Gedagte vir Vandag
Donderdag, 17 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (5)
Kies die sleutel van die regte Weg
Rom. 1:24-25 – “Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. 25 Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.”
Paulus is vanaf vers 18 besig om te redeneer dat die heidene skuldig voor God staan en voor hy kan aantoon dat verlossing vir hulle ook beskikbaar is, moet hy eers bewys dat hulle almal die Verlosser nodig het. Hoewel hulle nie die voorreg gehad het om toegang tot die openbaringsboeke van die Ou Testament gehad het nie, kon hulle God herken in die natuur. Paulus konfronteer die heidene met die feit dat hulle nie ooreenkomstig hierdie kennis geleef het nie. Hulle het hierdie kennis moedswillig onderdruk deur voort te gaan om in ongeregtigheid te lewe; daarom is hulle onverskoonbaar skuldig aan sonde.
Paulus begin dan ook om die heidene se skuld te bewys deur drie keer te sê dat God hulle “oorgee”. Aan wat gee God hulle oor? Omdat die heidene, (en talle gelowiges ook), nie God as God eer nie, het Hy die mense eerstens oorgegee aan die “drange van hulle hart”.
God is ‘n regverdige God, daarom kan Hy nie toelaat dat mense sy genade vertrap nie. In reaksie het God dan besluit om die mensdom te straf. Maar Hy doen dit op ‘n verrassende manier. As straf gee Hy mense die sleutels van hulle eie lewe – ‘sluit oop’ wat julle wil en doen daarmee wat julle wil, maar dra die gevolge van julle dwaasheid! God laat die mens los om te doen wat hy wil, om te doen wat die mens begeer. Dit is asof God sê: “Julle het gekies om julle eie pad te loop; lóóp dit nou en kyk waar julle pogings om sonder My te leef, julle bring!” Die natuurlike gevolge van hulle dwaasheid tree dan in.
Die vorm van dwaasheid in hierdie geval is nie noodwendig om openlik protes teen God aan te teken nie, maar om in elk geval só te leef asof God nie saak maak nie. En dit geld nie net vir die heidene nie, maar almal. Sulke mense kan goeie mense wees, maar God is nie deel van hulle planne nie – God word nie in hulle ideale in berekening gebring nie. “Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper.”
Is daar iets soos ‘n dwase lewensingesteldheid? ‘n Gedragswetenskaplike Pieter Scholtz sê dat die mens aan so ‘n magdom keuses onderwerp word, dat jy maklik die verkeerde besluite kan neem – dit is menslik – veral sonder God. Van opstaantyd (‘n keuse) tot slaaptyd (ook ‘n keuse) word die pad bepaal wat ons wil loop. Die kanse is goed dat ons op daardie pad dieselfde foute oor en oor sal maak. Wanneer daar egter aanhoudend en doelbewus verkeerde keuses gemaak word, welwetend dat die gevolge ons negatief gaan beïnvloed, word dit dwaasheid.
Waarom maak ons dieselfde foute oor en oor en leer ons nie daaruit nie? Ek lees onlangs hierdie stukkie wat dit miskien kan verduidelik: Ek stap in die straat. Daar is ‘n groot gat in die sypaadjie en ek val daarin. Ek gaan sukkel om daaruit te kom. Dit is nie my skuld nie! Ek stap dieselde pad. Ek maak of ek die gat nie sien nie en val weer daarin, ek kan nie glo dat ek in die gat is nie. Dit is weer nie my skuld nie. Ek stap weer. Ek sien die gat duidelik en wraggies, ek val weer daarin. My oë was wawyd oop, ek weet waar ek is, ek weet van die gat. Dis my skuld. Ek stap weer dieselfde pad maar ek weet van die gat en gaan loop aan die anderkant van die straat.
Wat is die moral of the story? Ek kan nie ander mense blameer vir my foute nie, nie eers vir satan nie. Dis my verantwoordelikheid om die regte keuses te maak – dis mý skuld as ek fouteer! Draai uit vir die gat! Die kiem van dwaasheid wat eintlik neerkom op moedswillige verkeerde gedrag weens herhaalde moedswillige verkeerde keuses, gaan ons elke keer in die gat laat val. Dit tas derhalwe ons hele lewe aan, en tragies genoeg, besmet ander mense naby ons ook. Dit is wat dwaasheid is: om elke dag met ons lewe voort te gaan, vasgevang in ons roetine, sonder om uit die Bron van ons lewe te leef. Wanneer God ons nie meer teen die donker dier van die sonde wat in ons almal sluimer, beskerm nie, vreet daardie sonde-dier ons stukkie vir stukkie op. Onthou, dis my en jou keuse of ons in die gat wil val; of die gat wil vermy!
“God het die mens geweldig ernstig geneem toe Hy besluit het om aan ons die geskenk van ‘n vrye wil te gee. Dit is egter ons keuse om die regte vrye wil te kies” (James Lowell).
Gebed: Here, U weet mos ek is geneig om in dinge wat lekker lyk, in te dons. My keuses lyk altyd op die oog af vir my onskuldig. U weet beter Here, lei my asseblief weg van die paaie wat na die sonde lei. Amen.
Comments