onsself in ‘n ander se skoene te plaas om dalk te besef wat daardie persoon se behoeftes en versoekings is. Wanneer ál die feite bekend is van ‘n ander, is dit moontlik om selfs goeie dinge in ‘n slegte mens waar te neem. ‘n Kristal lyk aanvanklik dof maar wanneer dit gedraai word sodat die son op ‘n sekere hoek daarop skyn, word die mooiste kleure opgetower. Soek die onderliggende skoonheid en verwag dan dat hulle dieselfde aan my en jou sal doen.
Tweedens moet ons versigtig wees met onpartydige oordeel. Instink en redelose optrede kan iemand klaar beoordeel. My en jou eie lewe kan met so dik laag stof bedek wees dat die bietjie vuilgoed wat ons van ‘n ander wil afstof, nie raakgesien word nie. Die gevolglike probleem daarvan is dat mens geneig is om jou eie sondetjies met verkleinwoordjies te spel en na ander met ‘n vergrootglas kyk.
Helaas is dit altyd ánder wat “gemeet word” en die fout by ander gesoek word, terwyl net ék die vrome, opregte en heilige bly met ‘n klomp goue sterretjies agter my naam. Klink dit bekend? Ons moet egter onthou Jesus waarsku dat “met dieselfde maat waarmee ons vir ander meet, sal vir ons gemeet word.”
Dan is daar natuurlik die persoon wat as “wêreldkenner” bekend staan. Hy of sy weet álles van enige onderwerp, ken almal en is ‘n wêreldkenner, veral by sport. ‘n Speler wat ‘n fout maak word sommer maklik afgeskryf en beoordelend vervang met die “kenner” se speler. (Ek wonder soms of die “kenner” met die kantlynkritiek beter sou kon doen in dieselfde omstandighede?) En dan natuurlik die ref wat nie sy oë kan oopmaak vir die ander span se foute nie ...! Jesus waarsku teen sulke foutvinderige ingesteldheid. Ons het genoeg om te doen om ons eie lewensfoute te kritiseer as om vitterige regstellings by ander te soek, ander uitmekaar te trek en lekker te kry oor hulle foute – “dieselfde maat waarmee ons ...”
In werklikheid het Jesus verder gesê: “Indien jy wél oordeel, sal jy met dieselfde oordeel geoordeel word!” Wie van ons sal dit durf waag om voor God te staan en te sê: “Here, oordeel my maar soos ek ander geoordeel het?” Ons het ander mense net soos ons, as sondaars veroordeel – as God ons op dieselfde wyse só oordeel, is ons almal op pad hel toe! Dankie tog, God oordeel ons op grond van die wonderwerkende versoening soos bewerk aan die kruis van Christus.
“Dit is makliker om te sê hoe ander moet leef as om self so te leef” (Kenneth Wilson).
Gebed: Ag Here, vergewe my kritiese en beoordelende gees want ek staan ook skuldig voor U aanklag. Help my om met meer takt en selfregverdiging met ander om te gaan. Dra my, help my, vernuwe my o Gees van God. Amen.
Comentarios