Gedagte vir Vandag
Donderdag, 24 Oktober 2024
Koos Espach
Die regverdige oordeel van God (1)
Maak skoon jou bril
Rom. 2:1 – “Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ‘n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ‘n ander ‘n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.”
Tot gister nog, praat Paulus van die heidene wat God misken het en het ons gelowiges miskien soos toeskouers, op die kantlyn gestaan en verlig gevoel dat ons darem nie deel is van hierdie drama tussen God en die ongelowige heidene nie. Baie van die Jode van die destydse gemeente het ook seker met groot lekkerkry, op ander wat in hulle oë soveel slegter as hulle was, neergesien en veroordeel. Dalk was daar tussen ons ook ‘n paar wat selfvoldaan en ‘n bietjie hoogmoedig gedink het dat ons darem nie soos hierdie heidene is nie, ons is mos kerkmense. Buitendien het Paulus eers met die heidene gepraat en nou praat hy met die Jode, nie met ons nie.
Verkeerd! Paulus praat nie alleenlik net met die heidene of Jode nie. Onverwags, draai die helder soeklig van God se woord na alle mense toe, ook ons: “Maar jy, mens ... wie jy ook al is!” Jy wat hier skryf ..., jy wat hier lees ..., “wie jy ook al is!” Met skok hoor ek hoe God my direk aanspreek en vra: “Waarom sien jy neer op ongelowiges? Waarom veroordeel jy ander wat sulke dinge doen, “en jy doen dit self?” Of is jy onskuldig aan “ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid; skinder en praat kwaad; hooghartigheid, aanmatigend, verwaandheid; kwaad uitdink; ongehoorsaamheid aan jou ouers; onverstandigheid, onbetroubaarheid, liefdeloosheid, hardvogtigheid?” (Rom. 1:29-31). Niemand wat sulke dinge doen, sal die oordeel van God ontvlug nie, álle mense is hierin gelyk.
Elke outjie het ’n foutjie. Party van ons het ’n hele paar en om dit in ’n verkleiningsvorm te gebruik, doen redelik afbreek aan die waarheid. Ja, die meeste van ons sukkel met ’n stuk sonde wat te gereeld by ons lewe se voordeur opdaag. Ons weet ons moet dit nie inlaat nie, maar helaas, as ons weer sien, sit ons lekker saam en kuier. Net om die volgende oggend weer op te staan met ’n groot skuldgevoel. Dan belowe ons hand en mond dat ons nooit weer oor dié tou sal trap nie. Maar ai, as ons ons weer kom kry...!
Paulus sê vir ons hier in Romeine 2:1 hard en duidelik dat ons wat ‘n ander oordeel, skuldig is aan dieselfde ding. God kyk nie net na die werklike verkeerde daad nie, maar ook na die moontlikheid om dit te pleeg – en dit sien Hy deur na ons hart te kyk. Ons kan die voorbeeld van ’n sonbril gebruik om te verduidelik hoe mense na mekaar kyk. Sonstrale beweeg horisontaal en vertikaal. Die vertikale strale is skadelik vir die mens. Daarom het ’n sonbril baie fyn gleufies waardeur die horisontale strale kan kom, maar die skadelike vertikale strale kan nie daardeur kom nie.
Wanneer ons na mense kyk, kyk ons ook deur ’n sekere bril na hulle. Baie keer is die bril vuil. Dan kan ons nie mooi sien nie. Soos met ’n sonbril word net sekere strale toegelaat om deur te gaan, maar dié keer nie weens horisontale gleuwe in die lens nie, maar weens vuiligheid op die bril. Dalk besef ons dit nie eens nie, maar kyk ons nie na mense dalk deur ’n bril wat nie so skoon is nie en dat die prentjie wat dan by ons oë ingaan nie noodwendig die werklikheid weerkaats nie? Ongelukkig beïnvloed dít wat ons sien ons optrede teenoor die persoon.
Ons moet besef dat ander mense se optredes en menings ook ons bril kan dof maak. Ons moet besef dat ons soms na alle mense kyk deur ’n ‘dowwe’ bril. Na ons eggenote, kinders, kollegas, werknemers, vriende en selfs vreemdelinge. Ons moet besef dat die bril die meeste van die kere nie die ware prentjie reflekteer nie. Want daar is ’n klomp vullis op. Vullis wat baie keer deur ander daar gegooi is.
Daarom moet ons, wanneer ons oor ander praat, seker maak dat die bril mooi skoon is. Ons mag nie mense oordeel voordat ons hulle kant van die saak gehoor het nie. Ons moet seker maak dat ander se opinies of selfs ons eie opinies nie ons bril vuil maak en keer dat ons die ware prentjie sien nie. Wanneer ek en jy oor iemand moet praat, vra vir die Heilige Gees om ons te help om die regte prentjie te sien sodat ons altyd in liefde sal optree.
“As daar iemand is wat jy werklik nie kan verdra nie en eerder jou oordeel wil uitspreek, dan is dit iemand van wie jy nooit enigiets moet sê nie” (Cecil John Rhodes).
Gebed: Vader, ek besef ek het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ek nie met vooropgestelde prentjies by ander opdaag nie. Help my om altyd seker te maak dat my bril skoon is en só U wil uitleef deur altyd in liefde op te tree. Amen.
Comments